Doen wat God vir jou sê (5)
2017-12-151 Korintiërs 1:27 NLV
So lank as wat jy mense se goedkeuring nodig het, word God beperk in dit wat Hy deur jou kan doen. Geloof is die gewilligheid om simpel te lyk. Dit is hoekom geloof hand aan hand met nederigheid gaan. Noag het simpel gelyk deur ‘n boot in die woestyn te bou. Sara het simpel gelyk toe sy op die ouderdom van negentig swangerskapklere gekoop het. Moses het simpel gelyk toe hy die farao gevra het om sy slawe te laat gaan. Die Israelitiese weermag het simpel gelyk waar hulle om Jerigo marsjeer en trompette blaas. Dawid het simpel gelyk waar hy Goliat met ‘n kettie aangeval het. Die wyse manne het simpel gelyk toe hulle ‘n ster gevolg het. Petrus het simpel gelyk toe hy in die middel van ‘n storm uit die boot geklim het. Jesus het weerloos gelyk waar hy halfnaak aan die kruis gehang het. Die resultate spreek egter vir hulself. Noag het die vloed oorleef. Sara het aan Isak geboorte gegee. Moses het die Israeliete uit Egipte gelei. Die mure van Jerigo het ineengestort. Dawid het Goliat verslaan. Die wyse manne het die Messias gevind. Petrus het op die water geloop. Jesus het uit die dood opgestaan. Daar kom ‘n tyd wat jy moet ophou om in die veiligheid van die bekende te bly. Jy moet die ark bou, of ten minste ‘n paar bome plant of planke saag! Geloof is om op te tree asof God alreeds ons gebede beantwoord het, selfs wanneer, soos in Noag se geval, dit 120 jaar neem. Jesus het gesê, ‘Daarom verklaar Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou’ (Markus 11:24 NLV). Wat het God vir jou gesê om te doen? Begin dit doen!
Sielskos: Est 5-10; Joh 20:1-31; Ps 105:37-45; Pred 7:9-12