2018-01-25
Kolossense 2:9 ABA
In sy boek Outlive your life, sê die skrywer Max Lucado dat die Griekse woord vir ‘geseënd’, makarios, die naam van ‘n eiland naby Griekeland was. Dit het as die ‘geseënde eiland’ bekend gestaan omdat dit so selfvoorsienend was. Die inwoners het nie nodig gehad om die eiland te verlaat om aan enige van hulle behoeftes te voldoen nie. Die natuurlike hulpbronne van hierdie eiland was so ryk dat alles wat jy nodig gehad het om die lewe te geniet, reeds daar was. Daar is les vir jou hieruit te leer. Die oomblik wat jy Christus as jou Verlosser aanneem, word Hy jou Koning en begin jy in sy koninkryk leef. Jy het nie nodig om dit te verlaat en iewers anders dit wat jy nodig het, te kry nie, omdat dit alles rondom jou in die eiland van seën is. Dis soos ‘n radio, jy moet net jouself instel en God se seën ontvang. Selfs al hou jou radio op werk, is daar egter steeds seine in die lug. Al wat jou radio doen is om die sein te ontvang en dit aan jou te lewer. Moet egter nie die radio meer krediet gee as wat dit verdien nie. Dis slegs ‘n punt van kontak vir die radioseine. Een van die redes hoekom ons nie God se seën in ons lewens herken nie, is omdat ons die afleweringsmetode met die bron daarvan verwar. As iets wonderbaarliks nie in ons skoot val nie, dink ons dat dit nie van God af kom nie. Nee, God sal jou op verskillende tye, deur verskillende mense, op verskillende maniere seën. Jy moet egter altyd onthou dat hulle net die draers van die seëning is, terwyl Hy die bron daarvan is (sien Psalm 31:19).
Sielskos: Jak 3-5; Matt 10:1-10; Ps 96; Spr 3:5-6
2018-01-24
Johannes 14:26 NLV
Jesus het sy bergrede met ‘n treffende verhaal, wat die gaping tussen weet en doen aanspreek, afgesluit: ‘Elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, is soos ‘n verstandige persoon wie se huis op soliede rots gebou is’ (Matteus 7:24 NLV). Die probleem is dat ons dit makliker vind om slim, eerder as goed, te wees. Jy het nie nodig om meer van die Bybel te weet tot jy dit wat jy reeds weet, begin uitoefen nie. John Ortberg sê dat toe hy tennis afgerig het, sou onervare nuwelinge worstel met die besluit oor die tipe raket wat hulle moet koop – moet dit nylon snare wees, hoe styf moet dit gesnaar wees, ens. Die probleem was dat hulle nog nie eers ‘n bal kon slaan nie. In plaas daarvan om oor die kleinighede te debatteer, moes hulle net begin oefen. ‘n Woord van waarskuwing egter: Jy kan nie die Woord begin doen deur op jou eie krag en wilskrag staat te maak nie. Die Heilige Gees wat binne in jou woon word in die Skrif die ‘Voorspraak’ genoem. Wanneer jy besluit om dit wat reg is te doen, sal die Heilige Gees binne in jou jou bemagtig. Wanneer ‘n situasie hom voordoen, sal Hy jou voorsê wat om te doen. Jesus het belowe, ‘…wanneer die Raadgewer, die Heilige Gees, kom wat die Vader in my Naam sal stuur, sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.’ Jy vra, ‘Maar wat as ek dit nie regkry nie?’ Hy sal met jou werk en jou geleenthede gee totdat jy dit regkry.
