2017-12-14
Genesis 6:8 NLV
Jy vra, ‘Wat is God se guns?’ Dit is wanneer God dit vir jou doen wat jy nie self kan doen nie. Dit maak deure vir geleenthede oop. Dit verander teenstand in ondersteuning. Dit help jou om bevordering te kry, die lys te haal of die ooreenkoms te beklink. Die Bybel sê, ‘En so het Jesus grootgeword en in wysheid toegeneem; en Hy was geliefd by God en almal wat Hom geken het’ (Lukas 2:52 NLV). Dit kan ook met jou gebeur. Dus, in plaas van om tevrede te wees met die vlak van guns wat jy tans geniet, vra God vir ‘n verhoging. Jy vra, ‘Hoe kry ek guns?’ Deur gehoorsaamheid! Dit begin deur jou lewe aan Christus oor te gee: ‘…Die Here gee genade en eer. Hy sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie’ (Psalm 84:12 NLV). God se guns word nie net tot die geestelike ryk beperk nie; dit reik ook tot in die materiële ryk. Dit was in Noag se lewe sigbaar in sy vernuftige uitvindings. Hy het nie net die eerste boot gebou en baanbrekerswerk in die skeepsbou-industrie gedoen nie, hy het ook ‘n wye verskeidenheid patente besit. Volgens Joodse tradisie, het Noag die ploeg, die skoffel, die hark en ‘n hele aantal ander implemente wat in landbou gebruik kon word, uitgevind. Die guns van God is in goeie idees vervat. Dit maak nie saak wat jy doen nie, God wil jou help om dit te doen. Hy wil guns in jou besigheidsplan, jou manuskrip, jou lesplan, jou regsdokument, jou verkoopspraatjie ensovoorts, bewys. Jy moet jouself egter vir hierdie guns posisioneer deur gehoorsaam te wees. As God weet dat Hy die eer sal kry, sal Hy jou bo jou vermoë en hulpbronne seën.
Sielskos: Est 1-4; Joh 19:18-42; Ps 105:23-36; Pred 7:5-8
2017-12-13
Genesis 6:9 AFR53
Wat het deur Noag se gedagtes gegaan toe God vir hom sê om ‘n boot in die middel van droë land te bou? Niemand het dit al vantevore gedoen nie. Tog sê die Bybel, ‘Noag het presies gemaak soos God hom beveel het’ (vers 22 NLV). Hoe het hy dit gedoen? ‘…Noag het met God gewandel.’ Wanneer mens wandel, loop jy tree vir tree. Die moeilikheid is dat ons wil hê dat God die tweede tree moet openbaar voordat ons die eerste tree in geloof neem. Totdat ons egter die eerste tree neem, sal Hy nie die volgende tree openbaar nie. Indien ons meer daarvan wil hê, moet ons gehoorsaam wees aan die maat van openbaring wat Hy gee . Dis hoekom ons geestelik vasgevang word. Ons wil Christus tot op die punt van waar ons al voorheen was, volg – maar nie verder nie. Ons is bang om iets te doen wat ons nog nooit vantevore gedoen het nie, omdat dit ‘n onbekende gebied is. Ons eis dus nie nuwe gawes, nuwe seëninge en nuwe drome op wat God vir ons wil gee nie. Jy moet verby die vrees van die onbekende druk. Jy moet iets anders doen. ‘n Impala kan drie meter hoog en nege meter ver spring, maar kan tog in ‘n kamp met 1,5 meter hoë mure gevange gehou word. Hoekom? Omdat die impala nie sal spring as hy nie kan sien waar hy gaan land nie. Ons het dieselfde probleem. Ons wil ‘n waarborg hê voor ons ‘n sprong in geloof neem, maar dit haal geloof uit die situasie uit. Ons is geroep om ‘…te leef deur te glo en nie deur te sien nie’ (2 Korintiërs 5:7 NLV). Die woord vir jou vandag is dus: Doen wat God vir jou sê.
