Die huweliksverbond (3)
2018-02-031 Petrus 3:7 ABA
‘n Goeie huwelik word op wedersydse opoffering gebou. Adam moes iets naby en kosbaar opoffer om Eva te kry – sy rib. Jou vrou sal weet dat jy lief is vir haar wanneer jy gewillig is om die dinge wat vir jou belangrik is op te offer om aan haar behoeftes te voldoen en haar welstand te verbeter. Te veel mans wil getroud wees, maar steeds as ‘n enkellopende funksioneer. Hulle wil nie tyd, aandag of hulpbronne opoffer tot voordeel van hulle vroue nie. Hulle wil nie ‘n vrou hê nie; hulle wil ‘n bediende hê. Hulle wil met iemand trou sodat hulle bedien kan word. Nee – dit moet die teenoorgestelde wees! Die Bybel sê dat vroue ‘…saam met julle die ware lewe sal kry wat God vir julle sal gee…’ Dit beteken dat sy ‘n gelyke vennoot is. Dus maak haar opinies, gedagtes en perspektiewe saak. Ja, as die leier van jou huis mag jy dalk die finale besluit neem, maar jy moet ook jou vrou se insette en siening oorweeg. Jou vrou sal positief op jou reageer wanneer sy gekoester en gewaardeerd voel (sien Efesiërs 5:29). Jy sê, ‘Maar my vrou is so koud soos ys.’ Hoe het sy so geword? Ys bly net in ‘n koue omgewing ys. In plaas van om te kla, begin werk daarvan maak om jou omgewing te verander. Mans bepaal die klimaat waarvolgens vroue floreer of ineenkrimp. Daar is ‘n rede hoekom jou vrou ‘koud’ is. Daar is egter ‘n oplossing: Maak haar warm en kyk hoe smelt sy! Wanneer jy begin om haar lief te hê, haar te versorg, haar te koester en te beskerm soos Christus met die kerk gedoen het, sal jy ‘n nuwe vrou in jou arms hê. Probeer dit en kyk wat gebeur.
Sielskos: Num 16-18; Matt 12:15-21; Ps 107:33-43; Spr 3:27-28