Moenie dit net lees nie, doen dit (2)
2018-01-24Johannes 14:26 NLV
Jesus het sy bergrede met ‘n treffende verhaal, wat die gaping tussen weet en doen aanspreek, afgesluit: ‘Elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, is soos ‘n verstandige persoon wie se huis op soliede rots gebou is’ (Matteus 7:24 NLV). Die probleem is dat ons dit makliker vind om slim, eerder as goed, te wees. Jy het nie nodig om meer van die Bybel te weet tot jy dit wat jy reeds weet, begin uitoefen nie. John Ortberg sê dat toe hy tennis afgerig het, sou onervare nuwelinge worstel met die besluit oor die tipe raket wat hulle moet koop – moet dit nylon snare wees, hoe styf moet dit gesnaar wees, ens. Die probleem was dat hulle nog nie eers ‘n bal kon slaan nie. In plaas daarvan om oor die kleinighede te debatteer, moes hulle net begin oefen. ‘n Woord van waarskuwing egter: Jy kan nie die Woord begin doen deur op jou eie krag en wilskrag staat te maak nie. Die Heilige Gees wat binne in jou woon word in die Skrif die ‘Voorspraak’ genoem. Wanneer jy besluit om dit wat reg is te doen, sal die Heilige Gees binne in jou jou bemagtig. Wanneer ‘n situasie hom voordoen, sal Hy jou voorsê wat om te doen. Jesus het belowe, ‘…wanneer die Raadgewer, die Heilige Gees, kom wat die Vader in my Naam sal stuur, sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.’ Jy vra, ‘Maar wat as ek dit nie regkry nie?’ Hy sal met jou werk en jou geleenthede gee totdat jy dit regkry.
Sielskos: Jak 1-2; Matt 9:27-38; Ps 91; Spr 3:3-4