Opbou van mense (2)
2017-12-22Romeine 5:2 NLV
Twee mans wat ‘n hospitaalkamer gedeel het, het vriende geword. Die een man se bed was langs die enigste venster in die kamer. Die ander man moes heeltyd plat op sy rug lê. Elke dag het die man by die venster die aktiwiteite en kleur van die buitewêreld beskryf: die park langs die dam, die eende wat swem, kinders wat speel, paartjies wat hand aan hand loop, die horison in die verte. Sy vriend, wat niks hiervan kon sien nie, het geglimlag en dit in sy geestesoog gesien. Op ‘n dag het die man by die venster gesterf en is sy vriend na sy plek toe geskuif. Hy het homself versigtig opgelig om buitentoe te kyk en was verstom om ‘n vaal baksteenmuur te sien. Verward het hy die suster gevra hoekom sy vriend die buitewêreld so mooi en besig beskryf het. Sy het geantwoord, ‘Hy was inderwaarheid blind en kon nie eens die baksteenmuur sien nie. Hy wou jou net bemoedig.’ Paulus het gesê, ‘Ons moet aan die beswil van ons naastes dink en hulle so in hulle geloofslewe help opbou.’ Daar is groot bevrediging daarin om mense te bemoedig, veral as jou eie situasie minder as ideaal is. ‘n Skrywer sê, “‘n Verliefde meisie dink sy is die mooiste vrou in die wêreld omdat haar jongman dit vir haar sê. Wanneer ‘n onderwyser vir ‘n student sê dat hy slim is, werk hy harder en bereik hy meer. Wanneer ‘n ouer vir ‘n kind sê dat sy geliefd is, het sy die selfvertroue om vir die sterre te reik. Aan die ander kant, kan ‘n dokter wat vir ‘n pasient sê dat hy terminaal siek is, die sterfproses bespoedig.” Woorde is kragtig; gebruik joune om ander mense op te bou.
Sielskos: Job 18-20; Luk 1:57-66; Ps 113; Pred 10:5-9