2018-02-12
Genesis 41:35-36 NLV
Josef het vir Farao goeie finansiële raad gegee wat ons almal kan volg: ‘Laat hulle al die kos en graan van hierdie goeie jare in koninklike skure stoor… Op hierdie manier sal daar genoeg wees om te eet wanneer die sewe jaar van hongersnood aanbreek. Indien dit nie gedoen word nie, sal ‘n ramp die land tref en al die mense sal omkom’ (verse 35-36 NLV). Hoe het Farao gereageer? ‘Die farao en sy raadgewers was in hulle skik met Josef se voorstelle’ (vers 37 NLV). Jou finansiële sekuriteit in die toekoms word gewaarborg as jy hierdie drie Skriftuurlike beginsels uitoefen: 1) Gee jou tiende. ‘…Bring al die tiendes na die stoorkamers toe… Toets My hierin of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak nie. Ek sal voorspoed op julle laat reën wat meer as genoeg vir julle sal wees!’ (Maleagi 3:10 NLV). 2) Spaar. Dissiplineer jouself om ‘n sekere persentasie van jou inkomste te spaar. Moenie bekommerd wees as dit net ‘n klein bedrag is nie, maak dit net ‘n prioriteit! As jy dit nie doen nie, sal jy dit op ander dinge spandeer en nooit jou langtermyn doelwitte van universiteit, aftrede of werk vir die Here bereik nie. 3) Betaal jou skuld af. Na jy jou tiende vir God gegee het en gespaar het, strewe daarna om al jou finansiële verpligtinge af te betaal. Hou op om net die minimum op jou kredietkaart af te betaal. Deur hom nie ten volle elke maand af te betaal nie, betaal jy op die ou einde meer as wat jy moet. Betaal soveel skuld as moontlik af, selfs al moet jy sonder ‘n paar goed vir ‘n rukkie klaarkom. Op die ou einde sal jy voorspoedig wees.
Sielskos: Num 34-36; Matt 13:47-58; Ps 138; Spr 4:14-17
2018-02-11
Spreuke 21:20 NLV
Dis dwaas om dinge te koop wat jy nie nodig het of kan bekostig nie, veral as jy rekeninge het om te betaal en jy nog niks vir die toekoms eenkant gesit het nie. Jou finansiële sekuriteit word bepaal deur dit wat jy skuld, nie deur dit wat jy verdien nie! Om jare te moet werk om jou skuld af te betaal, beperk jou opsies geweldig. Bepaal dus jou leefstyl volgens jou ware inkomste, nie deur wat jy wens dit was of wat jy hoop dit sal wees nie. Wanneer jy ‘n verhoging kry, moet ook nie outomaties meer spandeer nie. Die Bybel sê, ‘In ‘n wyse mense se huis is altyd kosbare besittings en uitgesoekte olie. ‘n Dwase mens gebruik alles op wat hy in sy huis het.’ Een van die slimste dinge wat jy vandag kan doen is om vir die toekoms te begin spaar en om ten minste een tiende van jou inkomste vir God se koninkryk te saai, sodat jy ‘n oes sal hê wanneer jy dit nodig kry (sien 2 Korintiërs 9:6). Is jou filosofie in die lewe, ‘Hoekom wag en spaar wanneer ‘n kredietkaart dadelik dit wat ek wil hê kan voorsien?’ As jy dinge koop wat jy nie nodig het nie, met geld wat jy nie het nie, hou dadelik op daarmee! Voordat jy enigiets anders koop, vra jouself af of jy dit regtig nodig het. Selfs al voel jy dat jy dit nodig het, vra jouself af of jy ‘n rukkie daarsonder kan lewe; andersins sal jy ‘n slaaf van jou kredietkaartskuld word. Hier is goeie finansiële raad: Bid vir God se leiding voor jy enige nie-noodsaaklike aankope maak.
