2018-01-19
1 Samuel 12:12 NLV
Die derde verskil: Beweegredes. Simson het herhaaldelik die Here met sy dade en leefstyl oneer aangedoen. Dit is omdat hy geen agting vir God se eer gehad het nie. Wat ‘n kontras was Samuel nie! Toe Israel ‘n koning wou hê om soos die omliggende nasies te wees, het dit sy hart gebreek. Hy het vir die mense gesê, ‘… alhoewel die Here julle God reeds julle koning was.’ Om God te eer was sy hoogste prioriteit. Daar is ‘n les hieruit te leer, veral vir diegene van ons wat in die bediening staan. Elke keer wat iemand agter die preekstoel inskuif, moet hulle hulle ego’s en beweegredes ondersoek: ‘Is my doel om God te laat goed lyk, of myself te laat goed lyk?’ Die Bybel sê, ‘…Die Here is ‘n God wat weet van al jou dade; Hy sal jou oordeel volgens wat jy gedoen het’ (1 Samuel 2:3 NLV). Die waarheid is dat niemand van ons die werk sonder die krag van God se inwonende Gees, kan doen nie. Ons moet dit nooit vergeet nie. Die tragedie van Simson se einde word in die volgende twee Skrifgedeeltes beskryf: ‘…Hy het uit die slaap wakker geword en by homself gedink: ‘Ek sal weer uit die ding uitkom soos al die vorige kere.’ Maar hy het nie geweet dat die Here hom verlaat het nie’ (Rigters 16:20 NLV). ‘Toe die Filistyne begin dronk word, het hulle vir mekaar gesê: ‘Bring Simson vir ons dat hy ons kan laat lag.’ Hulle het Simson uit die tronk gaan haal om hulle te kom vermaak…’ (vers 25 NLV). Sonder God se genade en krag kan ons ook soos Simson opeindig. Bly dus nederig en strewe daarna om slegs vir God te eer.
Sielskos: Dan 3-4; Matt 8:18-27; Ps 84; Spr 2:16-19v
2018-01-18
Rigters 14:3 NLV
Die tweede verskil: Verhoudings. “Sy ouers vra toe vir hom: ‘Is daar nie iemand tussen die mense van jou stam of onder jou volksgenote met wie jy kan trou nie? Moet jy nou onder die heidense Filistyne ‘n vrou vat?’ Simson het vir sy pa gesê: ‘Kry haar vir my. Ek wil haar hê.'” Wanneer dit by verhoudings gekom het, is Simson deur sy laer beginsels eerder as die beginsels van God se Woord gelei. Hy het duur daarvoor betaal. Drie keer lees ons in die Skrif: ‘Simson het afgegaan…’ (vers 1 NLV). Hy het afgegaan na Timna toe en met die verkeerde vrou getrou. Hy het afgegaan na Gasa toe en die nag met ‘n prostituut deurgebring. Hy het afgegaan na die Sorekvallei toe, in Delila se skoot opgeëindig en sy krag, sy vryheid, sy reputasie, sy seën en sy lewe verloor. Samuel, aan die ander kant, is grootgemaak om die bediening te suiwer. Eli, die Hoëpriester, het twee seuns gehad, Hofni en Pineas, wat hy vir die priesterskap bestem het. Hulle het egter omkoopgeld aanvaar om sondes te bedek en openlik met prostitute omgegaan. Daar is ‘n les vir elke verloste kind van God hieruit te leer: ‘Moenie saamspan met ongelowiges nie…’ (2 Korintiërs 6:14 NLV). Is God bevooroordeeld wanneer Hy dit sê? Nee, Hy is beskermend! Wanneer jy in ‘n verhouding met iemand ‘saamgespan’ is wat nie jou geloof, jou waardes, jou doelwitte en jou prioriteite deel nie, eindig jy op waar julle mekaar in verskillende rigtings probeer trek. Wanneer probleme te voorskyn kom, soos hulle verseker sal, het jy iemand langs jou sy nodig wat na dieselfde bron draai om die oplossing te kry: na God toe.
