2018-01-31
Matteus 13:46 NLV
In een van die mees unieke korporatiewe oornames ooit, het Stanley Tam wetlik 51 persent van sy maatskappy se aandele aan God oorgedra. Hy het die United States Plastic Corporation met sewe-en-dertig dollars begin. Teen die tyd wat hy sy besigheid aan God terugeggee het, was die maatskappy se jaarlikse inkomste minder as tweehonderd duisend dollars. Stanley het egter geglo dat God sy besigheid sou seën en hy wou God uit die staanspoor eer. Op daardie punt sou die meeste van ons onsself op die skouer geklop het. Nie Stanley nie. Hy het skuldig gevoel omdat hy 49 persent van die maatskappy vir homself gehou het. Nadat hy die gelykenis van die pêrelhandelaar wat alles verkoop het om die kosbare pêrel aan te skaf, gelees het, het hy die besluit gemaak om van al sy aandele ontslae te raak. Hy het gesê, “‘n Man kan net een maaltyd op ‘n slag eet, net een pak klere op ‘n slag dra en net een kar op ‘n slag ry. Dit alles het ek. Is dit nie genoeg nie?” Dus, op 15 Januarie 1955, het hy alle aandele aan God oorgedra en het Stanley ‘n gewone salaristrekker van die maatskappy wat hy gestig het, geword. Voor hy klaar was, het Stanley meer as 120 miljoen dollars vir Christus se saak weggegee. As jy die diepte van jou liefde vir Christus wil meet, kyk na jou kalender en jou kredietkaart se staat. Hulle lieg nie. Hoe jy jou tyd en jou geld spandeer, is die twee beste maatstawwe van jou ware prioriteite. Is Christus jou kosbare pêrel? Hy wil dit wees. Hy verdien om dit te wees.
Sielskos: Num 8-10; Matt 11:10-19; Ps 107:10-16; Spr 3:19-20
2018-01-30
Kolossense 4:2 NLV
In 1964 het kommunistiese Simba rebelle die dorp Bunia in Zaïre ingeneem. Hulle het baie inwoners gearresteer en tereggestel. ‘n Pastoor met die naam van Zebedayo Idu was een van hulle slagoffers. Hulle het hom ter dood veroordeel en hom vir die nag in die tronk gegooi. Die volgende oggend is hy en ‘n groot aantal gevangenes na ‘n publieke plek vir hulle teregstelling geneem. Sonder enige verduideliking, het een van die rebelle die gevangenes beveel om in ‘n lyn te staan en begin tel – ‘een, twee, een, twee, een, twee.’ Al die gevangenes wat ‘een’ genommer is is voor die vuurpeleton staangemaak terwyl diegene wat ‘twee’ genommer is na die tronk toe teruggevat is. Pastoor Idu was een van die wat gespaar is. Terug in die tronkselle, kon die gevangenes die klank van geweerskote hoor. Die pastoor het hierdie dramatiese oomblik gebruik om die verhaal van Jesus met die ander gevangenes te deel. Agt van die gevangenes het daardie dag hulle lewens vir Christus gegee. Net toe pastoor Idu klaar was om die Goeie Nuus met hulle te deel, het ‘n opgewonde boodskapper met ‘n vrylatingsbevel vir hom daar aangekom. Die pastoor is per ongeluk gearresteer en was vry om te gaan. Hy het vir die ander gevangenes totsiens gesê en hom na sy huis langs die kapel gehaas. Daar het hy ‘n groep gelowiges aangetref wat besig was om vir sy vrylating te bid. Toe hulle die antwoord op hul gebede deur die deur sien stap, het hulle gebedsdiens in ‘n lofprysingsdiens verander. Dieselfde God wat die gebede van die kerk in Jerusalem in die Nuwe Testament aangehoor het en Petrus van teregstelling gered het, het die gebede uit Zaïre gehoor en hulle pastoor gered (sien Handelinge 12:5). God luister steeds, hou dus aan bid!
