Klim hierdie jaar uit jou gemaksone uit (2)

2018-01-02
Deuteronomium 31:6 NLV

Onmoontlik soos dit dalk mag klink, wou Israel na hulle ou lewens van slawerny in Egipte terugkeer sodra hulle struikelblokke in die woestyn teëgekom het. Die sekuriteit van die bekende was minder bedreigend as die uitdagings van die onbekende. Dus het die Here vir hulle, nie een keer nie, maar twee keer, gesê, ‘Wees sterk en hou moed. Moenie vir hulle bang wees nie! Die Here julle God sal met julle wees. Hy sal julle nie in die steek laat nie en julle nie verlaat nie.’ Hoekom het Hy dit gesê? Omdat jy jou vrees oorkom wanneer jy aksie neem! Wanneer jy jou vrese uitdaag, bemeester jy hulle. Wanneer jy met jou probleme stoei, verloor hulle hul greep op jou. Wanneer jy dit waag om die dinge wat jou bang maak te konfronteer, maak jy ‘n deur in die toekoms oop. ‘n Wyse man het een keer gesê, ‘Pak die bul by die horings tot hy om genade skree.’ Omtrent elke man en vrou in die Bybel wat God geroep het om groot dinge te doen, het sonder uitsondering onvoldoende gevoel en het dit vir Hom gesê. Hoe het God dan gereageer? ‘…Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek hou jou vas met my reddende regterhand’ (Jesaja 41:10 NLV). John Mason skryf: ‘Die begeerte vir sekuriteit staan reg teenoor elke groot droom. Sekuriteit bring dikwels die eerste tree tot stilstand. Moedigheid in visie is die eerste, tweede en derde belangrikste ding. As jy niks waag nie, moet jy niks verwag nie.’ Plaas God dus in die geleentheid of struikelblok wat jou vandag in die gesig staar. Met Hom aan jou sy is dit wat jy het altyd groter as dit wat jy kortkom.

Sielskos: 1 Tess 1-3; Matt 3:1-10; Ps 116; Pred 12:13-14