Dra vrugte en deel vrugte

2017-12-28
Matteus 7:20 NLV

Wanneer ons van die ‘vrugte van die Gees’ praat, praat ons van hierdie nege karaktereienskappe: ‘…liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing…’ (Galasiërs 5:22-23 NLV). Hierdie vrugte is nie net vir vertoon nie, hulle is daar om gedeel te word. Veronderstel jy ry na ‘n padstal toe met die doel om vars groente te koop. Jy sien vars tamaties, pampoen, komkommer, spinasie en ‘n wye verskeidenheid ander groente – alles wat jy nodig het en meer. Net soos jy begin om vir jou groente uit te kies, staan die boer wie se padstal dit is nader en sê, ‘Jammer, hierdie groente is nie te koop nie. Ek geniet dit net om hulle te groei en dan te kyk hoe hulle vrot word. Dan gooi ek dit weg.’ Huh? Jy het in alle waarskynlikheid nog nooit so ‘n absurde situasie teëgekom nie en sal ook sekerlik nooit. Dis omdat boere en klante weet dat groente daar is om geëet te word. Ja, hulle is mooi om na te kyk, maar God het hulle geskep met die doel om mense te voed en hulle gesond te hou. As ons slegs kerk toe gaan en oor die vrugte preek, die vrugte analiseer en mekaar se vrugte ondersoek, misluk ons klaaglik. Dis nie net genoeg om vrugte voort te bring nie, ons moet ook die vrugte met ander mense deel, sodat hulle geseën kan word en deur die koninkryk van God verander kan word. Paulus skryf, ‘want ons is God se handewerk. Hy het ons in ons verhouding met Christus Jesus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe’ (Efesiërs 2:10 NLV). Om vrugte te dra en vrugte te deel, is twee kante van dieselfde munt.

Sielskos: Job 32-34; Luk 2:41-52; Ps 139:13-24; Pred 11:4-6