Die verskil tussen Simson en Samuel (2)

2018-01-18
Rigters 14:3 NLV

Die tweede verskil: Verhoudings. “Sy ouers vra toe vir hom: ‘Is daar nie iemand tussen die mense van jou stam of onder jou volksgenote met wie jy kan trou nie? Moet jy nou onder die heidense Filistyne ‘n vrou vat?’ Simson het vir sy pa gesê: ‘Kry haar vir my. Ek wil haar hê.'” Wanneer dit by verhoudings gekom het, is Simson deur sy laer beginsels eerder as die beginsels van God se Woord gelei. Hy het duur daarvoor betaal. Drie keer lees ons in die Skrif: ‘Simson het afgegaan…’ (vers 1 NLV). Hy het afgegaan na Timna toe en met die verkeerde vrou getrou. Hy het afgegaan na Gasa toe en die nag met ‘n prostituut deurgebring. Hy het afgegaan na die Sorekvallei toe, in Delila se skoot opgeëindig en sy krag, sy vryheid, sy reputasie, sy seën en sy lewe verloor. Samuel, aan die ander kant, is grootgemaak om die bediening te suiwer. Eli, die Hoëpriester, het twee seuns gehad, Hofni en Pineas, wat hy vir die priesterskap bestem het. Hulle het egter omkoopgeld aanvaar om sondes te bedek en openlik met prostitute omgegaan. Daar is ‘n les vir elke verloste kind van God hieruit te leer: ‘Moenie saamspan met ongelowiges nie…’ (2 Korintiërs 6:14 NLV). Is God bevooroordeeld wanneer Hy dit sê? Nee, Hy is beskermend! Wanneer jy in ‘n verhouding met iemand ‘saamgespan’ is wat nie jou geloof, jou waardes, jou doelwitte en jou prioriteite deel nie, eindig jy op waar julle mekaar in verskillende rigtings probeer trek. Wanneer probleme te voorskyn kom, soos hulle verseker sal, het jy iemand langs jou sy nodig wat na dieselfde bron draai om die oplossing te kry: na God toe.

Sielskos: Dan 1-2; Matt 8:10-17; Ps 81; Spr 2:11-15