Sielskos: Num 7; Matt 11:1-9; Ps 107:1-9; Spr 3:13-18
2018-01-29
Openbaring 4:11 NLV
‘n Christelike boer het sy perd geleer om te stop en te loop. Wanneer hy wou hê dat die perd moes begin loop, het hy, ‘Prys die Here,’ gesê. Wanneer hy die perd wou laat stop, sou hy, ‘Halleluja,’ skree. Alles het goed gegaan tot een dag toe ‘n donderslag die perd laat skrik het en hy teen volle spoed weggetrek het. Toe die boer besef dat hy beheer oor die perd verloor het, het hy paniekerig geraak en die bevele vergeet wat hy die perd geleer het. Voor hulle het ‘n krans skielik opgedoem. Desperaat het die boer elke godsdienstige woord wat hy nog ooit gehoor het, geskree. ‘Amen! Jesus red! Waardig! Heilig!’ Niks het gewerk nie. Net toe die perd amper op die afgrond is, het die boer ‘Halleluja!’ geskree. Die perd het daar op die kant van die afgrond tot stilstand gekom. Verlig het die boer die sweet van sy voorkop afgevee en gesê, ‘Sjoe, prys die Here!’ Op ‘n ernstiger noot, dis nie net Sondae in die kerk wat ons God moet loof nie. ‘Van waar die son opkom tot waar dit ondergaan, moet die naam van die Here geprys word’ (Psalm 113:3 NLV). Dit beteken dat jou eerste woorde in die oggend en jou laaste woorde in die aand, lofprysing tot God moet wees. ‘Hoekom moet ek God elke dag loof?’ vra jy. Omdat Hy waardig is om jou lof te ontvang. ‘U is waardig, Here ons God, om die hemelse heerlikheid en die eer en die mag te ontvang…’ Woorde van liefde en waardering wat hardop gespreek word bring mense nader aan mekaar en skep intimiteit. Wil jy nader aan God beweeg? Begin om Hom meer te loof.
Sielskos: Num 4:34-6:27; Matt 10:32-42; Ps 104:24-35; Spr 3:11-12
2018-01-28
Sagaria 4:10 NLV
Stel jou voor waar die tempel in ‘n puinhoop lê en van die grond af herbou moet word. Dis hoe dit was toe Sagaria sy visie met die mense van Israel gedeel het. Sommige van hulle het gedink dat dit nie gedoen kan word nie en ander het gedink dat hulle spesifieke bydraes nie ‘n verskil sou maak nie. Dus het Sagaria hulle met die volgende woorde uitgedaag: ‘Die werk wat nou aan die gang is, lyk miskien klein en nie waffers nie. Maar moenie die waarde daarvan onderskat nie. Die mense sal rede hê om bly te wees as hulle sien dat Serubbabel met die bouwerk aangaan.’ In 1963 het die metereoloog, Edward Lorenz, die hipotese voorgestel wat as die skoenlappereffek bekend sou word. Hy het bespiegel dat ‘n klein gebeurtenis, soos die klap van ‘n skoenlapper se vlerke in Brasilië, moontlik die windstrome so kon affekteer dat dit ‘n tornado in Texas kon veroorsaak. Lorenz het tot die eenvoudige dog diepsinnige gevolgtrekking gekom: ‘Miniskule veranderinge in insette kan makroskopiese veranderinge in uitsette veroorsaak.’ Hierdie eenvoudige ontdekking het die mag om jou lewe te verander. Dit kan jou geestelike, emosionele, verhoudings of finansiële vooruitskatting radikaal verander. Dit kan die atmosfeer van jou organisasie of jou huwelik verander. Een besluit. Een verandering. Een risiko. Een idee. Dis al wat dit verg. Jy hoef nie eenhonderd veranderinge te maak nie. Jy moet eenvoudig net 100 persent aan een verandering verbind wees. Dit sal al jou inspanning verg. Dit sal moontlik die moeilikste ding wees wat jy ooit sal doen. Daardie een verandering het egter die potensiaal om ‘n 100 persent verandering in jou lewe te maak.
