Die huweliksverbond (1)

2018-02-01
1 Korintiërs 7:10 NLV

Jy moet aan God se reëls voldoen om sy seën op jou huwelik te ontvang. Om sy beskerming, vrede en voorspoed te geniet, moet jy sy instruksies volg. Julle kan byvoorbeeld ure lank baklei en nie die kwessie oplos nie, maar as jy net God se reëls gevolg het, kon die argument binne minute verby gewees het – met beide partye tevrede met die uitkoms daarvan. Wanneer jou kar breek, neem jy dit terug na die handelaar toe. Hoekom? Omdat hulle dit aan jou verkoop het en weet hoe om dit reg te maak! God het die eerste huwelik ingestel. Wanneer jou verhouding dus in die moeilikheid kom, sal jy, as jy wys is, eerste met Hom daaroor praat voordat julle met mekaar daaroor praat. As jy met die houding trou dat, ‘As hierdie nie uitwerk nie, kan ek altyd skei,’ hardloop jy in die teenoorgestelde rigting van die waarheid van God se Woord. Paulus skryf: ‘Vir die getroudes het ek ‘n opdrag wat nie bloot van my kom nie, maar van die Here self. Dit is dat ‘n vrou nie van haar man mag skei nie. Maar as sy dit tog wel doen, moet sy ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag die man ook nie van sy vrou skei nie’ (verse 10-11 NLV). Ja, daar is aanvaarbare redes vir skei, maar hulle is die uitsondering en nie die reël nie! Onlangs het ‘n Hollywood bekende miljoene rande op haar troue spandeer, net om twee maande later van haar man op grond van ‘uiteenlopenheid van karakter’ te skei. Wanneer jy sê, ‘Tot die dood ons skei,’ sê jy dit voor God en is jy veronderstel om dit te bedoel.

Sielskos: Num 11-13; Matt 11:20-30; Ps 107:17-22; Spr 3:21-24