God gebruik gewone mense (2)

2018-02-09
1 Korintiërs 1:26 NLV

Max Lucado skryf: ‘Edith Hayes was ‘n lewendige tagtigjarige met ‘n onversadigbare passie vir die suide van Florida se kankerpasiënte. Ek was pas uit die kweekskool in 1979 en het in my kantoor tussen ‘n klomp bokse gesit wat nog nie uitgepak was nie, toe sy daar instap en haarself voorstel. ‘My naam is Edith en ek help kankerpasiënte.’ Sy het haar hand uitgesteek. Ek het vir haar ‘n stoel aangebied wat sy beleefd van die hand gewys het. ‘Te besig. Jy sal my span elke Dinsdagoggend hier by die kerkgebou sien. Jy is welkom om te kom inloer, maar as jy dit doen sal ons jou in die werk steek.’ Haar span, het ek met tyd geleer, het ‘n honderd of so bejaarde tannies ingesluit wat hulself met die onsmaaklike taak van wondversorging besig gehou het. Hulle het kankerwonde hulle missie gemaak, elke Dinsdag trokkevol weggooibare pleisters saamgestik en dit dan deur die week aan kankerpasiënte afgelewer. Edith het in ‘n klein huurwoonstelletjie gewoon, van haar wyle man se pensioen gelewe en applous met alle mag vermy.’ Edith se storie doen weg met die verskoning: ‘Ek is te oud om iets vir God te doen.’ Noag was oor die seshonderd jaar oud toe hy uit die ark gestap het en die menslike ras van voor af begin het. As jy ouer is, dink so daaraan: Jy is ‘n lopende bron van dekades se wysheid en kennis. Voor jy dus hierdie aarde verlaat, wy jouself daaraan toe om aan ander te gee wat God aan jou toevertrou het. Op hierdie oomblik het iemand, êrens, iets nodig wat jy het en as jy God vra, sal Hy vir jou wys wie hulle is. Wanneer Hy jou wys – raak betrokke!

Sielskos: Num 30:1-32:24; Matt 13:24-35; Ps 125; Spr 4:3-4