‘n Klein verandering kan ‘n groot verskil maak

2018-01-28
Sagaria 4:10 NLV

Stel jou voor waar die tempel in ‘n puinhoop lê en van die grond af herbou moet word. Dis hoe dit was toe Sagaria sy visie met die mense van Israel gedeel het. Sommige van hulle het gedink dat dit nie gedoen kan word nie en ander het gedink dat hulle spesifieke bydraes nie ‘n verskil sou maak nie. Dus het Sagaria hulle met die volgende woorde uitgedaag: ‘Die werk wat nou aan die gang is, lyk miskien klein en nie waffers nie. Maar moenie die waarde daarvan onderskat nie. Die mense sal rede hê om bly te wees as hulle sien dat Serubbabel met die bouwerk aangaan.’ In 1963 het die metereoloog, Edward Lorenz, die hipotese voorgestel wat as die skoenlappereffek bekend sou word. Hy het bespiegel dat ‘n klein gebeurtenis, soos die klap van ‘n skoenlapper se vlerke in Brasilië, moontlik die windstrome so kon affekteer dat dit ‘n tornado in Texas kon veroorsaak. Lorenz het tot die eenvoudige dog diepsinnige gevolgtrekking gekom: ‘Miniskule veranderinge in insette kan makroskopiese veranderinge in uitsette veroorsaak.’ Hierdie eenvoudige ontdekking het die mag om jou lewe te verander. Dit kan jou geestelike, emosionele, verhoudings of finansiële vooruitskatting radikaal verander. Dit kan die atmosfeer van jou organisasie of jou huwelik verander. Een besluit. Een verandering. Een risiko. Een idee. Dis al wat dit verg. Jy hoef nie eenhonderd veranderinge te maak nie. Jy moet eenvoudig net 100 persent aan een verandering verbind wees. Dit sal al jou inspanning verg. Dit sal moontlik die moeilikste ding wees wat jy ooit sal doen. Daardie een verandering het egter die potensiaal om ‘n 100 persent verandering in jou lewe te maak.

Sielskos: Eks 20:8-11; Jes 58:13-14; Luk 4:16; Heb 10:19-25