Sielskos: Gen 50; Hag 1-2; Joh 19:1-17; Ps 18:1-29; Spr 26:24-27
2017-12-12
Hebreërs 11:7 NLV
Noag het die ark gebou omdat God hom beveel het om dit te doen. Dit is waarvoor hy in die lewe geroep was. Vir hom was planke saag en spykers inslaan ‘n daad van gehoorsaamheid. Van begin tot einde, het Noag se daad van gehoorsaamheid 43 800 dae geneem! Met elke dag se daad van gehoorsaamheid, het hy God verheerlik. Maak nie saak watter stuk gereedskap jy in jou beroep gebruik nie – ‘n hamer, ‘n mop, ‘n rugbybal, ‘n kasregister, ‘n mikrofoon, ‘n rekenaar, ‘n koffiemasjien – die gebruik daarvan is ‘n daad van gehoorsaamheid. Dit is die meganisme waarmee jy God loof en prys. Dit is die manier hoe jy doen wat jy veronderstel is om te doen. Die Bybel sê, ‘Verder, doen alles – of dit nou met woorde of dade is – asof julle dit namens die Here Jesus doen. Só is julle heeltyd besig om deur Hom dank aan God die Vader te bring’ (Kolossense 3:17 NLV). Hou op dink dat dit wat jy doen nie belangrik is nie. Daar is ‘n Engelse gesegde wat lui, ‘For want of a nail the shoe was lost. For want of a shoe the horse was lost. For want of a horse the rider was lost. For want of a rider the message was lost. For want of a message the battle was lost. For want of a battle the kingdom was lost. And all for the want of a horseshoe nail.’ In God se oë, is klein dade van gehoorsaamheid iets groots. Wanneer jy met vreugde die klein dingetjies doen asof hulle groot dinge is, sal God groot dinge doen asof hulle klein dingetjies is. Dis hoe sy koninkryk vooruit beweeg. Die woord vir jou vandag is dus: Doen wat God vir jou sê.
Sielskos: Gen 47-49; Joh 18:25-40; Ps 105:8-22; Pred 7:1-4
2017-12-11
Genesis 6:22 NLV
Noag se ark was 300 ellemate lank, 50 ellemate breed en 30 ellemate hoog. ‘n Ellemaat is die ekwivalent van 44.45 cm. Dit beteken dat die ark ongeveer die lengte van een en ‘n half rugbyvelde was. Die interne volume van die ark was 43 000 kubieke meter – die ekwivalent van 569 treinwaens. As die gemiddelde dier die grootte van ‘n skaap was, het dit die kapasiteit vir 125 000 diere gehad. Om dit in perspektief te plaas, is daar 2 000 diere van 365 verskillende spesies by die Johannesburgse Nasionale Dieretuin. Dit beteken dat jy sestig nasionale dieretuine in Noag se ark kon inpas. Omdat dit ook die eerste boot was wat ooit gebou is, het dit nie met aanwysings gekom nie. Dit was rugbrekende werk wat bloed, sweet en trane gekos het. Dit het ‘n wonderbaarlike hoeveelheid geloof geneem om die ark te bou. Wie bou ‘n boot in die woestyn? Wie timmer iets vir 120 jaar aanmekaar wat hulle dalk nie eers gaan nodig kry nie? Wie reken hulle hele toekoms op iets wat nog nooit vantevore gebeur het nie? Volgens Joodse tradisie, het Noag nie net eendag die ark begin bou nie. Hy het eers die bome geplant. Nadat hulle volgroeid was, het hy hulle afgekap, in planke gesaag en die boot gebou. Hier is ‘n interessante brokkie inligting: Eers in die negentiende eeu is daar weer ‘n boot van hierdie grootte gebou. Tog word die ark se ontwerp en ratios steeds as die goue reël vir stabiliteit in storms op see gesien. Noag se daad van gehoorsaamheid het letterlik die wêreld verander. Gehoorsaamheid sal jou wêreld ook verander, doen dus wat God vir jou sê.
