2018-01-13
Spreuke 10:22 NLV
Toe die bekende uitgewer William Randolph Hearst ‘n artikel oor ‘n sekere skildery gelees het, wou hy baie graag die skildery by sy versameling voeg. Hy het mense regoor die wêreld gestuur om daarna te soek, maar hulle kon dit nêrens kry nie. ‘n Jaar later, uit die bloute, het een van sy werknemers vir hom kom sê dat hulle die skildery opgespoor het. Opgewonde oor die ontdekking, het Hearst gevra waar die skildery al die tyd was. Sy werknemer het geantwoord, ‘In jou kelder. Dit was al die tyd in jou besit.’ Die probleem was dat Hearst nooit die register waarin al sy besittings opgeskryf was, gelees het nie. Jou Bybel is ‘n register gevul met seëninge wat God wil hê jy moet ervaar. Geen van hierdie seëning is groter as die seën van verlossing nie, maar dis nie die enigste seën nie. ‘Dit is die Here se seën wat rykdom bring. Hy gee nie hartseer daarmee saam nie.’ John D Rockefeller het een keer gesê dat hy sy hele fortuin sal verruil vir die geleentheid om terug te gaan en as klerk in sy ou kantoor in Cleveland, Ohio te werk. Hoekom? Omdat dit ‘n tyd was voordat hy aan maagsere, slaaploosheid en depressie gely het. Die seën van God bring sukses sonder stres mee! God vertel jou daarvan in sy Woord. Hy wil hê dat jy ‘ryk’ in jou verhoudings, jou gesondheid, jou vreedsame gemoedstoestand, jou beroep en alles wat op jou betrekking het, moet wees. Begin dus uitvind wat God aan jou belowe het en bid en glo Hom dan daarvoor.
Sielskos: Lev 21:1-23:25; Matt 6:19-34; Ps 71:17-24; Spr 2:3-5
2018-01-12
2 Korintiërs 5:16 NLV
As jy geneig is om net met ‘jou eie soort’ om te gaan, dink hieroor na: ‘Van nou af beoordeel ons niemand meer volgens ‘n menslike maatstaf nie…’ Jesus het kilometers uit sy pad gegaan om ‘n Samaritaanse vrou by ‘n put te ontmoet. Vanuit ‘n kulturele en godsdienstige siening, was dit ‘n slegte idee. Eerstens, was sy al vyf keer geskei en het ‘n slegte reputasie gehad. Tweedens, was sy ‘n nie-Jood. In daardie dae kon Jode nie water drink of kos eet wat van ‘n nie-Jood af kom nie. Joodse geneeshere kon nie na nie-Joodse pasiënte omsien nie. Jode het inderwaarheid na nie-Jode as ‘onrein’ verwys en geglo dat hulle ook onrein sou word as hulle met hulle sou meng. Jesus het egter niemand uitgesluit nie: ‘En die Woord het mens geword en by ons kom woon…’ (Johannes 1:14 NLV). Jesus het melaatses aangeraak, vreemdelinge liefgehad en so baie tyd met partytjiegangers spandeer dat godsdienstige leiers hom ‘…’n vraat en ‘n dronklap, ‘n vriend van die liederlikste sondaars…’ (Matteus 11:19 NLV), genoem het. Jesus het nie mense tipeer nie; Hy het hulle liefgehad. Wanneer jy Hom volg, wys Hy jou vooroordele uit en sorg dat jy hulle hanteer. Dis omdat Hy die manier wat jy na ander mense kyk, wil verander, dat jy hulle nie as Jode of nie-Jode, binnestaanders of buitestaanders, liberales of konserwatiewes, ens sal sien nie. ‘Van nou af beoordeel ons niemand meer volgens ‘n menslike maatstaf nie…’ Vandag mag jy mense teëkom wat soos die vrou by die put deur die samelewing weggegooi is. Hulle is dalk uit die kerk gegooi of deur die kerk ontnugter. Jy sal die kans hê om hulle óf te tipeer, óf lief te hê. Eer God – en wees lief vir hulle!
