Klim hierdie jaar uit jou gemaksone uit (1)

2018-01-01
Jesaja 41:10 NLV

Twee van ons grootste vrese is mislukking en kritiek. Hierdie vrese verdwyn nooit heeltemal nie. Jy kan hulle oorkom, maar hulle sal weer hul verskyning maak sodra jy voor jou volgende uitdaging te staan kom. Dis eers wanneer jy vrees as deel van die lewensreis aanvaar dat jy leer om dit te oorkom. As jy terugkyk na wat jy reeds oorkom het, sal jy besef dat mislukking die meeste van die tyd nie permanente skade doen nie – jy word inderwaarheid sterker. As jy dus vandag angstig is, sê God vir jou, ‘Moenie bang wees nie, want Ek is by jou…’ Vertrou dus op Hom! ‘n Onbekende digter het geskryf: ‘Ek het ‘n gemaksone gehad waar ek geweet het dat ek nie kan misluk nie; dieselfde vier mure was meer soos ‘n tronk. Ek wou so graag die dinge doen wat ek nooit vantevore gedoen het nie, maar het eerder in my gemaksone gebly. Ek het vir myself gesê dat dit nie saakmaak dat ek nie veel doen nie; ek het gesê dat ek nie oor dinge soos drome en doelwitte omgee nie. Ek het vir myself gesê dat ek vreeslik besig is met dinge in my sone, maar diep binne in my het ek na iets spesiaals van my eie verlang. Ek kon nie my lewe laat verbygaan deur net toe te kyk hoe ander mense wen nie; ek het my asem opgehou, uit my sone getree en die verandering laat begin. Ek het ‘n tree geneem en met nuwe krag, wat ek nog nooit gevoel het nie, my gemaksone totsiens gesoen en toe die deur toegemaak en gesluit. As jy in ‘n gemaksone is, bang om daaruit te klim, onthou dat alle wenners eens op ‘n tyd met twyfel gevul was.’

Sielskos: Rom 13:12-14:19; Joh 1:1-14

Nuwejaarsvoorneme

2017-12-31
Filippense 3:13 NLV

Wees eerlik: Hoeveel van verlede jaar se nuwejaarsvoorneme het jy nagekom? Daar word gesê dat uitstel die dief van tyd is. Ons hou aan om onsself te belowe dat ons beter sal doen. Voornemens vind egter net plaas as jy vasberade is. Hier is vier voornemens wat jy vasbeslote moet wees om in hierdie nuwe jaar na te kom: 1) Neem tyd vir dit wat regtig saak maak. Staan vroeër op om jou Bybel te lees en te bid voor jy die nuwe dag binnegaan. Maak meer tyd vir jou familie. Begin oefen en eet reg. Sorg beter vir jou liggaam; dis God se tempel (sien 1 Korintiërs 6:19). 2) Pak een ding op ‘n slag aan. Om te veel dinge op een slag te probeer doen, verdun jou fokus en maak dit moeiliker om dinge klaar te maak. Wanneer jy te veel dinge begin, maak jy te min klaar. Begin dus waar jy is en bou op jou suksesse deur een ding op ‘n slag te bemeester en te handhaaf. 3) Begin klein. Moenie die hele toebroodjie in een hap probeer insluk nie, neem babatreetjies. Praat in terme van wat jy gaan doen in plaas van wat jy nie gaan doen nie. Byvoorbeeld, in plaas van om te sê, ‘Ek gaan nie so krities wees nie,’ probeer om te sê, ‘Vandag gaan ek iets goeds in almal wat ek ontmoet, probeer sien’ (sien Filippense 4:8). 4) Skryf jou vordering of gebrek daaraan neer. Jy kan nie beheer wat jy nie kan meet nie. Deur die waarheid voor jou te sien, kan jy weet hoe ver jy al gekom het en waaraan jy nog moet werk. Die Bybel sê, ‘…Werp jouself in jou werksaamhede sodat almal jou vordering kan sien’ (1 Timoteus 4:15 NLV).

