Beweeg nader aan God

2018-01-07
Jakobus 1:7-8 AFR83

Die planeet Mercerius is warm, teenoor Pluto wat koud is. Dit is omdat Mercurius naby aan die son is en Pluto baie verder weg is. ‘n Planeet se temperatuur en klimaat word deur sy afstand van die son bepaal. Daar is ‘n belangrike geestelike beginsel hieruit te leer. As ‘n verloste kind van God, word jou geestelike temperatuur deur jou nabyheid aan Jesus bepaal. Jy sê, ‘Ek wens ek was nader aan die Here.’ Die waarheid is dat jy so naby aan Hom is soos jy begeer om te wees, besluit om te wees en jouself dissiplineer om te wees. Jou najaging van God openbaar jou passie vir God – of die gebrek daaraan. Om ware intimiteit met iemand te aanvaar, moet jy gewillig wees om ander dinge op te offer en jouself ten volle aan daardie persoon te gee. Die Psalmdigter het geskryf: ‘Ek sê elke dag vir myself: Jy moet die Here dien. Soek na sy teenwoordigheid. Daarom aanbid ek U, Here’ (Psalm 27:8 DB). Jy sal oplet dat die Psalmdigter nie sê dat jy God se gawes moet soek nie, maar sy teenwoordigheid! Nie die gawes nie, maar die Gewer van gawes! ‘n Wonderlike ding gebeur wanneer jy dit doen: ‘As jy gelukkig voel omdat jy aan die Here behoort, dan sal Hy vir jou alles gee wat jy wil hê. Jy moet glo dat die Here jou op jou pad sal lei en dat Hy sal doen wat Hy belowe het. As jy dit glo, dan sal Hy dit doen’ (Psalm 37:4-5 ABA).

Sielskos: Eks 20:1-3; Deut 6:1-9; Mark 12:28-34; Op 2:1-7

Sleutels tot Bybelstudie (3)

2018-01-06
Matteus 7:24 NLV

Sekere produkte kom met ‘n waarskuwing: ‘Pasop! Hierdie produk kan jou gesondheid benadeel!’ In plaas van om jou te help, kan sekere soorte Bybelstudie jou eintlik seermaak. Die Bybel sê, ‘…Kennis laat ‘n mens belangrik voel…’ (1 Korintiërs 8:1 NLV). Teen die tyd wat ‘n Fariseër ingeseën is, kon hy ure en ure se wette uit die Ou Testament opsê. Tog het Jesus gesê dat die Fariseërs soos witgepleisterde grafte is; gevul met dooie bene. Satan ken die Skrif so goed dat hy dit kon aanhaal toe hy Jesus in die woestyn versoek het. Wat is Satan se hoofkwaliteit? Trots. Dit is die sonde wat veroorsaak het dat hy uit die hemel gegooi is. Die hele punt daarvan om die Skrif te bestudeer is om jou meer afhanklik van God te maak en jou die regte lewensbenadering te gee. Mense lees die Skrif hoofsaaklik om drie redes: 1) Om bewyse te kry wat hulle sienswyse ondersteun. 2) Om beloftes te kry wat op hulle spesifieke behoeftes van toepassing is. 3) Om beginsels te ontdek om volgens te lewe. As jy wys is sal jy ‘n lid van die derde groep wees. Jesus het gesê, ‘Elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, is soos ‘n verstandige persoon wie se huis op soliede rots gebou is.’ Wanneer die storms van die lewe opdaag, het die wyse man se huis stewig gestaan terwyl die dwase man – die een wat nie dit wat hy geweet het uitgeoefen het nie – se huis ineengestort het. Bykomende kennis bring meer verantwoordelikheid mee. As jy dus nie beplan om die kennis wat jy uit jou Bybelstudie kry toe te pas nie, is dit beter dat jy glad nie die Bybel bestudeer nie.

