God se definisie van rykdom
2018-01-13Spreuke 10:22 NLV
Toe die bekende uitgewer William Randolph Hearst ‘n artikel oor ‘n sekere skildery gelees het, wou hy baie graag die skildery by sy versameling voeg. Hy het mense regoor die wêreld gestuur om daarna te soek, maar hulle kon dit nêrens kry nie. ‘n Jaar later, uit die bloute, het een van sy werknemers vir hom kom sê dat hulle die skildery opgespoor het. Opgewonde oor die ontdekking, het Hearst gevra waar die skildery al die tyd was. Sy werknemer het geantwoord, ‘In jou kelder. Dit was al die tyd in jou besit.’ Die probleem was dat Hearst nooit die register waarin al sy besittings opgeskryf was, gelees het nie. Jou Bybel is ‘n register gevul met seëninge wat God wil hê jy moet ervaar. Geen van hierdie seëning is groter as die seën van verlossing nie, maar dis nie die enigste seën nie. ‘Dit is die Here se seën wat rykdom bring. Hy gee nie hartseer daarmee saam nie.’ John D Rockefeller het een keer gesê dat hy sy hele fortuin sal verruil vir die geleentheid om terug te gaan en as klerk in sy ou kantoor in Cleveland, Ohio te werk. Hoekom? Omdat dit ‘n tyd was voordat hy aan maagsere, slaaploosheid en depressie gely het. Die seën van God bring sukses sonder stres mee! God vertel jou daarvan in sy Woord. Hy wil hê dat jy ‘ryk’ in jou verhoudings, jou gesondheid, jou vreedsame gemoedstoestand, jou beroep en alles wat op jou betrekking het, moet wees. Begin dus uitvind wat God aan jou belowe het en bid en glo Hom dan daarvoor.
Sielskos: Lev 21:1-23:25; Matt 6:19-34; Ps 71:17-24; Spr 2:3-5