Sielskos: Job 40-42; Luk 3:21-38; Ps 119:97-104; Spr 9:10-12

Die oop-deur beleid

2017-12-30
Handelinge 16:10 NLV

Die Bybel sê: ‘Hulle het daarna deur die streke van Frigië en Galasië gereis omdat hulle deur die Heilige Gees verhinder is om die woord op daardie stadium in die provinsie Asië te verkondig. Toe hulle naby Misië kom, het hulle Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie. Hulle het toe deur Misië gereis na Troas toe. Daar het Paulus in die nag ‘n visioen gehad. Hy het ‘n Masedoniese man gesien wat hom staan en smeek: ‘Kom oor na Masedonië toe en help ons.’ Nadat Paulus die visioen gesien het, het ons onmiddellik Masedonië toe vertrek omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie daar te verkondig’ (verse 6-10 NLV). God het ‘n ‘oop-deur beleid.’ Wanneer Hy ‘n deur oopmaak, is jy veronderstel om daardeur te loop. Let egter op dat toe God Paulus daarvan weerhou het om in Asië in te gaan, het hy nie rondgehang en gevra, ‘Hoekom, Here?’ nie. Hy het aanhou beweeg. Vir Paulus was dit niks snaaks om iets te probeer en dan werk dit nie uit nie. Hy het geglo dat sy gawe aan God sy gewillige hart is; en God se gawe aan hom was dat Hy hom altyd sou lei waarheen hy moes gaan. Dit wat God voorkom is net soveel goddelike leiding as dit wat Hy toelaat. Elke deur wat nie oopgaan nie, elke geleentheid wat jy nie kry nie en elke oproep wat nie deurkom nie is net soveel God se leiding as die wat doen. Die wete dat jy nie kan bly waar jy nou is nie mag dalk die beginpunt van God se leiding in jou lewe wees. Hierdie leiding begin dikwels met ‘n roering en ‘n rusteloosheid in jou siel.

Sielskos: Job 38-39; Luk 3:11-20; Ps 27; Pred 12:13-14

Beskerm deur die bloed van Jesus

2017-12-29
Openbaring 12:11 NLV

Irene Park het ‘n toegewyde Christen geword. Haar verhaal is merkwaardig. Sy was eens op ‘n tyd ‘n heks in die staat van Florida, wat seuns en meisies verlei het om in okkultiese aktiwiteite deel te neem. Sy het gesê dat sy nooit die kinders kon bereik wie se ouers hulle beskerm het deur vir hulle in die naam van Jesus te bid nie, wat die bloed van die Lam oor hulle kinders uitgespreek het nie. Vandag het die okkulte plek in ons publieke skole ingeneem onder die masker van vrye spraak. As ouer, moet jy daaroor bekommerd wees! Dis wys om jou kind ‘n selfoon te gee sodat hy of sy met jou in kontak kan bly. Die kragtigste beskerming wat jy egter vir hulle kan gee is om vir hulle in die naam van Jesus te bid en die beskerming van die bloed van Jesus oor hulle af te bid. Jesus het Satan aan die kruis verslaan. Vandag sê Hy vir jou, ‘My oorwinning is jou oorwinning en my outoriteit is jou outoriteit – gebruik dit!’ Jy moet die bestaan van die duiwel erken, maar jy moet hom nie vrees nie, ‘…omdat die Gees wat in julle woon, magtiger is as die gees wat in die wêreld woon’ (1 Johannes 4:4 NLV). Om die bestaan van Satan te ontken of sy mag te onderskat, gee hom voordeel bo jou. God het egter vir jou ‘n sleutel gegee om Satan se mag in jou lewe te oorkom: ‘En hulle het hom self oorwin op grond van die bloed van die Lam en die boodskap waaroor hulle getuig het…’ Begin om te getuig wat die bloed van Jesus namens jou gedoen het. Wanneer jy dit doen, sal jy in oorwinning begin leef.

