Wees bewus van God in jou situasie
2018-02-05Genesis 28:16 NLV
Een nag het Jakob ‘n droom gehad. Hy het ‘n leer met engele daarop gesien wat al die pad na die hemel toe gestrek het, en God het vir hom gesê, ‘Ek sal by jou wees en jou beskerm waar jy ook al gaan…’ (vers 15 NLV). Die volgende oggend het Jakob gesê, ‘…Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie geweet nie!’ Wanneer God in jou lewe aan die werk is, kan jy geestelik daarop ingestel wees, of jy kan soos Jakob wees en nie daarvan bewus wees nie. Dit was ‘n alledaagse dag toe Moses die brandende bos opgemerk het – nie ‘n ongewone gebeurtenis in die warm woestynklimaat nie. Hierdie keer het die bos egter aanhou brand en ‘Toe die Here sien dat Moses naderkom om ondersoek in te stel, het Hy uit die bos na hom geroep…’ (Eksodus 3:4 NLV). Jy sal van jou grootste ontmoetings met God in die alledaagse ervarings van die lewe ervaar. Jy moet egter oop en ontvanklik daarvoor wees, anders sal jy Hom misloop. Die skrywer William Barry sê: ‘Of ons nou bewus is daarvan of nie, ons kom God op elke oomblik van ons bestaan teë. Hy probeer ons aandag trek om met ons in ‘n wedersydse, bewustelike verhouding te wees.’ Jy weet nooit waar Hy te voorskyn sal kom, of deur wie Hy sal praat nie. Paulus skryf, ‘…Word wakker, jy wat slaap…’ (Efesiërs 5:14 NLV). Jy kan wakker word vir ‘n wonderbaarlike genesing, ‘n herstelde verhouding of selfs ‘n groot toets. Moenie net na God vir jou oorwinnings kyk nie, kyk ook na Hom wanneer jy moeilikheid ondervind. Die teoloog Frederick Buechner het gesê, ‘Daar is geen alledaagse gebeurtenis waar God nie teenwoordig is nie en laat jou sodoende ruimte om Hom te herken of nie te herken nie.’
Sielskos: Num 19-21; Matt 12:22-37; Ps 111; Spr 3:29-30