2017-12-20
Matteus 18:19 DB
Becky Smith was vier-en-tagtig jaar oud en haar suster Christine was twee-en-tagtig. Die jare het Becky se sig geneem en Christine se liggaam gebuig, sodat hulle nie meer kerk toe kon gaan nie. Tog het die kerk hulle nodig gehad. Hulle het op die eiland, Lewis, langs die kus van Skotland gewoon. ‘n Geestelike donkerheid het op hulle dorpie, Barvas, neergedaal. Die gemeente het mense verloor en die jong mense het die geloof gespot deur te sê dat bekering ‘n plaag is. In Oktober 1949 het die Ring van die Vrye Kerk van Skotland hulle lede gevra om te bid. Wat kon twee bejaarde, huisgebonde susters egter doen? Nogals baie, het hulle uitgevind. Hulle het hulle huisie in ‘n huis van gebed wat deurnag aangehou het, omskep. Van 10:00 nm tot 4:00 vm, twee nagte ‘n week, het hulle God gevra om hulle dorpie genadig te wees. Na verskeie maande het Becky vir Christine gesê dat God die volgende woorde tot haar gespreek het: ‘Want Ek sal jou water gee, genoeg om jou dors te les en jou droë lande nat te lei…’ (Jesaja 44:3 NLV). Sy het haar pastoor aangemoedig om ‘n opwekkingsdiens te hou en die bekende evangelis Duncan Campbell uit te nooi om ‘n praatjie te kom lewer. Toe Campbell weier om te kom, het sy aangehou: ‘God het gesê hy kom en hy sal oor twee weke hier wees.’ Dit het so gebeur! Vyf weke lank het Campbell elke aand vir groot skares gepreek, om 07:00 nm, 10:00 nm, om middernag en 3:00 vm. Sondaars is bekeer, kroeë het as gevolg van ‘n gebrek aan klante toegemaak en die eiland, Lewis, het die teenwoordigheid van God gesmaak – omdat twee vroue in ooreenstemming gebid het.
Sielskos: Job 11-14; Luk 1:26-38; Ps 47; Pred 9:16-18
2017-12-19
Handelinge 16:14 NLV
Sommige van ons dink dat suksesvolle mense moeilik is om vir Christus te wen omdat hulle nie dieselfde behoeftes as ander mense het nie. Hulle het egter. Almal het ‘n leegheid binne in hulle wat net deur God gevul kan word, en Hy wil jou gebruik om dit te vul. Kyk na die verhaal van Lidia. ‘Een van dié wat geluister het, was ‘n vrou met die naam Lidia – iemand wat reeds die ware God vereer het. Sy was ‘n handelaar van pers wolmateriaal en was van die stad Tiatira afkomstig. Die Here het haar hart oopgemaak sodat sy ontvanklik was vir God se boodskap. Sy en die ander lede van haar huishouding is toe gedoop. Daarna het sy ons oorgenooi en gesê: ‘Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom gaan by my tuis.’ En sy het aangehou tot ons ingestem het’ (verse 14-15 NLV). Nie net het Lidia op die evangelie gereageer nie, sy het ook haar huis oopgemaak sodat ander mense ook daarna kon kom luister. Dit is in baie gevalle makliker om suksesvolle mense met die evangelie te bereik. Hoekom? Omdat hulle weet dat sukses daarvan afhang om oop vir nuwe idees en konsepte te wees. Hulle verstaan ook om aan te hou om sukses te behaal, moet hulle oop vir verandering wees. Moenie die feit dat iemand nie jou sosiale eweknie is nie, jou daarvan weerhou om hulle van Jesus te vertel nie. Dis jou werk om hulle van Jesus te vertel en God se werk om hulle harte daarvoor oop te maak! Saai dus die sade van sy Woord in hulle lewens wanneer jy die geleentheid kry en die Koning van die oes sal die res doen.
