Elke kind is uniek

2018-01-26
Jeremia 1:5 NLV

Kom ‘n baba in die wêreld met ‘n komplekse persoonlikheid, of is daardie kind ‘n skoon boek waarin ervaring sal skryf? In die verlede, het gedragswetenskaplikes geglo dat nuwe babas geen persoonlike of emosionele karaktereienskappe by geboorte het nie. Hulle klein persoonlikhede is glo heeltemal deur die opeenvolgende jare gevorm. Die meeste ouers het egter van beter geweet. Elke ma van twee of meer kinders was van die eerste keer wat sy hulle vasgehou het oortuig daarvan dat elkeen van haar babas verskillende persoonlikhede het. Nou, na jare se navorsing, het verskeie kenners in kinderontwikkeling erken dat daardie ma’s reg was. Een belangrike studie het nege karaktereienskappe wat by babas wissel, geïdentifiseer – soos buierigheid, vlak van aktiwiteit en hoe hulle reageer. Hulle het ook bevind dat hierdie selfde eienskappe steeds in latere jare by die kinders voorkom. Babas verskil inderwaarheid op onmeetbare maniere wat ons persoonlikheid en ons individualiteit definieer. As elke sneeuvlokkie wat val sy eie ontwerp het en elke korreltjie sand uniek is, maak dit geen sin om te dink dat kinders almal dieselfde sal wees nie. Ja, die omgewing en menslike ervarings speel ‘n baie belangrike rol om ons te vorm in wie ons is en hoe ons dink. Daar kan egter geen twyfel wees dat elke persoon op aarde ‘n unieke skepping van die eerste oomblikke van hulle lewens is nie. Soos God vir Jeremia gesê het: ‘Ek ken jou nog voordat jy gevorm is in die skoot van jou moeder. Voor jou geboorte al het Ek jou gekies…’ Jou kinders is almal uniek.

Sielskos: Num 1-2; Matt 10:11-20; Ps 100; Spr 3:7-8