‘n Belofte aan biddende ouers

2018-02-06
Jeremia 31:16 NLV

Lewe jy onder ‘n wolk van skuldgevoelens en voel jy soos ‘n mislukking omdat jou kind die pad byster geraak het? Moenie! Die Bybel leer ons dat kinders soms eenvouding nie na die raad van hulle ouers luister nie. Salomo het heelwaarskynlik uit sy eie ervaring gepraat toe hy geskryf het, “‘n Wyse seun laat sy pa toe om hom reg te help. Een wat met alles spot, steur hom nie eens aan dreigemente nie” (Spreuke 13:11 NLV). Jesus het nie die pa verantwoordelik gehou toe sy seun verlore geraak het nie (sien Lukas 15:1). As jy jou beste gedoen het, sal God jou ook nie verantwoordelik hou nie. Die waarheid is dat goeie ouers partykeer kinders het wat slegte dinge doen. God se eerste twee kinders is in ‘n perfekte paradys geplaas en tog het hulle gerebelleer. Op die ou einde het ons almal die mag om te kies. Daar kom ‘n tyd wanneer ‘n kind nie meer ‘n kind is nie en wanneer hulle verantwoordelikheid vir hulle aksies moet neem. As jy dus jou beste as ouer gedoen het, moenie toelaat dat die Duiwel jou skuldig laat voel nie. As jy as ouer misluk het, is dit ook nie ‘n onvergeeflike sonde nie. Nie net sal God jou vergewe nie, jy kan ook hierdie wonderlike belofte vir jouself aanneem: “…’Hou op huil en droog af jou trane. Ek sal jou beloon vir jou moeite,’ sê die Here. ‘Jou kinders sal terugkom uit die land van die vyand. Daar is hoop vir die toekoms… Jou kinders sal terugkom na hulle land toe'” (Jeremia 31:16-17 NLV). Moenie opgee op jou kinders nie, want God het nie. Hou aan bid en glo en laat Hom toe om aan hulle te werk.

Sielskos: Num 22-24; Matt 12:38-50; Ps 108; Spr 3:31-32

Wees bewus van God in jou situasie

2018-02-05
Genesis 28:16 NLV

Een nag het Jakob ‘n droom gehad. Hy het ‘n leer met engele daarop gesien wat al die pad na die hemel toe gestrek het, en God het vir hom gesê, ‘Ek sal by jou wees en jou beskerm waar jy ook al gaan…’ (vers 15 NLV). Die volgende oggend het Jakob gesê, ‘…Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie geweet nie!’ Wanneer God in jou lewe aan die werk is, kan jy geestelik daarop ingestel wees, of jy kan soos Jakob wees en nie daarvan bewus wees nie. Dit was ‘n alledaagse dag toe Moses die brandende bos opgemerk het – nie ‘n ongewone gebeurtenis in die warm woestynklimaat nie. Hierdie keer het die bos egter aanhou brand en ‘Toe die Here sien dat Moses naderkom om ondersoek in te stel, het Hy uit die bos na hom geroep…’ (Eksodus 3:4 NLV). Jy sal van jou grootste ontmoetings met God in die alledaagse ervarings van die lewe ervaar. Jy moet egter oop en ontvanklik daarvoor wees, anders sal jy Hom misloop. Die skrywer William Barry sê: ‘Of ons nou bewus is daarvan of nie, ons kom God op elke oomblik van ons bestaan teë. Hy probeer ons aandag trek om met ons in ‘n wedersydse, bewustelike verhouding te wees.’ Jy weet nooit waar Hy te voorskyn sal kom, of deur wie Hy sal praat nie. Paulus skryf, ‘…Word wakker, jy wat slaap…’ (Efesiërs 5:14 NLV). Jy kan wakker word vir ‘n wonderbaarlike genesing, ‘n herstelde verhouding of selfs ‘n groot toets. Moenie net na God vir jou oorwinnings kyk nie, kyk ook na Hom wanneer jy moeilikheid ondervind. Die teoloog Frederick Buechner het gesê, ‘Daar is geen alledaagse gebeurtenis waar God nie teenwoordig is nie en laat jou sodoende ruimte om Hom te herken of nie te herken nie.’