Sielskos: Lev 18-20; Matt 6:9-18; Ps 71:1-16; Spr 2:1-2
2018-01-11
Kolossense 3:16 NLV
Daar word ‘n verhaal vertel van ‘n paartjie wat besluit het om saam eende te gaan jag. Hulle het gehoor dat hulle ‘n goeie jaghond gaan nodig kry dus het hulle een gaan aanneem. Hulle het ook gehoor dat hulle ‘n goeie jaggeweer gaan nodig kry, dus het hulle een by die winkel gaan koop. Toe het hulle gaan jag. Teen die einde van die dag het hulle nie ‘n enkele eend gejag gekry nie. Die man sê toe vir sy vrou, ‘Liefie, iets doen ons verkeerd.’ Sy vrou het geantwoord, ‘Wel, miskien as ons die hond bietjie hoër gooi sal hy die eende kan vang.’ Wanneer dit by die Christelike lewe kom, probeer ons dinge met gereedskap wat nie werk of sin maak nie, bereik. ‘n Hond is nie die regte wapen om eende te jag nie – jy het koeëls daarvoor nodig. Hoekom het Paulus geskryf, ‘Laat die rykdom van alles wat Christus ons leer, julle leefstyl bepaal…’? Omdat wanneer die Woord van Christus in jou hart bly, jy met God se wysheid toegerus word. Jy kan nie ‘n probleem oplos deur dieselfde element te gebruik wat die probleem veroorsaak het nie. Jy het God se wysheid nodig, wat jy in sy Woord vind. Minder as 30 persent van Christene lees daagliks hulle Bybel. Dink daaroor: 70 persent Christene soek die antwoord op die verkeerde plekke. Wanneer jy ‘n probleem het, moet jou eerste vraag wees, ‘Wat sê God se Woord hieroor?’ ‘Begrip van u woord bring lig; dit gee insig aan die eenvoudige’ (Psalm 119:130 NLV). In plaas daarvan om dinge te doen wat nie werk nie – draai na God se Woord.
Sielskos: Lev 15-17; Matt 6:1-8; Ps 46; Spr 1:32-33
2018-01-10
Johannes 8:36 NLV
Wanneer jy ‘n krygsgevangene word, beheer die vyand al jou bewegings en besluit hulle hoe elke dag van jou lewe sal wees. Het die vyand jou gevangene geneem? Miskien het jy al oor en oor probeer vrykom van jou verslawing, maar jy word steeds daardeur gevange gehou. Daar is goeie nuus: ‘As die Seun julle dus bevry, sal julle regtig vry wees.’ Of jy nou aan dwelms, alkohol, dobbel, kos of enigiets anders verslaaf is, jou antwoord lê nie in die natuurlike nie, maar in die bonatuurlike. Jou verslawing is ‘n ‘simptoom’ van ‘n dieper geestelike toestand wat Jesus, die Groot Geneesheer, wil gesond maak. In die kern van elke twaalf-stap program lê hierdie waarheid: Dis net deur na ‘n mag wat groter as onsself is te draai en ‘n verhouding met Hom te ontwikkel, wat ons vry kan word en vry kan bly. Jy weet wie hierdie ‘mag’ is – Jesus! Wanneer jy rusteloos, geïrriteerd en ontevrede voel, sal sy teenwoordigheid aan jou vrede en kalmte gee. Wanneer jy in die versoeking kom om na jou verslawing te draai om verligting te kry, sal sy teenwoordigheid die leegheid binne in jou vul en jou in staat stel om nee te sê. Wanneer jy ‘euforiese herinnerings’ ervaar en aan die beste tye van jou verslawing in plaas van die slegste tye begin dink, sal sy Woord jou gedagtes vernuwe en jou houding omvorm; en jou die regte pad op daardie oomblik aanwys. ‘U woord is ‘n lamp vir my voete en ‘n lig op my pad’ (Psalm 119:105 NLV). Petrus het gesê, ‘Die Here weet dus om dié mense wat naby aan Hom leef, uit beproewing en swaarkry te red…’ (2 Petrus 2:9 NLV). Vandag wil God jou bevry.