Sielskos: Jak 1-2; Matt 9:27-38; Ps 91; Spr 3:3-4
2018-01-23
Jakobus 1:22 NLV
‘n Besigheidsman wat bekend was vir sy meedoënloosheid, arrogansie en godsdiensywer het vir Mark Twain gesê dat hy beplan om voor sy dood die Heilige Land te besoek, Sinaiberg uit te klim, en die Tien Gebooie hardop te lees. ‘Ek het ‘n beter idee,’ het Twain geantwoord. ‘Bly net hier in Boston en onderhou net die Gebooie!’ Ons sal eerder oor dit wat ons nie weet nie peins, as om dit te doen wat ons weet ons moet doen. ‘n Maatskappy weet byvoorbeeld dat hulle hul kwaliteitbeheer moet verbeter, dus bespreek die bestuur die probleem, luister na aanbiedinge, lees allerlei boeke, ondersoek nuwe sisteme – maar begin nooit doen wat gedoen moet word om dit te verbeter nie. Hulle probleem is nie onkunde nie; dis dat hulle te veel weet, maar te min doen. Nog ‘n alledaagse voorbeeld: Mense sal eerder die waarde van proteïne teenoor koolhidrate, Franse kookkuns teenoor veganisme, met gewigte oefen teenoor draf debatteer, as om eenvoudig dit wat hulle eet te verander. Dit is eenvoudig: verbrand meer kalorieë as wat jy inneem. So sal sommige Christene eerder oor die doktrine debatteer as om te doen wat Jesus sê. Soos die ou advertensie vir Nike sê – Just do it! Oefen om ‘n moeilike persoon lief te hê; probeer om iemand te vergewe; gee geld weg; stop en sê dankie; loof God; bemoedig ‘n vriend; seën ‘n vyand; sê jammer wanneer jy verkeerd is. Die waarheid is dat jy reeds meer weet as wat nodig is. Niks sit mense so af soos iemand met ‘n kop vol kennis wat welwillendheid en karakter kortkom nie. Jakobus se woorde is vandag nog van toepassing: ‘Julle moet mense word wat dóén wat die Woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie…’
Sielskos: Dan 11-12; Matt 9:14-26; Ps 89:38-52; Spr 3:1-2
2018-01-22
Filippense 3:21 NLV
Die Bybel sê dat ons hemelse liggame presies soos Jesus s’n na sy opstanding sal wees. Hy het nog soos Homself gelyk, want die dissipels kon Hom herken. Hy het saam met hulle geëet en gedrink. Hy kon aangeraak word. Hy kon wonderbaarlik deur mure beweeg. Hy kon in verskeie plekke aan verskillende mense verskyn sonder dat hy gewone maniere van reis gebruik het. Sy getransformeerde liggaam het nie meer ouer geword nie en was ook nie aan siekte of die dood onderworpe nie. Jou nuwe liggaam sal soos syne wees. ‘…Christus was die eersteling; daarna, wanneer Christus terugkom, sal al sy mense opgewek word. Vervolgens sal die einde kom…’ (1 Korintiërs 15:23-24 NLV). Die Skotse Presbiteriaan, Robert Bailie, is in 1684 ter dood veroordeel vir sy beweerde betrokkenheid by ‘n komplot om koning Charles II te vermoor. Hy sou gehang word, waarna sy kop en hande aan ‘n plaaslike brug vasgespyker sou word. Hoe het hy gereageer? Deur die volgende Skrifgedeelte aan te haal: ‘Ons daarteenoor het ons burgerskap in die hemel. Van dáár verwag ons ook die Here Jesus Christus as Redder. Hy sal ons vernederde liggame verander in liggame met goddelike heerlikheid…’ (Filippense 3:20-21 NLV). Toe het hy verklaar: ‘Hulle mag dalk my liggaam opkap soos hulle wil, maar ek weet verseker dat niks verlore sal gaan nie, omdat my liggaam weer soos Christus se wonderbaarlike liggaam sal word.’ Of jy nou eendag in ‘n kis begrawe word en of jy veras word, maak geen verskil nie. God het jou vir ‘n wonderbaarlike liggaam voorberei, net soos Christus s’n.