Sielskos: Num 19-21; Matt 12:22-37; Ps 111; Spr 3:29-30

Die huweliksverbond (4)

2018-02-04
Efesiërs 5:33 NLV

Paulus skryf, ‘…die vrou moet haar man respekteer.’ Gee aandag aan die woord ‘moet.’ Dit is ‘n bevel van die Here, nie ‘n voorstel of ‘n onderwerp wat oop is vir debattering nie. Let egter op: Die Bybel sê nie dat ‘n vrou haar man moet liefhê nie, maar dit sê wel dat sy hom moet respekteer. Mans, voor julle egter op die troon gaan sit en bevele begin uitdeel, dit beteken dat jy moet bewys dat jy waardig is om gerespekteer te word! Om jou man te respekteer beteken dat jy hom moet eer en waardeer. Wat ‘n vrou van haar man benodig, is dat hy haar hart aanraak en wat ‘n man van sy vrou benodig, is dat sy sy kop aanraak. Dit word sy ego genoem. Mans begeer dat hulle ego’s gevoed word. Wanneer jy nie jou man se ego voed nie, mag hy dalk weerloos wees wanneer hy iemand anders teëkom wat dit wel sal doen! As ‘n vrou, is jy deur God geskep met die vermoë om jou man se ego op ‘n gesonde manier te voed, deur hom te respekteer en te eer. Daar is niks gevaarliker in ‘n huweliksverhouding as disrespek nie. Wanneer ‘n man nie gerespekteer voel nie, sal hy teen jou rebelleer, homself uit die situasie verwyder, of passief word. God het twee eenvoudige reëls gegee om ‘n suksesvolle huwelik te bou. Die eerste is vir mans om hulle vrouens lief te hê en die tweede is vir vrouens om hulle mans te respekteer. Wanneer jy volgens God se reëls optree, kry jy God se resultate. As jy dus God se seën oor jou huis wil hê, begin om dinge op sy manier te doen.

Sielskos: Eks 20:12; Jer 35:1-19; Spr 1:8; Joh 19:25-27

Die huweliksverbond (3)

2018-02-03
1 Petrus 3:7 ABA

‘n Goeie huwelik word op wedersydse opoffering gebou. Adam moes iets naby en kosbaar opoffer om Eva te kry – sy rib. Jou vrou sal weet dat jy lief is vir haar wanneer jy gewillig is om die dinge wat vir jou belangrik is op te offer om aan haar behoeftes te voldoen en haar welstand te verbeter. Te veel mans wil getroud wees, maar steeds as ‘n enkellopende funksioneer. Hulle wil nie tyd, aandag of hulpbronne opoffer tot voordeel van hulle vroue nie. Hulle wil nie ‘n vrou hê nie; hulle wil ‘n bediende hê. Hulle wil met iemand trou sodat hulle bedien kan word. Nee – dit moet die teenoorgestelde wees! Die Bybel sê dat vroue ‘…saam met julle die ware lewe sal kry wat God vir julle sal gee…’ Dit beteken dat sy ‘n gelyke vennoot is. Dus maak haar opinies, gedagtes en perspektiewe saak. Ja, as die leier van jou huis mag jy dalk die finale besluit neem, maar jy moet ook jou vrou se insette en siening oorweeg. Jou vrou sal positief op jou reageer wanneer sy gekoester en gewaardeerd voel (sien Efesiërs 5:29). Jy sê, ‘Maar my vrou is so koud soos ys.’ Hoe het sy so geword? Ys bly net in ‘n koue omgewing ys. In plaas van om te kla, begin werk daarvan maak om jou omgewing te verander. Mans bepaal die klimaat waarvolgens vroue floreer of ineenkrimp. Daar is ‘n rede hoekom jou vrou ‘koud’ is. Daar is egter ‘n oplossing: Maak haar warm en kyk hoe smelt sy! Wanneer jy begin om haar lief te hê, haar te versorg, haar te koester en te beskerm soos Christus met die kerk gedoen het, sal jy ‘n nuwe vrou in jou arms hê. Probeer dit en kyk wat gebeur.