Sielskos: Lev 13:38-14:57; Matt 5:38-48; Ps 3; Spr 1:29-31
2018-01-09
Hebreërs 11:34 NLV
Die woord metamorfose beteken om van een vorm na ‘n ander te verander. In Hebreërs hoofstuk elf, vind ons bekende mense soos Moses en Dawid. Het hulle swakhede gehad? Ja. Het hulle soms swaargekry? Absoluut. Maar, ‘…Hulle het krag in hulle swakheid ontvang [en] was magtig in die oorlog…’ Dink aan ‘n ruspe wat in ‘n skoenlapper verander. Dit begin stadig en slymerig. Wanneer dit die proses van metamorfose ondergaan, word die ruspe ‘n pragtige skoenlapper wat lang afstande kan vlieg deur die lugstrome te ry. Die skoenlapper se vlerke word ontwikkel wanneer dit sukkel om deur die kokon te breek. As hy nie veg nie, vlieg hy nie! Kry jy die idee? Dis jou swaarkry wat jou krag ontwikkel en jou stryd wat vir jou oorwinning bring. Satan wil nie hê dat jy dit moet weet nie. Hy hoop dat die stryd wat jy besig is om te stry jou sal vernietig in plaas van om jou te ontwikkel, dus hou hy aan om druk op jou uit te oefen. Toe Paulus se lewe so moeilik geraak het dat hy nie gedink het dat hy nog ‘n dag sou oorleef nie, het God vir hom gesê, ‘…My goedheid is vir jou genoeg. Dit is al wat jy nodig het. My groot krag word sigbaar in jou lewe wanneer jy swak en hulpeloos is….’ (2 Korintiërs 12:9 DB). Hoe het Paulus gereageer? Hy skryf: ‘…Ek het ontdek dat swaarkry en swakhede deel van die Here se plan met my lewe is… Wanneer mense my slegsê, wanneer ek mishandel word, wanneer ongelowiges my vervolg, of wanneer ek bang en benoud is omdat ek vir Christus werk, is ek doodtevrede. Want wanneer ek swak is, is ek juis sterk…’ (vers 10 DB)
Sielskos: Lev 11:1-13:37; Matt 5:27-37; Ps 42:6-11; Spr 1:24-28
2018-01-08
Johannes 15:4 ABA
Daar is ‘n kuns daaraan om ‘n goeie koppie tee te maak. Jy kan jou teesakkie op en af in die warm water dompel en dit dan uithaal. Of jy kan die teesakkie daarin laat bly sodat jy die tee se volle sterkte en geur kan ervaar. Jesus het gesê, ‘Julle moet by My bly soos Ek by julle bly. Julle moet onthou ‘n loot alleen kan nie vrugte dra nie, dit moet aan die wingerdstok vas bly. Julle kan ook nie vrugte dra as julle nie by My bly nie. Ek is die wingerdstok. Julle is die lote. As julle by My bly en as Ek by julle bly, dan sal julle baie vrugte dra. As Ek nie by julle is nie, dan kan julle niks doen nie’ (verse 4-5 ABA). Die geheim tot ‘n oorwinnende Christelike lewe is nie om jouself een keer ‘n week in die kerk in God se teenwoordigheid te ‘dompel’ nie, maar om elke dag daarin te bly. Dit is hoekom hierdie dagstukkies nuttige gereedskap vir jou geestelike groei is; dit veroorsaak dat jy elke dag God se Woord bestudeer, daaroor mediteer en vra, ‘Here, wat sê U vir my?’ Wanneer jy jouself net ‘dompel’, moet jy dinge deur jou eie inspanning laat gebeur. Jy moet die sakkie op en af beweeg, die toutjie om die lepel draai, dit trek, ens. Dit is baie inspanning – en dis nie hoe God wil hê jy ‘n Christelike lewe moet lei nie. Nee, Hy wil hê dat jy in Hom moet bly. Dit is hoe lank jy in Hom bly en die diepte daarvan, wat die krag en rykheid van jou geestelike lewe bepaal. Moet jouself dus nie vandag net ‘dompel’ nie.
Sielskos: Lev 8-10; Matt 5:13-26; Ps 42:1-5; Spr 1:20-23