Sielskos: Eks 20:13; Gen 4:8-16; Spr 18:21; Matt 5:21-22
2018-02-10
Filippense 3:13 NLV
Om jou geloof te ontwikkel is soos om swemlesse te neem. 1) Vrees is soos water; as jy dit toelaat, sal dit jou ondertoe trek. 2) Jy kan net vir so lank water trap voor jy verdrink. 3) Wanneer jy ‘n sekere punt bereik het, is daar nie kans vir terugdraai nie. 4) Geloof is soos die asem in jou longe; dit sal jou dra en jou drywend hou as jy net ontspan. Het jy al ooit ‘n gesoute swemmer dopgehou? Hy neem stryk vir stryk letterlik dit wat voor hom is en druk dit na agter toe, wat hom na sy doel toe voortdryf. Soms raak ons wanhopig en sê, ‘Ek probeer net my kop bo die water hou.’ Dis goed so, solank jy net aanhou swem. Dis wanneer jy voel dat jy in ‘n hoek gedruk word met geen uitkomkans nie, wat jy aan jou geloof wat God binne in jou geplaas het, moet vashou en moet aanhou vorentoe beweeg. Jesus het gesê, ‘Maar van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe word die koninkryk van die hemele bestorm, en bestormers gryp dit met geweld’ (Matteus 11:12 AFR53). Die woord ‘geweld’ stel woestheid, passie en intensiteit voor. Jy moet meedoënloos wees en jou pad oopveg, met die vertroue dat God aan jou kant is – want Hy is (Psalm 56:10 NLV). Die waters waarin jy is bepaal nie jou lotsbestemming nie; dit kan jou of ondertoe trek of jou daar deur bring. Dit neem geloof om aan te hou en uit te hou. As jy opgee, kan God niks meer vir jou doen nie! So of jy nou vandag borsslag, rugslag of ‘n ander slag waarvan niemand al gehoor het nie, swem – hou aan en hou uit.
Sielskos: Num 32:25-33:56; Matt 13:36-46; Ps 134; Spr 4:5-13
2018-02-09
1 Korintiërs 1:26 NLV
Max Lucado skryf: ‘Edith Hayes was ‘n lewendige tagtigjarige met ‘n onversadigbare passie vir die suide van Florida se kankerpasiënte. Ek was pas uit die kweekskool in 1979 en het in my kantoor tussen ‘n klomp bokse gesit wat nog nie uitgepak was nie, toe sy daar instap en haarself voorstel. ‘My naam is Edith en ek help kankerpasiënte.’ Sy het haar hand uitgesteek. Ek het vir haar ‘n stoel aangebied wat sy beleefd van die hand gewys het. ‘Te besig. Jy sal my span elke Dinsdagoggend hier by die kerkgebou sien. Jy is welkom om te kom inloer, maar as jy dit doen sal ons jou in die werk steek.’ Haar span, het ek met tyd geleer, het ‘n honderd of so bejaarde tannies ingesluit wat hulself met die onsmaaklike taak van wondversorging besig gehou het. Hulle het kankerwonde hulle missie gemaak, elke Dinsdag trokkevol weggooibare pleisters saamgestik en dit dan deur die week aan kankerpasiënte afgelewer. Edith het in ‘n klein huurwoonstelletjie gewoon, van haar wyle man se pensioen gelewe en applous met alle mag vermy.’ Edith se storie doen weg met die verskoning: ‘Ek is te oud om iets vir God te doen.’ Noag was oor die seshonderd jaar oud toe hy uit die ark gestap het en die menslike ras van voor af begin het. As jy ouer is, dink so daaraan: Jy is ‘n lopende bron van dekades se wysheid en kennis. Voor jy dus hierdie aarde verlaat, wy jouself daaraan toe om aan ander te gee wat God aan jou toevertrou het. Op hierdie oomblik het iemand, êrens, iets nodig wat jy het en as jy God vra, sal Hy vir jou wys wie hulle is. Wanneer Hy jou wys – raak betrokke!
