Hou aan bid!
2018-01-30Kolossense 4:2 NLV
In 1964 het kommunistiese Simba rebelle die dorp Bunia in Zaïre ingeneem. Hulle het baie inwoners gearresteer en tereggestel. ‘n Pastoor met die naam van Zebedayo Idu was een van hulle slagoffers. Hulle het hom ter dood veroordeel en hom vir die nag in die tronk gegooi. Die volgende oggend is hy en ‘n groot aantal gevangenes na ‘n publieke plek vir hulle teregstelling geneem. Sonder enige verduideliking, het een van die rebelle die gevangenes beveel om in ‘n lyn te staan en begin tel – ‘een, twee, een, twee, een, twee.’ Al die gevangenes wat ‘een’ genommer is is voor die vuurpeleton staangemaak terwyl diegene wat ‘twee’ genommer is na die tronk toe teruggevat is. Pastoor Idu was een van die wat gespaar is. Terug in die tronkselle, kon die gevangenes die klank van geweerskote hoor. Die pastoor het hierdie dramatiese oomblik gebruik om die verhaal van Jesus met die ander gevangenes te deel. Agt van die gevangenes het daardie dag hulle lewens vir Christus gegee. Net toe pastoor Idu klaar was om die Goeie Nuus met hulle te deel, het ‘n opgewonde boodskapper met ‘n vrylatingsbevel vir hom daar aangekom. Die pastoor is per ongeluk gearresteer en was vry om te gaan. Hy het vir die ander gevangenes totsiens gesê en hom na sy huis langs die kapel gehaas. Daar het hy ‘n groep gelowiges aangetref wat besig was om vir sy vrylating te bid. Toe hulle die antwoord op hul gebede deur die deur sien stap, het hulle gebedsdiens in ‘n lofprysingsdiens verander. Dieselfde God wat die gebede van die kerk in Jerusalem in die Nuwe Testament aangehoor het en Petrus van teregstelling gered het, het die gebede uit Zaïre gehoor en hulle pastoor gered (sien Handelinge 12:5). God luister steeds, hou dus aan bid!
Sielskos: Num 7; Matt 11:1-9; Ps 107:1-9; Spr 3:13-18