God wil jou bevry
2018-01-10Johannes 8:36 NLV
Wanneer jy ‘n krygsgevangene word, beheer die vyand al jou bewegings en besluit hulle hoe elke dag van jou lewe sal wees. Het die vyand jou gevangene geneem? Miskien het jy al oor en oor probeer vrykom van jou verslawing, maar jy word steeds daardeur gevange gehou. Daar is goeie nuus: ‘As die Seun julle dus bevry, sal julle regtig vry wees.’ Of jy nou aan dwelms, alkohol, dobbel, kos of enigiets anders verslaaf is, jou antwoord lê nie in die natuurlike nie, maar in die bonatuurlike. Jou verslawing is ‘n ‘simptoom’ van ‘n dieper geestelike toestand wat Jesus, die Groot Geneesheer, wil gesond maak. In die kern van elke twaalf-stap program lê hierdie waarheid: Dis net deur na ‘n mag wat groter as onsself is te draai en ‘n verhouding met Hom te ontwikkel, wat ons vry kan word en vry kan bly. Jy weet wie hierdie ‘mag’ is – Jesus! Wanneer jy rusteloos, geïrriteerd en ontevrede voel, sal sy teenwoordigheid aan jou vrede en kalmte gee. Wanneer jy in die versoeking kom om na jou verslawing te draai om verligting te kry, sal sy teenwoordigheid die leegheid binne in jou vul en jou in staat stel om nee te sê. Wanneer jy ‘euforiese herinnerings’ ervaar en aan die beste tye van jou verslawing in plaas van die slegste tye begin dink, sal sy Woord jou gedagtes vernuwe en jou houding omvorm; en jou die regte pad op daardie oomblik aanwys. ‘U woord is ‘n lamp vir my voete en ‘n lig op my pad’ (Psalm 119:105 NLV). Petrus het gesê, ‘Die Here weet dus om dié mense wat naby aan Hom leef, uit beproewing en swaarkry te red…’ (2 Petrus 2:9 NLV). Vandag wil God jou bevry.
Sielskos: Lev 13:38-14:57; Matt 5:38-48; Ps 3; Spr 1:29-31