2017-12-26
2 Korintiërs 5:7 NLV
Goeie leiers sal vir jou sê dat daar tye is wat hulle onseker is; wanneer hulle nie alles weet wat hulle graag sal wil weet nie. As hulle regtig eerlik is, sal hulle erken, ‘Ek is bly dat die mense wat ek veronderstel is om te lei nie weet hoe baie ek nie weet nie!’ Of jy nou ‘n leier of ‘n volgeling is, die Bybel sê, ‘…ons leef deur te glo en nie te sien nie.’ Kom ons wees egter eerlik; soms weet ons wat God wil hê ons moet doen, maar ons hou nie daarvan nie. Dus bid ons in die hoop dat Hy van gedagte sal verander en dit wat ons wil hê, sal goedkeur. Dit gaan nie gebeur nie. God kan jou nie verder as jou laaste daad van ongehoorsaamheid seën nie. In Hebreërs lees ons, ‘Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom geroep het, gehoorsaam weggetrek na die land wat God vir hom as ‘n erfdeel sou gee. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland’ (Hebreërs 11:8 NLV). Wanneer jy God volg, weet jy die meeste van die tyd nie so baie soos jy graag sou wou weet nie. Daar kom egter ‘n tyd waar jy jou gemaksone moet verlaat en in die rigting moet beweeg wat God vir jou wys. Sal jy die antwoorde op al jou vrae en helderheid oor jou bekommernisse hê? Nee. Net soos jou kar se ligte nie om die volgende hoek kan skyn nie, sal God jou instruksies gee soos jy dit nodig kry. Dit hou jou afhanklik van Hom, help jou om te onthou wie in beheer is en wie die eer vir jou sukses verdien. God se leidings neem ‘n leeftyd om te leer, moet dus nie mismoedig raak nie.
Sielskos: Job 24-28; Luk 2:21-33; Ps 97; Pred 10:15-19
2017-12-25
Johannes 1:29 NLV
Geleerdes stem nie saam oor die presiese datum van Christus se geboorte nie. Hulle weet ook nie of die Geboortekerk in Betlehem, wat daagliks deur pelgrims besoek word, die presiese plek van Jesus se geboorte is nie. Niemand van ons kan verstaan hoe ‘n maagdelike meisie deur die Heilige Gees kon swanger raak nie. Hier is egter die goeie nuus: Jy het nie nodig om te weet wanneer, waar of hoe Jesus gebore is nie, jy het net nodig om te weet hoekom Hy gebore is. ‘God het die mense wêreld só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê’ (Johannes 3:16 NLV). Net vier dinge maak saak: 1) As Christus nie gekom het nie, sou God nie aan ons bekend gewees het nie. 2) As Christus nie gekom het nie, sou ons sondes nie vergewe gewees het nie. Johannes het Hom ‘…die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem,’ genoem. 3) As Christus nie gekom het nie, sou ons gebede onbeantwoord gebly het. In die Bybelse tyd moes ‘n priester namens jou ‘n versoekskrif bring. Jesus is ons Hoëpriester, wat ‘…ten volle met ons swakhede saamvoel, want Hy moes presies dieselfde versoekings as ons trotseer – behalwe dat Hy nie voor die sonde geswig het nie. Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (Hebreërs 4:15-16 NLV). 4) As Christus nie die eerste keer gekom het nie, sou ons geen versekering gehad het dat Hy ‘n tweede keer sal kom om ons saam met Hom na die hemel toe te neem nie.
