Jou nuwe ligaam, soos Christus s’n

2018-01-22
Filippense 3:21 NLV

Die Bybel sê dat ons hemelse liggame presies soos Jesus s’n na sy opstanding sal wees. Hy het nog soos Homself gelyk, want die dissipels kon Hom herken. Hy het saam met hulle geëet en gedrink. Hy kon aangeraak word. Hy kon wonderbaarlik deur mure beweeg. Hy kon in verskeie plekke aan verskillende mense verskyn sonder dat hy gewone maniere van reis gebruik het. Sy getransformeerde liggaam het nie meer ouer geword nie en was ook nie aan siekte of die dood onderworpe nie. Jou nuwe liggaam sal soos syne wees. ‘…Christus was die eersteling; daarna, wanneer Christus terugkom, sal al sy mense opgewek word. Vervolgens sal die einde kom…’ (1 Korintiërs 15:23-24 NLV). Die Skotse Presbiteriaan, Robert Bailie, is in 1684 ter dood veroordeel vir sy beweerde betrokkenheid by ‘n komplot om koning Charles II te vermoor. Hy sou gehang word, waarna sy kop en hande aan ‘n plaaslike brug vasgespyker sou word. Hoe het hy gereageer? Deur die volgende Skrifgedeelte aan te haal: ‘Ons daarteenoor het ons burgerskap in die hemel. Van dáár verwag ons ook die Here Jesus Christus as Redder. Hy sal ons vernederde liggame verander in liggame met goddelike heerlikheid…’ (Filippense 3:20-21 NLV). Toe het hy verklaar: ‘Hulle mag dalk my liggaam opkap soos hulle wil, maar ek weet verseker dat niks verlore sal gaan nie, omdat my liggaam weer soos Christus se wonderbaarlike liggaam sal word.’ Of jy nou eendag in ‘n kis begrawe word en of jy veras word, maak geen verskil nie. God het jou vir ‘n wonderbaarlike liggaam voorberei, net soos Christus s’n.

Sielskos: Dan 8-10; Matt 9:1-13; Ps 89:15-37; Spr 2:21-22