Sielskos: Dan 1-2; Matt 8:10-17; Ps 81; Spr 2:11-15
2018-01-17
Hebreërs 11:32 NLV
Simson en Samuel word in dieselfde Skrifgedeelte genoem, maar daar is groot verskille tussen hulle. Altwee se geboorte was wonderbaarlik, dus is hulle ‘n voorbeeld van elkeen van ons wat wedergebore is en geroep is om God te dien. Paulus skryf, ‘Al hierdie dinge het met hulle gebeur as ‘n voorbeeld vir ons, en is neergeskryf om ons te waarsku… Daarom – as julle dink julle staan sterk, moet julle oppas dat julle nie ook tot ‘n val kom nie’ (1 Korintiërs 10:11-12 NLV). Die eerste verskil: Finansies. Simson was gierig en manipulerend, terwyl Samuel integriteit uitgeoefen het. Eendag het Simson dertig Filistynse prinse gewed dat hulle nie sy raaisel kan oplos nie, ‘As julle dit nie kan oplos nie, gee julle vir my 30 hemde en 30 stelle klere…’ (Rigters 14:13 NLV). Simson se klem was op ‘gee vir my.’ Hy is ‘n voorbeeld van Christene in die besigheidswêreld wat die Christelike lewe deur onetiese praktyke ondermyn, en diegene in die bediening wat die Skrif verdraai en hulle tot emosionele manipulasie wend om geld in te samel. Die wêreld hou ons dop, dus moet ons ag slaan op die Skrifgedeelte wat sê, ‘Moenie net regsit om ander mense in eie munt terug te betaal as hulle iets verkeerds aan julle gedoen het nie. Doen liewer goeie dinge sodat ander mense kan sien dat julle God dien’ (Romeine 12:17 DB). Samuel was heeltemal anders. Na veertig jaar se voorbeeldige leierskap het mense hulde aan hom gebring: ‘…U het ons nooit op enige manier bedrieg of verdruk nie…’ (1 Samuel 12:4 NLV). Jesus het gesê, ‘Onthou, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees’ (Matteus 6:21 NLV). Die toestand van jou hart word in die manier wat jy jou finansies hanteer, geopenbaar.
Sielskos: Fil 1-4; Matt 8:1-9; Ps 79; Spr 2:9-10
2018-01-16
Eksodus 24:4 NLV
Een van die geheime van Moses se groot sukses in die lewe was dat Hy elke dag tyd saam met God spandeer het en neergeskryf het wat God vir hom gesê het. Jy moet dit ook doen, want om goed neer te skryf: a) verhelder jou gedagtes; b) gee jou ‘n permanente rekord om na terug te verwys; en c) laat jou toe om jou vordering te meet. Ons onthou net dit wat ons die tyd voor neem om aan te teken. Een van die bekendste Amerikaanse sendeling was Jim Elliot, wat in 1956 ‘n martelaar vir Christus in Ecuador geword het. Hy het ‘n geestelike dagboek gehou, wat interessante leesstof is: ‘My daaglikse Bybelstudiepatroon is gebreek. Ek het dit nog nie herstel nie. Dis moeilik om as enkellopende man te bid. Dis nou te moeilik om in die oggende uit die bed uit op te staan. Ek was al van voorneme om dit te verander, maar ek het dit nie deurgevoer nie.’ Sulke skryfwerk word ‘n spieël wat ons ware geestelike toestand reflekteer – ‘n toestand wat maklik is om te vergeet as dit jou nie elke dag in die gesig staar nie. Elliot, soos almal van ons, het met geestelike dissipline gesukkel. Anders as die meeste van ons, het hy egter ‘n geskrewe rekord van sy geestelike mislukkings sowel as sy geestelike oorwinnings gehou. Wanneer jy so ‘n dagboek hou, word jy forseer om oor jou hart se ware toestand na te dink, jou vordering op te skryf, jou verlore momentum terug te kry, jou slegte gewoontes te verwerp, jou goeie gewoontes te versterk en help dit jou om jou geestelike doelwitte te bereik. Weet jy van enige ander dissipline wat sulke voordele het? Nee? Begin dan vandag om dagboek van jou geestelike reis te hou.
