Geseënd in elke area van die lewe
2018-01-27Efesiërs 1:3 NLV
Boer Smith het gedurende die Groot Depressie gelewe en het gesukkel om die verband op sy plaas te betaal. Uiteindelik het die bank hom dertig dae gegee om die uitstaande paaiemente te betaal, of die bank sou die plaas terugvat. Toe het iets wonderliks gebeur. ‘n Man van ‘n oliemaatskappy het voor sy deur opgedaag en gevra of hulle vir olie op sy plaas kan boor. Aangesien hy in elk geval op die punt was om die plaas te verloor, het Boer Smith ingestem. Die maatskappy het gekom en ‘n groot olieaar raakgeboor. Onmiddellik was Boer Smith ‘n multimiljoenêr. Nou is die vraag – Wanneer het hy ‘n miljoenêr geword? Was dit toe die olie op die plaas ontdek is, of toe hy die plaas in die eerste plek gekoop het? Hy was ‘n miljoenêr die oomblik toe hy die plaas gekoop het, maar hy het in armoede gelewe omdat hy nie geweet het wat onder sy grond en binne sy bereik gelê het nie. Die Bybel sê, ‘…[God] het al die geestelike skatte wat daar in die hemel is, verniet vir ons gegee.’ Sommige mense dink dat die enigste ding wat God vir jou sal doen is om jou met verlossing te seën, en dan laat Hy jou vir die res van jou lewe sukkel tot jy in die hemel kom. Solank as wat jy dit glo, lewe jy in jou eie geestelike weergawe van die Groot Depressie. Jy is geestelik arm en geestelik swak omdat jy nie weet wat in Christus vir jou beskikbaar is of hoe om toegang daartoe te kry en in jou lewe te gebruik nie. Weier om so te lewe. Lees eerder jou Bybel en begin om op God se beloftes in elke area van jou lewe aanspraak te maak.
Sielskos: Num 3:1-4:33; Matt 10:21-31; Ps 104:1-23; Spr 3:9-10