Sielskos: Num 16-18; Matt 12:15-21; Ps 107:33-43; Spr 3:27-28

Die huweliksverbond (2)

2018-02-02
Efesiërs 5:25 NLV

Ons definieer die woord ‘liefde’ op verskeie maniere. Mense sê dinge soos, ‘Ek is lief vir sjokoladekoek,’ of ‘Ek is lief daarvoor om rugby te kyk.’ Wat hulle regtig bedoel is dat hulle van hierdie dinge hou of dit geniet. Die Bybelse definisie van liefde is baie dieper as dit wat ons geniet of opgewonde maak en dit wat ons emosioneel aan mekaar verbind. Om iemand lief te hê is om hulle welstand na te streef en dit ‘n prioriteit te maak. Liefde se eerste belang is altyd: ‘Hoe dra hierdie aksie van my tot my maat se welstand by?’ As dit nie ‘n bydrae maak nie – of as dit die teenoorgestelde doen – is dit nie liefde nie. Die Bybel sê, ‘Getroude mans, julle moet julle vroue liefhê net soos Christus liefde aan die kerk bewys het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het… Op dieselfde manier moet mans hulle eie vroue liefhê. Hulle moet hulle liefhê asof hulle hulle eie liggame is. ‘n Man wat sy eie vrou liefhet, het dus eintlik homself lief. ‘n Mens haat mos nie jou liggaam nie, maar voed en versorg dit…’ (verse 25-29 NLV). As ‘n man, kan jy twee dinge uit hierdie Skrifgedeelte leer: 1) Ons is almal inherent selfsugtig. Een van jou grootste uitdagings sal altyd dus wees om jou vrou se belange voor jou eie te stel en om gewillig te wees om jou eie agenda daarvoor op te offer. 2) Ons moet oefen om sensitief te wees. Dink aan hoe sensitief jy vir jou eie liggaam se pyne en behoeftes is en pas dan dieselfde beginsel aan jou vrou se versorging toe. Dis ‘n groot verantwoordelikheid, maar God sal jou die genade voorsien om dit te doen. Put dus krag uit sy genade!

Sielskos: Num 14-15; Matt 12:1-14; Ps 107:23-32; Spr 3:25-26

Die huweliksverbond (1)

2018-02-01
1 Korintiërs 7:10 NLV

Jy moet aan God se reëls voldoen om sy seën op jou huwelik te ontvang. Om sy beskerming, vrede en voorspoed te geniet, moet jy sy instruksies volg. Julle kan byvoorbeeld ure lank baklei en nie die kwessie oplos nie, maar as jy net God se reëls gevolg het, kon die argument binne minute verby gewees het – met beide partye tevrede met die uitkoms daarvan. Wanneer jou kar breek, neem jy dit terug na die handelaar toe. Hoekom? Omdat hulle dit aan jou verkoop het en weet hoe om dit reg te maak! God het die eerste huwelik ingestel. Wanneer jou verhouding dus in die moeilikheid kom, sal jy, as jy wys is, eerste met Hom daaroor praat voordat julle met mekaar daaroor praat. As jy met die houding trou dat, ‘As hierdie nie uitwerk nie, kan ek altyd skei,’ hardloop jy in die teenoorgestelde rigting van die waarheid van God se Woord. Paulus skryf: ‘Vir die getroudes het ek ‘n opdrag wat nie bloot van my kom nie, maar van die Here self. Dit is dat ‘n vrou nie van haar man mag skei nie. Maar as sy dit tog wel doen, moet sy ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag die man ook nie van sy vrou skei nie’ (verse 10-11 NLV). Ja, daar is aanvaarbare redes vir skei, maar hulle is die uitsondering en nie die reël nie! Onlangs het ‘n Hollywood bekende miljoene rande op haar troue spandeer, net om twee maande later van haar man op grond van ‘uiteenlopenheid van karakter’ te skei. Wanneer jy sê, ‘Tot die dood ons skei,’ sê jy dit voor God en is jy veronderstel om dit te bedoel.

Sielskos: Num 11-13; Matt 11:20-30; Ps 107:17-22; Spr 3:21-24