God gebruik gewone mense (1)

2018-02-08
Handelinge 1:8 ABA

‘n Getuie is iemand wat ‘n gebeurtenis sien en ervaar, en wat dan in ‘n hof daaroor getuig. Dis wat jy geroep is om te doen! Jy sê, ‘Maar ek voel nie gekwalifiseerd daarvoor nie!’ God roep nie die gekwalifiseerdes nie, Hy kwalifiseer die geroeptes. Moenie dat Satan jou anders oortuig nie, want hy sal probeer om dit te doen. Hy sal jou vertel dat God ‘n sekere IK of ‘n ingangsfooi vereis; dat Hy net spesialiste, kundiges of kragtige persoonlikhede gebruik. Nee, Jesus het vir sy dissipels gesê, ‘…Dan sal julle my getuies wees… tot by die einde van die wêreld.’ Julle onopgeleide en eenvoudige mense. Julle temperamentele vissermanne en tollenaars. ‘…Dan sal julle my getuies wees…’ Die een ding waarmee die dissipels goed was, was hulle gewilligheid om ‘n tree te neem wanneer Jesus ‘Volg My,’ gesê het. As jy dus meer loodgieter as direkteur is, of meer blou denim as blou bloed, het jy die nodige kwalifikasies! ‘…Gemeet aan menslike standaarde was daar maar min intellektueles onder julle, nie baie magtiges nie, nie baie uit vooraanstaande families nie. Nietemin het God doelbewus dit wat vir die wêreld na dommigheid gelyk het, uitgekies om die slim mense skaam te maak en dit wat vir die wêreld na totale swakheid gelyk het, het Hy uitgekies om die magtiges skaam te laat kry’ (1 Korintiërs 1:26-27 NLV). Bid dus: ‘Here, U het my in u Koninkryk ingeroep om U in hierdie spesifieke plek, op hierdie spesifieke tyd en vir hierdie spesifieke doel te dien. Ten spyte van my eenvoud behoort ek aan U – en U is alles behalwe eenvoudig! Help my vandag om u genade en welwillendheid op ander mense uit te giet, sodat hulle ook die rykdom van u liefde mag ervaar.’

Sielskos: Num 27-29; Matt 13:10-23; Ps 67; Spr 4:1-2