Niks kan jou van God se liefde skei nie
2017-12-18Romeine 8:35 NLV
Wanneer jy nie weet hoekom God jou in die eerste plek liefhet nie, is dit maklik om aan sy ewige liefde vir jou te twyfel. Jy wil weet hoe Hy oor jou voel as jy ongeskik optree, wanneer jy humeurig is, wanneer jy verkeerde gedagtes dink of wanneer jou tong skerp genoeg is om deur rots te sny. Jy vra, ‘Hoe voel Hy dan oor my?’ Wanneer slegte dinge gebeur – gee God dan om? Het Hy jou te midde van vrees lief? Is Hy lief vir jou wanneer jy in gevaar verkeer? Met ander woorde, ‘Sal Hy ooit ophou om vir my lief te wees?’ Dis ‘n groot vraag. Miskien het jy hierdie week die lyn oorgesteek. Of miskien het jy so baie gedrink dat jy skaars kon loop. Of jy was besig met iets wat jy glad nie moes doen nie. Of miskien het jy God gevloek omdat jy langs die oop graf van ‘n geliefde moes staan wat jy nie gereed was om te verloor nie. Het jy te ver weggedryf? Het jy te lank gewag? Het jy te ver geval? Was jy te onseker? Kan iets jou van God se liefde skei? Nee, absoluut nie. Paulus verseker ons: ‘Een ding weet ek vas en seker: Niks kan ons ooit van Christus se liefde skei nie. Nie die dood of lewe of engele of duiwelse magte nie; nie ons vrees vir vandag of ons kommer oor môre nie; ook nie bo-aardse magte nie. Ja, hoegenaamd niks daarbo of onder in die dieptes of elders in die skepping sal ons ooit kan skei van die liefde wat God in Christus Jesus ons Here vir ons het nie’ (verse 38-39 NLV).
Sielskos: Job 5-7; Luk 1:1-10; Ps 67; Pred 7:19-22