Sielskos: Dan 8-10; Matt 9:1-13; Ps 89:15-37; Spr 2:21-22
2018-01-21
Jeremia 15:1 DB
Die vyfde verskil: Gebed. Die Bybel noem net twee geleenthede waar Simson gebid het: eerstens, toe hy gedink het hy is besig om van dors dood te gaan (Rigters 15:18); tweedens, in die laaste oomblikke van sy lewe nadat hy alles verloor het en in die tronk opgeëindig het (sien Rigters 16:28). Hy was soos die klein seuntjie aan wie gevra is, ‘Sê jy elke aand jou gebedjie op?’ Hy het geantwoord, ‘Nee, partykeer het ek niks nodig nie.’ Aan die ander kant sê die Bybel, ‘Toe roep Samuel die Here aan en die Here het donderweer en reën gestuur. Almal was verskrik voor die Here en vir Samuel’ (1 Samuel 12:18 NLV). Een van die grootste eerbewyse wat aan enigiemand in die Skrif bewys is, is toe God rakende Samuel se gebedslewe gesê het: ‘Die Here het vir my gesê: ‘Selfs al het Moses en Samuel voor My gestaan om hierdie mense se saak te stel, sou Ek hulle nie jammer gekry het nie’…’ Dis hoeveel ‘invloed’ Samuel by God gehad het! Die Bybel praat ook baie oor Jesus se gebedslewe. Soms het Hy regdeur die nag gebid, ander kere was Hy voor sonsopkoms al besig om te bid. Dit was sy geheim tot sy effektiewe bediening. Hy het gereelde beleggings in gebed gemaak sodat Hy gereelde onttrekkings van krag kon maak wanneer Hy dit nodig gehad het. Jy sal ook opmerk dat Hy selde vir enigiemand gebid het wat Hy genees het. Hoekom? Omdat Hy reeds tyd in gebed daaroor spandeer het. Dit is die geheim tot ‘n oorwinnende Christelike lewe.
Sielskos: Eks 20:7; Jes 29:22-24; Matt 6:9; Fil 2:5-11
2018-01-20
1 Samuel 7:12 NLV
Die vierde verskil: Toerekenbaarheid. Simson het ‘n onafhanklike houding gehad en het geweier om deur enigiemand toerekenbaar gehou te word. Sy wisselvallige pogings om Israel te bevry het daartoe gelei dat die Filistyne God se mense meer belas het. Samuel, aan die ander kant, het in konsensus met ander mense gewerk. Toe hy gebid het en God vir Israel ‘n wonderlike oorwinning oor hul vyande gegee het, het hy geweier om krediet daarvoor te aanvaar. “Samuel neem toe ‘n groot klip en sit dit regop tussen Mispa en Sen. Hy noem die plek Eben-haeser… want hy het gesê: ‘Tot hiertoe het die Here ons gehelp.'” Simson was op homself gefokus, terwyl Samuel op ander mense gefokus was. Die Psalmdigter het gesê, ‘Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saamwoon!.. Want daar gee die Here sy seën…’ (Psalm 133:1, 3 NLV). Die geheim daarvan om in God se seën te wandel is om nie alleen op te tree nie, maar om saam met ander mense te werk. Dis hoe die kerk in die Nuwe Testament dit gedoen het. ‘Die Raad het hulle nog verder gedreig. Uiteindelike het hulle hulle egter laat gaan… Toe hulle losgelaat is, het Petrus en Johannes dadelik die ander gelowiges opgesoek…’ (Handelinge 4:21, 23 NLV). Die apostels het verhoudings in plek gehad met mense wat geweet het hoe om hulle raad te gee en te lei, te versterk en te bemoedig, te bid en God se Woord met hulle te deel. Jy het ook sulke verhoudings nodig! Jy kan dit ook nie bekostig om te wag tot jy in die moeilikheid kom voor jy hierdie verhoudings vestig nie. Doen dit nou, in die goeie tye, en hulle sal in die slegte tye daar wees vir jou.
Sielskos: Dan 5-7; Matt 8:28-34; Ps 89:1-14; Spr 2:20