Die eiland van seën

2018-01-25
Kolossense 2:9 ABA

In sy boek Outlive your life, sê die skrywer Max Lucado dat die Griekse woord vir ‘geseënd’, makarios, die naam van ‘n eiland naby Griekeland was. Dit het as die ‘geseënde eiland’ bekend gestaan omdat dit so selfvoorsienend was. Die inwoners het nie nodig gehad om die eiland te verlaat om aan enige van hulle behoeftes te voldoen nie. Die natuurlike hulpbronne van hierdie eiland was so ryk dat alles wat jy nodig gehad het om die lewe te geniet, reeds daar was. Daar is les vir jou hieruit te leer. Die oomblik wat jy Christus as jou Verlosser aanneem, word Hy jou Koning en begin jy in sy koninkryk leef. Jy het nie nodig om dit te verlaat en iewers anders dit wat jy nodig het, te kry nie, omdat dit alles rondom jou in die eiland van seën is. Dis soos ‘n radio, jy moet net jouself instel en God se seën ontvang. Selfs al hou jou radio op werk, is daar egter steeds seine in die lug. Al wat jou radio doen is om die sein te ontvang en dit aan jou te lewer. Moet egter nie die radio meer krediet gee as wat dit verdien nie. Dis slegs ‘n punt van kontak vir die radioseine. Een van die redes hoekom ons nie God se seën in ons lewens herken nie, is omdat ons die afleweringsmetode met die bron daarvan verwar. As iets wonderbaarliks nie in ons skoot val nie, dink ons dat dit nie van God af kom nie. Nee, God sal jou op verskillende tye, deur verskillende mense, op verskillende maniere seën. Jy moet egter altyd onthou dat hulle net die draers van die seëning is, terwyl Hy die bron daarvan is (sien Psalm 31:19).

Sielskos: Jak 3-5; Matt 10:1-10; Ps 96; Spr 3:5-6