Doen wat God vir jou sê (4)
2017-12-14Genesis 6:8 NLV
Jy vra, ‘Wat is God se guns?’ Dit is wanneer God dit vir jou doen wat jy nie self kan doen nie. Dit maak deure vir geleenthede oop. Dit verander teenstand in ondersteuning. Dit help jou om bevordering te kry, die lys te haal of die ooreenkoms te beklink. Die Bybel sê, ‘En so het Jesus grootgeword en in wysheid toegeneem; en Hy was geliefd by God en almal wat Hom geken het’ (Lukas 2:52 NLV). Dit kan ook met jou gebeur. Dus, in plaas van om tevrede te wees met die vlak van guns wat jy tans geniet, vra God vir ‘n verhoging. Jy vra, ‘Hoe kry ek guns?’ Deur gehoorsaamheid! Dit begin deur jou lewe aan Christus oor te gee: ‘…Die Here gee genade en eer. Hy sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie’ (Psalm 84:12 NLV). God se guns word nie net tot die geestelike ryk beperk nie; dit reik ook tot in die materiële ryk. Dit was in Noag se lewe sigbaar in sy vernuftige uitvindings. Hy het nie net die eerste boot gebou en baanbrekerswerk in die skeepsbou-industrie gedoen nie, hy het ook ‘n wye verskeidenheid patente besit. Volgens Joodse tradisie, het Noag die ploeg, die skoffel, die hark en ‘n hele aantal ander implemente wat in landbou gebruik kon word, uitgevind. Die guns van God is in goeie idees vervat. Dit maak nie saak wat jy doen nie, God wil jou help om dit te doen. Hy wil guns in jou besigheidsplan, jou manuskrip, jou lesplan, jou regsdokument, jou verkoopspraatjie ensovoorts, bewys. Jy moet jouself egter vir hierdie guns posisioneer deur gehoorsaam te wees. As God weet dat Hy die eer sal kry, sal Hy jou bo jou vermoë en hulpbronne seën.
Sielskos: Est 1-4; Joh 19:18-42; Ps 105:23-36; Pred 7:5-8