Doen wat God vir jou sê (6)

2017-12-16
Hebreërs 10:36 NLV

Probeer jou indink hoe die lewe op die ark vir Noag moes wees. Hy het heel moontlik nie genoeg slaap ingekry nie. Hy moes dag in en dag uit duisende diere kos gee, skoonmaak en versorg. Dit moes vreeslik sleg geruik het. Het jy geweet dat olifante tot ses-en-dertig kilogram afval per dag kan produseer? Dit was ‘n stink gemors. Dit is ‘n redelike akkurate prentjie van hoe gehoorsaamheid soms lyk. Dis harde werk, wat moeiliker word. God se seëninge kan jou lewe kompliseer. Anders as sonde, bring dit egter ‘n ongekende sin van vreugde en vervulling mee (sien Spreuke 10:22). Maak nie saak watter visie God vir jou gegee het nie, dit sal langer vat en moeiliker wees as wat jy jou kan indink. Noag laat ons bietjie tot ons sinne kom, nie waar nie? As jy dink ‘n dekade is lank om ‘n Godgegewe passie na te streef, probeer twaalf dekades! Dis wonderbaarlik wat God kan doen as ons net jaar na jaar daaraan werk. Ons neig om dit wat ons in ‘n jaar kan doen te oorskat, maar ons onderskat wat God in ‘n dekade kan bereik. Die sleutel is om beplanning te doen en ‘n ploeteraar te wees. Beplanners sien die toekoms in en het ‘n visie, terwyl ploeteraars een voet voor die ander sit en dag na dag aanhou. Sukses gaan nie net daaroor om te kom waar God jou wil hê nie, dit gaan oor wie jy in die proses word. Dit is om die wenstreep oor te steek soos die apostel Paulus dit gedoen het: ‘Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly’ (2 Timoteus 4:7 NLV). Doen dus wat God vir jou gesê het om te doen.

Sielskos: Job 1-4; Joh 21:1-25; Ps 57; Pred 7:13-15