Sielskos: Lev 26-27; Matt 7:15-29; Ps 74:12-23; Spr 2:7-8
2018-01-15
Spreuke 3:9 NLV
Salomo skryf: ‘Vereer die Here met alles wat jy besit. Gee vir Hom die beste van jou oes. Hy sal jou opgaarplekke vol maak. Jou parskuipe sal te klein wees vir al die wyn’ (verse 9-10 NLV). Die mense wat hierdie woorde aangehoor het, het van hulle land en vee gelewe. Wanneer hulle ‘n oes ingesamel het of vee gebore is, het hulle die eerste koringare of die eerste kalfie wat gebore is na die tempel toe geneem om dit aan God te offer. Deur dit te doen het hulle erken dat alles wat hulle het, van God af kom en aan God behoort. Alles wat hulle in die toekoms sou nodig kry, het van God se goedheid aan hulle afgehang. Daar is nie ‘n belangriker beginsel vir finansiële bestuur as dit nie: Gee vir God die beste van jou oes, nie die oorblyfsels nie! Die besigheidsman Arthur DeMoss was ‘n geestelike reus en weldoener wat miljoene vir God se werk geskenk het en ‘n fonds gestig het om na sy dood met sy nalatenskap voort te gaan. Mnr DeMoss het gesê om suksesvol te wees, moet jy vir God die eerste tien sent van elke Rand, die eerste uur van elke dag en die eerste dag van elke week gee. Dit is ‘n formule vir sukses in die lewe wat nie verbeter kan word nie. Jy vra, ‘Beteken dit dat God my nie sal liefhê as ek nie my tiende gee nie?’ Nee; jy kan nie iets doen om God se liefde te verdien nie, maar jy moet sekere dinge doen om elke dag in sy seën te wandel. Een daarvan is om vir Hom die eerste tiende van jou inkomste te gee. Wanneer jy dit doen, sal Hy ‘jou opgaarplekke vol maak.’
Sielskos: Lev 23:26-25:55; Matt 7:1-14; Ps 74:1-11; Spr 2:6
2018-01-14
Spreuke 10:4 NLV
‘n Vlytige werker is iemand wat skerp, beslissend en ywerig is. Hy of sy wil werk, maak ‘n verskil en dra by tot hulle families en die samelewing. Die lewe skuld jou niks behalwe ‘n geleentheid om sukses te behaal nie. Jy sal egter vir hierdie sukses moet werk. Een dag het twee tieners gesit en gesels toe die een sê, ‘Ek is regtig bekommerd. My pa sloof hom af by die werk sodat ek niks kort kom nie. Hy betaal al my rekeninge en stuur my universiteit toe. Ma sloof haarself elke dag af deur my klere te was en te stryk en agter my aan skoon te maak.’ Verward het sy vriend gevra, ‘So waaroor is jy dan bekommerd?’ Hy het geantwoord, ‘Ek is bang die slawe ontsnap dalk!’ Jy moet as ouer vir jou kind die deugsaamheid van vlyt leer. Moet dit nie net leer nie – lewe dit ook uit! Jy sal weet dat jy suksesvol is wanneer hulle nie meer geregtig op sakgeld voel of jou as ‘n menslike OTM masjien sien nie. Jou kinders sal meer as die helfte van hulle wakende ure in hulle volwasse lewens by die werk spandeer en dis nodig dat hulle besef dat dit God se idee was en nie ‘n vorm van straf nie. Sommige mense dink dat werk die gevolg van die vloek in Eden was, maar dit was nie. God het vir Adam aangestel om in die tuin te werk voor sonde op die toneel verskyn het (sien Genesis 2:15). Jesus was ‘n timmerman (sien Markus 6:3). Paulus, een van die grootste Christene in die geskiedenis, was ‘n tentmaker (sien Handelinge 18:1-3). Daar is niks eerloos aan werk wat die moeite werd is om gedoen te word en goed gedoen word nie.
Sielskos: Eks 20:4-6; Deut 7:17-8:2; Jes 40:18-31; Kol 3:5-10