Sielskos: Num 30:1-32:24; Matt 13:24-35; Ps 125; Spr 4:3-4
2018-02-08
Handelinge 1:8 ABA
‘n Getuie is iemand wat ‘n gebeurtenis sien en ervaar, en wat dan in ‘n hof daaroor getuig. Dis wat jy geroep is om te doen! Jy sê, ‘Maar ek voel nie gekwalifiseerd daarvoor nie!’ God roep nie die gekwalifiseerdes nie, Hy kwalifiseer die geroeptes. Moenie dat Satan jou anders oortuig nie, want hy sal probeer om dit te doen. Hy sal jou vertel dat God ‘n sekere IK of ‘n ingangsfooi vereis; dat Hy net spesialiste, kundiges of kragtige persoonlikhede gebruik. Nee, Jesus het vir sy dissipels gesê, ‘…Dan sal julle my getuies wees… tot by die einde van die wêreld.’ Julle onopgeleide en eenvoudige mense. Julle temperamentele vissermanne en tollenaars. ‘…Dan sal julle my getuies wees…’ Die een ding waarmee die dissipels goed was, was hulle gewilligheid om ‘n tree te neem wanneer Jesus ‘Volg My,’ gesê het. As jy dus meer loodgieter as direkteur is, of meer blou denim as blou bloed, het jy die nodige kwalifikasies! ‘…Gemeet aan menslike standaarde was daar maar min intellektueles onder julle, nie baie magtiges nie, nie baie uit vooraanstaande families nie. Nietemin het God doelbewus dit wat vir die wêreld na dommigheid gelyk het, uitgekies om die slim mense skaam te maak en dit wat vir die wêreld na totale swakheid gelyk het, het Hy uitgekies om die magtiges skaam te laat kry’ (1 Korintiërs 1:26-27 NLV). Bid dus: ‘Here, U het my in u Koninkryk ingeroep om U in hierdie spesifieke plek, op hierdie spesifieke tyd en vir hierdie spesifieke doel te dien. Ten spyte van my eenvoud behoort ek aan U – en U is alles behalwe eenvoudig! Help my vandag om u genade en welwillendheid op ander mense uit te giet, sodat hulle ook die rykdom van u liefde mag ervaar.’
Sielskos: Num 27-29; Matt 13:10-23; Ps 67; Spr 4:1-2
2018-02-07
1 Samuel 14:6 NLV
Gedurende die vroeë dae van Saul se koningskap, het die Filistyne die westelike grens van Israel beheer en is die grenslyne by die pas genaamd Mikmas getrek. Saul was tevrede daarmee om op die kantlyn te bly sit, maar Jonatan wou in die voorste linie wees. ‘…Kom ons gaan oorkant toe na die Filistyne se wagpos…’ (vers 1 NLV). Dit was net Jonatan en sy wapendraer, dus het hulle kanse nie goed gelyk nie. Wanneer jy egter aksie neem wat deur God se glorie gemotiveer word, beweeg dit die hart en hand van God. Dit benodig ‘n tree in geloof. Dit is dikwels die langste, moeilikste en skrikwekkendste tree wat jy ooit sal neem. Gewoonlik wanneer Israel se konings ‘n stryd betree het, was dit omdat hulle ‘n woord van die Here ontvang het wat hulle oorwinning verseker het. Jonatan het nie so ‘n woord ontvang nie. Hy het eenvoudig gesê, ‘…Dalk help die Here ons…’ Die meeste mense tree uit die teenoorgestelde sienswyse op: ‘Miskien help die Here ons nie.’ Hulle laat toe dat vrees, in plaas van geloof, hulle besluite dikteer. Hulle eindig dus saam met Saul op die kantlyn. Hoe het die stryd vir Jonatan en sy wapendraer uitgedraai? ‘So het die Here Israel daardie dag gered…’ (vers 23 NLV). Dit het net een moedige besluit geverg! Dis al wat dit ooit neem. Wanneer jy aksie neem, sal God namens jou optree. As jy nie aksie neem nie, sal jy altyd wonder ‘wat as?’ Ons grootste berou is wanneer ons nie optree nie – die dinge wat ons sou gehad het, kon gehad het, moes gedoen het maar nie gedoen het nie. Die woord vir jou vandag is dus: Vertrou op God en neem aksie!
Sielskos: Num 25-26; Matt 13:1-9; Ps 120; Spr 3:33-35