Sielskos: Job 8-10; Luk 1:11-25; Ps 12; Pred 9:10-12
2017-12-18
Romeine 8:35 NLV
Wanneer jy nie weet hoekom God jou in die eerste plek liefhet nie, is dit maklik om aan sy ewige liefde vir jou te twyfel. Jy wil weet hoe Hy oor jou voel as jy ongeskik optree, wanneer jy humeurig is, wanneer jy verkeerde gedagtes dink of wanneer jou tong skerp genoeg is om deur rots te sny. Jy vra, ‘Hoe voel Hy dan oor my?’ Wanneer slegte dinge gebeur – gee God dan om? Het Hy jou te midde van vrees lief? Is Hy lief vir jou wanneer jy in gevaar verkeer? Met ander woorde, ‘Sal Hy ooit ophou om vir my lief te wees?’ Dis ‘n groot vraag. Miskien het jy hierdie week die lyn oorgesteek. Of miskien het jy so baie gedrink dat jy skaars kon loop. Of jy was besig met iets wat jy glad nie moes doen nie. Of miskien het jy God gevloek omdat jy langs die oop graf van ‘n geliefde moes staan wat jy nie gereed was om te verloor nie. Het jy te ver weggedryf? Het jy te lank gewag? Het jy te ver geval? Was jy te onseker? Kan iets jou van God se liefde skei? Nee, absoluut nie. Paulus verseker ons: ‘Een ding weet ek vas en seker: Niks kan ons ooit van Christus se liefde skei nie. Nie die dood of lewe of engele of duiwelse magte nie; nie ons vrees vir vandag of ons kommer oor môre nie; ook nie bo-aardse magte nie. Ja, hoegenaamd niks daarbo of onder in die dieptes of elders in die skepping sal ons ooit kan skei van die liefde wat God in Christus Jesus ons Here vir ons het nie’ (verse 38-39 NLV).
Sielskos: Job 5-7; Luk 1:1-10; Ps 67; Pred 7:19-22
2017-12-17
1 Timoteus 1:2 NLV
Meeste van die tyd weet ons nie waar deur ander mense gaan of watse probleme hulle het nie. As jy dus besluit om vir hulle te bid, volg Paulus se voorbeeld, waar hy vir God gevra het om vir Timoteus die volgende drie dinge te gee: 1) Onverdiende goedheid. Dit beteken God se genade wat jou die vermoë sal gee om dit te kan hanteer wat ook al oor jou pad kom. Hier is ‘n wonderlike Bybelse belofte waarop jy kan staan in moeilike tye: ‘In sy onverdiende goedheid het God julle geroep om in Christus deel te hê aan sy ewige heerlikheid. Nadat julle vir ‘n kort tydjie swaargekry het, sal Hy julle self weer herstel…’ (1 Petrus 5:10 NLV). 2) Ontferming. ‘n Groot uitgewersmaatskappy het ‘n masjien gehad wat outomaties aan mense kennisgewings gestuur het om hulle daaraan te herinner dat dit tyd was om weer hulle intekening te hernu. Een dag het iets verkeerd gegaan en ‘n boer het 9 734 kennisgewings gekry. Hy het na die naaste poskantoor gery, sy tjek gepos en geskryf, ‘Stuur vir my die tydskrif. Ek gee op!’ Dis hoe God werk. Hy hou aan om vir ons kennisgewings te stuur. ‘…Hy hou nooit op om vir ons om te gee nie. Sy liefde het geen einde nie. Op u ontferming kan ‘n mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut’ (Klaagliedere 3:22-23 NLV). 3) Vrede. Die vrede van God kan ons in die ergste omstandighede dra. God se vrede is ‘…wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:7 NLV). Wanneer jy dus nie seker is hoe om vir iemand te bid nie, vra God om vir hulle sy onverdiende goedheid, ontferming en vrede te gee.