Sielskos: Lev 5-7; Matt 5:1-12; Ps 10:12-18; Spr 1:17-19

Sleutels tot Bybelstudie (2)

2018-01-05
[three_fourth_las Psalm 119:18 NLV

Hier is ‘n paar waardevolle sleutels om meer uit jou Bybelstudietyd te kry: 1) Vra vrae. Hoe meer vrae jy vra, hoe meer sal jy daaruit kry. Aan wie is hierdie geskryf? Wat was die skrywer se situasie? Wat is die kernboodskap wat die skrywer wou oordra? Terwyl jy sulke vrae vra, sal jy dinge ontdek wat jy oorgesien het of nooit vantevore raakgesien het nie. Die Psalmdigter was ‘n mediteerder en ‘n in-diepte student van God se Woord. Dit is hoekom hy gebid het, ‘Maak oop my oë sodat ek die wonders kan sien wat opgeskryf is in u gebooie.’ 2) Skryf die antwoorde neer. Die doel daarvan om vrae te vra is om antwoorde te kry. Dawson Trotman het gesê, ‘Gedagtes ontknoop wanneer dit deur die lippe en vingerpunte reis.’ Hou dus jou notaboek gereed en skryf die stukkies waarhede wat God jou gee, neer. As jy dit nie doen nie, sal jy hulle verloor. 3) Moet dit nie net ontdek nie, doen dit! Die evangelis D.L. Moody het gesê, ‘Die Bybel is nie gegee om ons kennis te vermeerder nie, maar om ons lewens te verander.’ Jakobus het geskryf, ‘Julle moet mense word wat dóén wat die Woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie…’ (Jakobus 1:22 NLV). Vra jouself af, ‘Watter sienswyses moet ek verander? Wat moet ek ophou om te doen en wat moet ek begin doen? Wat moet ek begin glo, of ophou glo? Aan watter verhoudings moet ek werk? Hoe moet ek ander mense bedien?’ Moenie na jou Bybel toe gaan met die idee om ‘n waarheid te ontdek wat niemand nog ooit gesien het, of iets om ander mense mee te beïndruk nie. Vind uit wat God vir jou sê.

Sielskos: Lev 1-4; Matt 4:12-25; Ps 10:1-11; Spr 1:10-16

Sleutels tot Bybelstudie (1)

2018-01-04
Psalm 119:65 NLV

Die Psalmdigter het geskryf, ‘Selfs volmaaktheid het sy perke, maar U gebooie ken geen grense nie.’ Dit beteken dat jy elke keer wat jy ‘n Skrifgedeelte lees, iets anders daarin sal sien. Dit is soos ‘n lig wat op ‘n diamant skyn. Elke keer wat jy die diamant effens draai, sal jy ‘n ander faset van sy skoonheid sien. Dis hoekom die Bybel anders is as enige boek wat jy ooit sal lees. Jy sal dinge oor God uit persoonlike ervarings en deur na ander mense se gedagtes en ervarings te luister, leer, maar jy sal Hom beter as op enige ander manier leer ken wanneer jy sy Woord lees. Jy kan dieselfde Skrifgedeelte oor en oor bestudeer, dit analiseer, dit los vir drie of vier maande en wanneer jy daarna terugkom, sal jy nog meer daarin vind. Die sleutel is: Hou aan! Daar is geen beperking op die aantal vrae wat jy kan vrae, geen beperking op die observasies en toepassings wat jy kan maak nie. Moet dus nie opgee nie! Die beste benadering wat jy in Bybelstudie kan hê, is die een wat Jakob gehad het toe hy met die engel van die Here gestoei het: ‘…Ek sal jou nie laat gaan nie tensy jy my seën’ (Genesis 32:26 NLV). Gevolglik het God vir hom ‘n nuwe naam, ‘n nuwe geaardheid, ‘n nuwe manier van stap en ‘n nuwe toekoms gegee. Bybelstudie het geen kortpaaie nie; dit vereis inspanning. As jy egter ywerig en geduldig is, sal jy groot beloning ontvang. As jy eers die vreugde en bevrediging ervaar wanneer jy ‘n groot geestelike waarheid op jou eie ontdek en dit in jou lewe toepas, sal jy nooit weer Bybelstudie op dieselfde manier benader nie.