Sielskos: Jes 7:14; Luk 2:1-20; Mig 5:2-5a; Jes 9:6-7
2017-12-24
Romeine 8:39 NLV
Die eerste Kersfees het God iets wonderbaarliks gedoen. Max Lucado stel dit so: ‘Hy het van die troon opgestaan, sy kleed van lig uitgetrek en Homself in menslike vel toegedraai. Die lig van die heelal het ‘n donker, nat baarmoeder binngegaan. Hy, wie engele prys, het Homself in die plasenta van ‘n plattelander ingenestel, is gebore in die koue nag en het toe op ‘n koei se hooi geslaap. Maria het nie geweet of sy vir Hom melk of eer moet gee nie, dus het sy Hom beide gegee – Hy was, sover sy kon agterkom, honger en heilig. Josef het nie geweet of hy Hom seun of vader moet noem nie. Op die ou einde het hulle Hom Jesus genoem, soos die engel vir hulle gesê het, omdat hulle nie die vaagste benul gehad het wat om die God wat in hulle arms lê, te noem nie.’ Lucado gaan voort: ‘Dink jy nie hulle het gewonder, ‘Wat op aarde doen U, God?’ nie. Of beter gestel, ‘God, wat doen U hier op aarde?’ ‘Kan enigiets veroorsaak dat Ek nie meer vir jou lief is nie?’ vra God. ‘Wonder jy hoe lank My liefde sal aanhou? Vind jou antwoord aan ‘n gesplinterde kruis, op ‘n rotsagtige heuwel. Dis vir My wat jy daar sien, jou Skepper, jou God… Dis hoe baie Ek jou liefhet.’ Paulus vra, ‘Kan enigiets ons ooit van Christus se liefde skei?..’ (vers 35 NLV). Dan antwoord hy sy eie vraag: ‘Ja, hoegenaamd niks daarbo of onder in die dieptes of elders in die skepping sal ons ooit kan skei van die liefde wat God in Christus Jesus ons Here vir ons het nie’ (vers 39 NLV). Dit is waaroor Kersfees gaan!
Sielskos: Ps 103:8-18; Joh 3:16-18; Matt 18:21-35
2017-12-23
Romeine 15:1 NLV
As jy dink dat jy niks van waarde het om aan ander mense te bied nie, oorweeg hierdie woorde van ‘n onbekende digter: ‘One song can spark a moment; one flower can wake a dream. One tree can start a forest; one bird can herald spring. One smile begins a friendship; one handclasp lifts a soul. One star can guide a ship at sea; one word can frame the goal. One vote can change a nation; one sunbeam lights a room. One candle wipes out darkness; one laugh can conquer gloom. One step can start a journey; one word can start a prayer. One hope can raise our spirits; one touch can show you care. One voice can speak with wisdom; one heart can know what’s true. One life can make a difference; you see…it’s up to you.’ Die skrywer Jon Walker sê: “Bemoediging is deel van God se aard. Die Nuwe Testamentiese woord vir bemoediging is dieselfde woord wat Jesus vir die Heilige Gees gebruik wat in ons as ‘n voorspraak, konstante vertrooster, heilige helper, blywende leier en voorsiener van moed bly. Nog ‘n manier hoe God ons bemoedig is wanneer Hy ander gelowiges gebruik om ons aan te moedig. Hierdie gelowiges bied versekering en bevestiging aan diegene wat God se hand in hulle lewens sien werk (sien 1 Tessalonisense 2:3-4); vermaning en gerusstelling aan diegene wat deur beproewings en verdrukkings gaan (sien 1 Tessalonisense 5:14); en versoening en herstel aan diegene wat die pad byster raak (sien Galasiërs 6:1). Terwyl daar baie maniere is om die beste in iemand anders na vore te bring; is net een nodig: ‘…ons …behoort die twyfels en vrese van ons medegelowiges met ‘n sensitiewe geloof in aanmerking te neem…'” Dis hoe ons hulle in geloof versterk. Dis hoe ons mense opbou.
