Die verskil tussen Simson en Samuel (1)
2018-01-17Hebreërs 11:32 NLV
Simson en Samuel word in dieselfde Skrifgedeelte genoem, maar daar is groot verskille tussen hulle. Altwee se geboorte was wonderbaarlik, dus is hulle ‘n voorbeeld van elkeen van ons wat wedergebore is en geroep is om God te dien. Paulus skryf, ‘Al hierdie dinge het met hulle gebeur as ‘n voorbeeld vir ons, en is neergeskryf om ons te waarsku… Daarom – as julle dink julle staan sterk, moet julle oppas dat julle nie ook tot ‘n val kom nie’ (1 Korintiërs 10:11-12 NLV). Die eerste verskil: Finansies. Simson was gierig en manipulerend, terwyl Samuel integriteit uitgeoefen het. Eendag het Simson dertig Filistynse prinse gewed dat hulle nie sy raaisel kan oplos nie, ‘As julle dit nie kan oplos nie, gee julle vir my 30 hemde en 30 stelle klere…’ (Rigters 14:13 NLV). Simson se klem was op ‘gee vir my.’ Hy is ‘n voorbeeld van Christene in die besigheidswêreld wat die Christelike lewe deur onetiese praktyke ondermyn, en diegene in die bediening wat die Skrif verdraai en hulle tot emosionele manipulasie wend om geld in te samel. Die wêreld hou ons dop, dus moet ons ag slaan op die Skrifgedeelte wat sê, ‘Moenie net regsit om ander mense in eie munt terug te betaal as hulle iets verkeerds aan julle gedoen het nie. Doen liewer goeie dinge sodat ander mense kan sien dat julle God dien’ (Romeine 12:17 DB). Samuel was heeltemal anders. Na veertig jaar se voorbeeldige leierskap het mense hulde aan hom gebring: ‘…U het ons nooit op enige manier bedrieg of verdruk nie…’ (1 Samuel 12:4 NLV). Jesus het gesê, ‘Onthou, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees’ (Matteus 6:21 NLV). Die toestand van jou hart word in die manier wat jy jou finansies hanteer, geopenbaar.
Sielskos: Fil 1-4; Matt 8:1-9; Ps 79; Spr 2:9-10