Sielskos: Job 35-37; Luk 3:1-10; Ps 116; Pred 11:7-10

Dra vrugte en deel vrugte

2017-12-28
Matteus 7:20 NLV

Wanneer ons van die ‘vrugte van die Gees’ praat, praat ons van hierdie nege karaktereienskappe: ‘…liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing…’ (Galasiërs 5:22-23 NLV). Hierdie vrugte is nie net vir vertoon nie, hulle is daar om gedeel te word. Veronderstel jy ry na ‘n padstal toe met die doel om vars groente te koop. Jy sien vars tamaties, pampoen, komkommer, spinasie en ‘n wye verskeidenheid ander groente – alles wat jy nodig het en meer. Net soos jy begin om vir jou groente uit te kies, staan die boer wie se padstal dit is nader en sê, ‘Jammer, hierdie groente is nie te koop nie. Ek geniet dit net om hulle te groei en dan te kyk hoe hulle vrot word. Dan gooi ek dit weg.’ Huh? Jy het in alle waarskynlikheid nog nooit so ‘n absurde situasie teëgekom nie en sal ook sekerlik nooit. Dis omdat boere en klante weet dat groente daar is om geëet te word. Ja, hulle is mooi om na te kyk, maar God het hulle geskep met die doel om mense te voed en hulle gesond te hou. As ons slegs kerk toe gaan en oor die vrugte preek, die vrugte analiseer en mekaar se vrugte ondersoek, misluk ons klaaglik. Dis nie net genoeg om vrugte voort te bring nie, ons moet ook die vrugte met ander mense deel, sodat hulle geseën kan word en deur die koninkryk van God verander kan word. Paulus skryf, ‘want ons is God se handewerk. Hy het ons in ons verhouding met Christus Jesus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe’ (Efesiërs 2:10 NLV). Om vrugte te dra en vrugte te deel, is twee kante van dieselfde munt.

Sielskos: Job 32-34; Luk 2:41-52; Ps 139:13-24; Pred 11:4-6

Sê ja vir God

2017-12-27
Jesaja 6:8 NLV

William Carey word ‘die vader van moderne sendingreise’ genoem. Sy hoeveelheid prestasies in Indië is egter amper deur die hoeveelheid struikelblokke wat hy moes oorkom om daar te kom, geëwenaar. ‘n Groep predikers het vir hom gesê, ‘As God die heidene wil red, jongman, sal Hy dit sonder jou hulp of ons s’n doen.’ Carey was nie ‘n sendeling van beroep nie. Hy was ‘n jong Engelsman met slegte gesondheid, ‘n swanger vrou en klein kindertjies. Hy was net soos die res van ons wat met ons finansies probeer uitkom het en ‘n lewe probeer maak het. Hy het egter iets anders gehad, ‘n brandende vraag waarvan hy nie kon ontsnap nie: ‘Wie sal die verlorenes in Indië bereik, as ek nie gaan nie?’ Toe hy terugkyk, het Carey besef dat die struikelblokke wat hy tuis moes oorkom, hom voorberei het om in sy Godgegewe taak oorsee sukses te behaal. Dieselfde ding het met die profeet Jesaja gebeur. “Toe het ek die Here hoor vra: ‘Wie kan Ek met ‘n boodskap na my volk toe stuur? Wie sal vir ons gaan?’ Ek het geantwoord: ‘Here, ek sal gaan! Stuur my!’ Hy het gesê: ‘Ja, gaan…'” (verse 8-9 NLV). Voor Jesaja gereed was om te gaan, het hy ‘n lewensveranderende ontmoeting met God nodig gehad. “Toe het een van die serafs na die altaar toe gevlieg en ‘n gloeiende kool met ‘n tang opgetel. Hy het my lippe aangeraak en gesê: ‘Kyk, hierdie kool het jou lippe aangeraak. Nou is jou skuld weg en jou sondes vergewe'” (verse 6-7 NLV). Voel jy asof God jou voorberei en jou gereed maak om jou te stuur? As dit die geval is, sê ja.

Sielskos: Job 29-31; Luk 2:34-40; Ps 139:1-12; Pred 10:20-11:3