Sielskos: Job 21-23; Luk 1:67-80; Ps 117; Pred 10:10-14
2017-12-22
Romeine 5:2 NLV
Twee mans wat ‘n hospitaalkamer gedeel het, het vriende geword. Die een man se bed was langs die enigste venster in die kamer. Die ander man moes heeltyd plat op sy rug lê. Elke dag het die man by die venster die aktiwiteite en kleur van die buitewêreld beskryf: die park langs die dam, die eende wat swem, kinders wat speel, paartjies wat hand aan hand loop, die horison in die verte. Sy vriend, wat niks hiervan kon sien nie, het geglimlag en dit in sy geestesoog gesien. Op ‘n dag het die man by die venster gesterf en is sy vriend na sy plek toe geskuif. Hy het homself versigtig opgelig om buitentoe te kyk en was verstom om ‘n vaal baksteenmuur te sien. Verward het hy die suster gevra hoekom sy vriend die buitewêreld so mooi en besig beskryf het. Sy het geantwoord, ‘Hy was inderwaarheid blind en kon nie eens die baksteenmuur sien nie. Hy wou jou net bemoedig.’ Paulus het gesê, ‘Ons moet aan die beswil van ons naastes dink en hulle so in hulle geloofslewe help opbou.’ Daar is groot bevrediging daarin om mense te bemoedig, veral as jou eie situasie minder as ideaal is. ‘n Skrywer sê, “‘n Verliefde meisie dink sy is die mooiste vrou in die wêreld omdat haar jongman dit vir haar sê. Wanneer ‘n onderwyser vir ‘n student sê dat hy slim is, werk hy harder en bereik hy meer. Wanneer ‘n ouer vir ‘n kind sê dat sy geliefd is, het sy die selfvertroue om vir die sterre te reik. Aan die ander kant, kan ‘n dokter wat vir ‘n pasient sê dat hy terminaal siek is, die sterfproses bespoedig.” Woorde is kragtig; gebruik joune om ander mense op te bou.
Sielskos: Job 18-20; Luk 1:57-66; Ps 113; Pred 10:5-9
2017-12-21
Romeine 16: 1-2 NLV
Jou kerk het gemeentelede nodig wat daaraan toegewyd is om mekaar te ondersteun en aan te moedig. Mense soos Febe, wat volgens Paulus ‘…al baie gelowiges ondersteun het…’ Die Bybelse geleerde, H.F. Moule, het Febe as ‘n ‘kampioen, wat vir ander opgestaan het, ‘n toegewyde, moedige vriendin vir bekeerlinge in die moeilikheid, wat die strydgevegte van protes gestry het waar sy onderdrukking teëgekom het,’ beskryf. Dis ‘n lywige taak! In vandag se ‘Ek-Generasie’ is nie baie mense gewillig om so ‘n taak aan te pak nie. Die waarheid is dat daar nie ‘n groter belegging as in mense is nie. Wanneer jy in ‘n ander persoon belê, gee jy jouself ‘n geskenk, omdat jy nie hulle pad kan belig sonder om jou eie pad te verlig nie. Die goddelike beloning weeg ook meer as enige aardse beloning: ‘Julle weet mos dat die Here elke mens wat sy werk goed doen, sal beloon…’ (Efesiërs 6:8 NLV). Soos een pastoor opgemerk het: ‘Jy het iets wat niemand anders kan gee nie. Dink daaraan hoe om iemand anders se lewe beter te maak. Wie kan jy ondersteun en versterk? Iemand het vandag bemoediging nodig. Iemand het nodig om te weet dat jy in hom glo, dat jy daar is vir hom, dat jy dink hy het wat dit benodig om sukses te behaal. As jy terugkyk, is die kans goed dat iemand anders ‘n belangrike rol gespeel het om jou te help om te kom waar jy vandag is. ‘n Ouer of ‘n onderwyser wat vertroue in jou gehad het. ‘n Baas wat jou in ‘n hoër posisie aangestel het as waarvoor jy gekwalifiseerd gevoel het. Iemand wat meer in jou gesien het as wat jy in jouself gesien het.’ Dis nou jou beurt!
Sielskos: Job 15-17; Luk 1:39-56; Ps 128; Pred 10:1-4