God se leiding
2017-12-262 Korintiërs 5:7 NLV
Goeie leiers sal vir jou sê dat daar tye is wat hulle onseker is; wanneer hulle nie alles weet wat hulle graag sal wil weet nie. As hulle regtig eerlik is, sal hulle erken, ‘Ek is bly dat die mense wat ek veronderstel is om te lei nie weet hoe baie ek nie weet nie!’ Of jy nou ‘n leier of ‘n volgeling is, die Bybel sê, ‘…ons leef deur te glo en nie te sien nie.’ Kom ons wees egter eerlik; soms weet ons wat God wil hê ons moet doen, maar ons hou nie daarvan nie. Dus bid ons in die hoop dat Hy van gedagte sal verander en dit wat ons wil hê, sal goedkeur. Dit gaan nie gebeur nie. God kan jou nie verder as jou laaste daad van ongehoorsaamheid seën nie. In Hebreërs lees ons, ‘Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom geroep het, gehoorsaam weggetrek na die land wat God vir hom as ‘n erfdeel sou gee. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland’ (Hebreërs 11:8 NLV). Wanneer jy God volg, weet jy die meeste van die tyd nie so baie soos jy graag sou wou weet nie. Daar kom egter ‘n tyd waar jy jou gemaksone moet verlaat en in die rigting moet beweeg wat God vir jou wys. Sal jy die antwoorde op al jou vrae en helderheid oor jou bekommernisse hê? Nee. Net soos jou kar se ligte nie om die volgende hoek kan skyn nie, sal God jou instruksies gee soos jy dit nodig kry. Dit hou jou afhanklik van Hom, help jou om te onthou wie in beheer is en wie die eer vir jou sukses verdien. God se leidings neem ‘n leeftyd om te leer, moet dus nie mismoedig raak nie.
Sielskos: Job 24-28; Luk 2:21-33; Ps 97; Pred 10:15-19