Sleutels tot Bybelstudie (2)
2018-01-05[three_fourth_las Psalm 119:18 NLV
Hier is ‘n paar waardevolle sleutels om meer uit jou Bybelstudietyd te kry: 1) Vra vrae. Hoe meer vrae jy vra, hoe meer sal jy daaruit kry. Aan wie is hierdie geskryf? Wat was die skrywer se situasie? Wat is die kernboodskap wat die skrywer wou oordra? Terwyl jy sulke vrae vra, sal jy dinge ontdek wat jy oorgesien het of nooit vantevore raakgesien het nie. Die Psalmdigter was ‘n mediteerder en ‘n in-diepte student van God se Woord. Dit is hoekom hy gebid het, ‘Maak oop my oë sodat ek die wonders kan sien wat opgeskryf is in u gebooie.’ 2) Skryf die antwoorde neer. Die doel daarvan om vrae te vra is om antwoorde te kry. Dawson Trotman het gesê, ‘Gedagtes ontknoop wanneer dit deur die lippe en vingerpunte reis.’ Hou dus jou notaboek gereed en skryf die stukkies waarhede wat God jou gee, neer. As jy dit nie doen nie, sal jy hulle verloor. 3) Moet dit nie net ontdek nie, doen dit! Die evangelis D.L. Moody het gesê, ‘Die Bybel is nie gegee om ons kennis te vermeerder nie, maar om ons lewens te verander.’ Jakobus het geskryf, ‘Julle moet mense word wat dóén wat die Woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie…’ (Jakobus 1:22 NLV). Vra jouself af, ‘Watter sienswyses moet ek verander? Wat moet ek ophou om te doen en wat moet ek begin doen? Wat moet ek begin glo, of ophou glo? Aan watter verhoudings moet ek werk? Hoe moet ek ander mense bedien?’ Moenie na jou Bybel toe gaan met die idee om ‘n waarheid te ontdek wat niemand nog ooit gesien het, of iets om ander mense mee te beïndruk nie. Vind uit wat God vir jou sê.
Sielskos: Lev 1-4; Matt 4:12-25; Ps 10:1-11; Spr 1:10-16