Sielskos: Gen 44-46; Joh 18:1-24; Ps 105:1-7; Pred 5:13-16
2017-12-10
Sagaria 4:6 NLV
Serubbabel is geroep om die tempel te herbou. Dit was ‘n massiewe taak, dus het God vir hom gesê, ‘…Nie met mag of krag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige. Wie is jy, grote berg? Voor Serubbabel word jy sommer ‘n gelyk pad!..’ (verse 6-7 NLV). Wanneer God jou roep, moet jy weet: 1) Jy gaan dalk alleen moet stap. Wanneer God jou roep, neem mense dikwels aan dat jy sterk is en niks nodig het nie. Hulle besef nie dat jy net ‘n gewone mens is wat soms vreesbevange is en meer verwonderd oor jou sukses as hulle is nie. Wanneer niemand by jou staan of jou versterk nie, kan jy maklik ontmoedig word. 2) Jy het God se hulp nodig, anders gaan jy moeilikheid kry. Simson het dit ontdek: ‘…Hy het uit die slaap wakker geword en by homself gedink: ‘Ek sal weer uit die ding uitkom soos al die vorige kere.’ Maar hy het nie geweet dat die Here hom verlaat het nie. Die Filistyne het hom vasgebind…’ (Rigters 16:20-21 NLV). God het teruggestaan en vir Simson laat besef dat dit die Here was wat hom sterk gemaak het, nie hyself nie. Jy moet dus in afhanklikheid van God lewe. 3) Dis God se krag, nie joune nie, wat die verskil maak. God se ‘…krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking…’ (2 Korintiërs 12:9 NLV). Jy weet dat jy waarlik gesalf is wanneer God gebroke toerusting neem en bonatuurlike seges daarmee behaal. Dit gebeur egter net wanneer jy sê, ‘Here, ek kan nie sien hoe U dit deur my kan doen nie, maar ek vertrou U om dit te doen.’ Dís wanneer Hy betrokke raak!
Sielskos: 1 Kon 17:17-24; Mark 5:21-43; Joh 11:1-45
2017-12-09
Matteus 23:5 NLV
Jesus het skynheiligheid nie geduld nie, omdat Hy geweet het dat dit mense teen God laat draai. Hy het ons eerder die volgende geleer: 1) Moet geen krediet vir jou goeie dade verwag nie. Geen. As niemand dit opmerk nie, dan is jy nie teleurgesteld nie. As iemand dit opmerk, dan gee jy die eer aan God. Stop en vra jouself die volgende vraag af: ‘As niemand van die goeie goed geweet het wat ek doen nie, sou ek dit steeds doen?’ Indien nie, doen jy dit net vir ‘uiterlike vertoon.’ 2) Gee jou finansiële gawes in die geheim. Geld bring die skynheilige in ons na vore. Ons hou daarvan dat mense sien dat ons dit verdien. Ons hou ook daarvan om gesien te word wanneer ons dit gee. Dus het Jesus gesê, ‘Wanneer jy mense help, mag niemand daarvan weet nie. Jy moet dit stil-stil doen. Jou linkerhand moet nie eens weet wat jou regterhand doen nie…’ (Matteus 6:3-4 DB). 3) Moenie jou geestelikheid vervals nie. Wanneer jy kerk toe gaan, moenie die sitplek kies waar jy gesien kan word nie. As jy jou hande in lofprysing ophef, hef heilige hande op, nie vertonerige hande nie. Wanneer jy praat, moenie jou woordeskat met populêre godsdienstige terme peper nie. Niks maak mens so naar soos ‘n vals ‘Prys die Here,’ of ‘n oppervlakkige ‘Halleluja’ of ‘n onegte ‘Eer aan die Here’ nie. Maak die trompette stil. Kanselleer die optog. As mense jou prys, reflekteer dit op ‘n mooi manier voor jy dit begin glo. Verwoes die begeerte om opgemerk te word. Wakker die begeerte om God te dien aan. Met ander woorde, moenie skynheilig wees nie!
Sielskos: Gen 42-43; Joh 17:1-26; Ps 95; Pred 5:10-12