Sielskos: 2 Tess 1-3; Matt 4:1-11; Ps 90:7-17; Spr 1:5-9

Belê hierdie jaar wat God jou gegee het

2018-01-03
Romeine 14:10 NLV

Die oordeelsdag sal deur twee dinge gekarakteriseer word: beloning en berou! Jesus verwys hierna in die verhaal van die drie slawe wat elk munte ontvang het om vir hulle eienaar te belê. Die eerste twee slawe het dit goed belê en is daarvoor beloon, terwyl die derde slaaf sy munte begrawe het en daarvolgens geoordeel is. Die eerste twee het hulle opsies oorweeg, na die syfers gekyk en die risiko geneem. Gevolglik het hulle eienaar gesê, ‘…Uitstekend! Jy is ‘n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak…’ (Matteus 25:21 NLV). God beloon egter nie dwaasheid nie. Voor jy dus iets doen, bespreek dit eers met Hom (sien Spreuke 3:5-6). Die derde slaaf het egter gesê, ‘Daarom was ek te bang om iets te waag en het maar liewer u muntstuk in die grond gaan wegsteek…’ (Matteus 25:25 NLV). Hy het die algemeenste en tragiese fout, wanneer dit by gawes kom, gemaak: Hy het nie sy meester daarmee bevoordeel nie. Sommige mense belê hulle talente en gee aan God die eer, terwyl ander hulle talente misbruik en Hom verdrietig maak. Sommige mense eer Hom met ‘vrugte’, terwyl ander Hom met verskonings beledig. Hoe voel God oor sulke mense? ‘En daardie nikswerd slaaf – gooi hom uit in die donkerte daar buite…’ (Matteus 25:30 NLV). Vrees is die teenoorgestelde van geloof, en ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel…’ (Hebreërs 11:6 NLV). Neem dus hierdie jaar ‘n tree in geloof; God sal jou nie in die steek laat nie. Selfs as jy op pad na sukses struikel, sal Hy jou aanmoedig om aan die dag te dink wanneer jy sy hand op jou skouer sal voel en sal hoor: ‘…Uitstekend! Jy is ‘n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak…’

Sielskos: 1 Tess 4-5; Matt 3:11-17; Ps 90:1-6; Spr 1:1-4

Klim hierdie jaar uit jou gemaksone uit (2)

2018-01-02
Deuteronomium 31:6 NLV

Onmoontlik soos dit dalk mag klink, wou Israel na hulle ou lewens van slawerny in Egipte terugkeer sodra hulle struikelblokke in die woestyn teëgekom het. Die sekuriteit van die bekende was minder bedreigend as die uitdagings van die onbekende. Dus het die Here vir hulle, nie een keer nie, maar twee keer, gesê, ‘Wees sterk en hou moed. Moenie vir hulle bang wees nie! Die Here julle God sal met julle wees. Hy sal julle nie in die steek laat nie en julle nie verlaat nie.’ Hoekom het Hy dit gesê? Omdat jy jou vrees oorkom wanneer jy aksie neem! Wanneer jy jou vrese uitdaag, bemeester jy hulle. Wanneer jy met jou probleme stoei, verloor hulle hul greep op jou. Wanneer jy dit waag om die dinge wat jou bang maak te konfronteer, maak jy ‘n deur in die toekoms oop. ‘n Wyse man het een keer gesê, ‘Pak die bul by die horings tot hy om genade skree.’ Omtrent elke man en vrou in die Bybel wat God geroep het om groot dinge te doen, het sonder uitsondering onvoldoende gevoel en het dit vir Hom gesê. Hoe het God dan gereageer? ‘…Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek hou jou vas met my reddende regterhand’ (Jesaja 41:10 NLV). John Mason skryf: ‘Die begeerte vir sekuriteit staan reg teenoor elke groot droom. Sekuriteit bring dikwels die eerste tree tot stilstand. Moedigheid in visie is die eerste, tweede en derde belangrikste ding. As jy niks waag nie, moet jy niks verwag nie.’ Plaas God dus in die geleentheid of struikelblok wat jou vandag in die gesig staar. Met Hom aan jou sy is dit wat jy het altyd groter as dit wat jy kortkom.

Sielskos: 1 Tess 1-3; Matt 3:1-10; Ps 116; Pred 12:13-14