Sielskos: Lev 27:30-33; Num 31:48-54; 1 Kor 16:1-3
2017-12-16
Hebreërs 10:36 NLV
Probeer jou indink hoe die lewe op die ark vir Noag moes wees. Hy het heel moontlik nie genoeg slaap ingekry nie. Hy moes dag in en dag uit duisende diere kos gee, skoonmaak en versorg. Dit moes vreeslik sleg geruik het. Het jy geweet dat olifante tot ses-en-dertig kilogram afval per dag kan produseer? Dit was ‘n stink gemors. Dit is ‘n redelike akkurate prentjie van hoe gehoorsaamheid soms lyk. Dis harde werk, wat moeiliker word. God se seëninge kan jou lewe kompliseer. Anders as sonde, bring dit egter ‘n ongekende sin van vreugde en vervulling mee (sien Spreuke 10:22). Maak nie saak watter visie God vir jou gegee het nie, dit sal langer vat en moeiliker wees as wat jy jou kan indink. Noag laat ons bietjie tot ons sinne kom, nie waar nie? As jy dink ‘n dekade is lank om ‘n Godgegewe passie na te streef, probeer twaalf dekades! Dis wonderbaarlik wat God kan doen as ons net jaar na jaar daaraan werk. Ons neig om dit wat ons in ‘n jaar kan doen te oorskat, maar ons onderskat wat God in ‘n dekade kan bereik. Die sleutel is om beplanning te doen en ‘n ploeteraar te wees. Beplanners sien die toekoms in en het ‘n visie, terwyl ploeteraars een voet voor die ander sit en dag na dag aanhou. Sukses gaan nie net daaroor om te kom waar God jou wil hê nie, dit gaan oor wie jy in die proses word. Dit is om die wenstreep oor te steek soos die apostel Paulus dit gedoen het: ‘Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly’ (2 Timoteus 4:7 NLV). Doen dus wat God vir jou gesê het om te doen.
Sielskos: Job 1-4; Joh 21:1-25; Ps 57; Pred 7:13-15
2017-12-15
1 Korintiërs 1:27 NLV
So lank as wat jy mense se goedkeuring nodig het, word God beperk in dit wat Hy deur jou kan doen. Geloof is die gewilligheid om simpel te lyk. Dit is hoekom geloof hand aan hand met nederigheid gaan. Noag het simpel gelyk deur ‘n boot in die woestyn te bou. Sara het simpel gelyk toe sy op die ouderdom van negentig swangerskapklere gekoop het. Moses het simpel gelyk toe hy die farao gevra het om sy slawe te laat gaan. Die Israelitiese weermag het simpel gelyk waar hulle om Jerigo marsjeer en trompette blaas. Dawid het simpel gelyk waar hy Goliat met ‘n kettie aangeval het. Die wyse manne het simpel gelyk toe hulle ‘n ster gevolg het. Petrus het simpel gelyk toe hy in die middel van ‘n storm uit die boot geklim het. Jesus het weerloos gelyk waar hy halfnaak aan die kruis gehang het. Die resultate spreek egter vir hulself. Noag het die vloed oorleef. Sara het aan Isak geboorte gegee. Moses het die Israeliete uit Egipte gelei. Die mure van Jerigo het ineengestort. Dawid het Goliat verslaan. Die wyse manne het die Messias gevind. Petrus het op die water geloop. Jesus het uit die dood opgestaan. Daar kom ‘n tyd wat jy moet ophou om in die veiligheid van die bekende te bly. Jy moet die ark bou, of ten minste ‘n paar bome plant of planke saag! Geloof is om op te tree asof God alreeds ons gebede beantwoord het, selfs wanneer, soos in Noag se geval, dit 120 jaar neem. Jesus het gesê, ‘Daarom verklaar Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou’ (Markus 11:24 NLV). Wat het God vir jou gesê om te doen? Begin dit doen!
Sielskos: Est 5-10; Joh 20:1-31; Ps 105:37-45; Pred 7:9-12