Hoe om vir ander mense te bid
2017-12-171 Timoteus 1:2 NLV
Meeste van die tyd weet ons nie waar deur ander mense gaan of watse probleme hulle het nie. As jy dus besluit om vir hulle te bid, volg Paulus se voorbeeld, waar hy vir God gevra het om vir Timoteus die volgende drie dinge te gee: 1) Onverdiende goedheid. Dit beteken God se genade wat jou die vermoë sal gee om dit te kan hanteer wat ook al oor jou pad kom. Hier is ‘n wonderlike Bybelse belofte waarop jy kan staan in moeilike tye: ‘In sy onverdiende goedheid het God julle geroep om in Christus deel te hê aan sy ewige heerlikheid. Nadat julle vir ‘n kort tydjie swaargekry het, sal Hy julle self weer herstel…’ (1 Petrus 5:10 NLV). 2) Ontferming. ‘n Groot uitgewersmaatskappy het ‘n masjien gehad wat outomaties aan mense kennisgewings gestuur het om hulle daaraan te herinner dat dit tyd was om weer hulle intekening te hernu. Een dag het iets verkeerd gegaan en ‘n boer het 9 734 kennisgewings gekry. Hy het na die naaste poskantoor gery, sy tjek gepos en geskryf, ‘Stuur vir my die tydskrif. Ek gee op!’ Dis hoe God werk. Hy hou aan om vir ons kennisgewings te stuur. ‘…Hy hou nooit op om vir ons om te gee nie. Sy liefde het geen einde nie. Op u ontferming kan ‘n mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut’ (Klaagliedere 3:22-23 NLV). 3) Vrede. Die vrede van God kan ons in die ergste omstandighede dra. God se vrede is ‘…wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:7 NLV). Wanneer jy dus nie seker is hoe om vir iemand te bid nie, vra God om vir hulle sy onverdiende goedheid, ontferming en vrede te gee.
Sielskos: Lev 27:30-33; Num 31:48-54; 1 Kor 16:1-3