Sielskos: Eks 20:8-11; Jes 58:13-14; Luk 4:16; Heb 10:19-25
2018-01-27
Efesiërs 1:3 NLV
Boer Smith het gedurende die Groot Depressie gelewe en het gesukkel om die verband op sy plaas te betaal. Uiteindelik het die bank hom dertig dae gegee om die uitstaande paaiemente te betaal, of die bank sou die plaas terugvat. Toe het iets wonderliks gebeur. ‘n Man van ‘n oliemaatskappy het voor sy deur opgedaag en gevra of hulle vir olie op sy plaas kan boor. Aangesien hy in elk geval op die punt was om die plaas te verloor, het Boer Smith ingestem. Die maatskappy het gekom en ‘n groot olieaar raakgeboor. Onmiddellik was Boer Smith ‘n multimiljoenêr. Nou is die vraag – Wanneer het hy ‘n miljoenêr geword? Was dit toe die olie op die plaas ontdek is, of toe hy die plaas in die eerste plek gekoop het? Hy was ‘n miljoenêr die oomblik toe hy die plaas gekoop het, maar hy het in armoede gelewe omdat hy nie geweet het wat onder sy grond en binne sy bereik gelê het nie. Die Bybel sê, ‘…[God] het al die geestelike skatte wat daar in die hemel is, verniet vir ons gegee.’ Sommige mense dink dat die enigste ding wat God vir jou sal doen is om jou met verlossing te seën, en dan laat Hy jou vir die res van jou lewe sukkel tot jy in die hemel kom. Solank as wat jy dit glo, lewe jy in jou eie geestelike weergawe van die Groot Depressie. Jy is geestelik arm en geestelik swak omdat jy nie weet wat in Christus vir jou beskikbaar is of hoe om toegang daartoe te kry en in jou lewe te gebruik nie. Weier om so te lewe. Lees eerder jou Bybel en begin om op God se beloftes in elke area van jou lewe aanspraak te maak.
Sielskos: Num 3:1-4:33; Matt 10:21-31; Ps 104:1-23; Spr 3:9-10
2018-01-26
Jeremia 1:5 NLV
Kom ‘n baba in die wêreld met ‘n komplekse persoonlikheid, of is daardie kind ‘n skoon boek waarin ervaring sal skryf? In die verlede, het gedragswetenskaplikes geglo dat nuwe babas geen persoonlike of emosionele karaktereienskappe by geboorte het nie. Hulle klein persoonlikhede is glo heeltemal deur die opeenvolgende jare gevorm. Die meeste ouers het egter van beter geweet. Elke ma van twee of meer kinders was van die eerste keer wat sy hulle vasgehou het oortuig daarvan dat elkeen van haar babas verskillende persoonlikhede het. Nou, na jare se navorsing, het verskeie kenners in kinderontwikkeling erken dat daardie ma’s reg was. Een belangrike studie het nege karaktereienskappe wat by babas wissel, geïdentifiseer – soos buierigheid, vlak van aktiwiteit en hoe hulle reageer. Hulle het ook bevind dat hierdie selfde eienskappe steeds in latere jare by die kinders voorkom. Babas verskil inderwaarheid op onmeetbare maniere wat ons persoonlikheid en ons individualiteit definieer. As elke sneeuvlokkie wat val sy eie ontwerp het en elke korreltjie sand uniek is, maak dit geen sin om te dink dat kinders almal dieselfde sal wees nie. Ja, die omgewing en menslike ervarings speel ‘n baie belangrike rol om ons te vorm in wie ons is en hoe ons dink. Daar kan egter geen twyfel wees dat elke persoon op aarde ‘n unieke skepping van die eerste oomblikke van hulle lewens is nie. Soos God vir Jeremia gesê het: ‘Ek ken jou nog voordat jy gevorm is in die skoot van jou moeder. Voor jou geboorte al het Ek jou gekies…’ Jou kinders is almal uniek.
Sielskos: Num 1-2; Matt 10:11-20; Ps 100; Spr 3:7-8