Moet dit nie sonder God aanpak nie

2017-12-10
Sagaria 4:6 NLV

Serubbabel is geroep om die tempel te herbou. Dit was ‘n massiewe taak, dus het God vir hom gesê, ‘…Nie met mag of krag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige. Wie is jy, grote berg? Voor Serubbabel word jy sommer ‘n gelyk pad!..’ (verse 6-7 NLV). Wanneer God jou roep, moet jy weet: 1) Jy gaan dalk alleen moet stap. Wanneer God jou roep, neem mense dikwels aan dat jy sterk is en niks nodig het nie. Hulle besef nie dat jy net ‘n gewone mens is wat soms vreesbevange is en meer verwonderd oor jou sukses as hulle is nie. Wanneer niemand by jou staan of jou versterk nie, kan jy maklik ontmoedig word. 2) Jy het God se hulp nodig, anders gaan jy moeilikheid kry. Simson het dit ontdek: ‘…Hy het uit die slaap wakker geword en by homself gedink: ‘Ek sal weer uit die ding uitkom soos al die vorige kere.’ Maar hy het nie geweet dat die Here hom verlaat het nie. Die Filistyne het hom vasgebind…’ (Rigters 16:20-21 NLV). God het teruggestaan en vir Simson laat besef dat dit die Here was wat hom sterk gemaak het, nie hyself nie. Jy moet dus in afhanklikheid van God lewe. 3) Dis God se krag, nie joune nie, wat die verskil maak. God se ‘…krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking…’ (2 Korintiërs 12:9 NLV). Jy weet dat jy waarlik gesalf is wanneer God gebroke toerusting neem en bonatuurlike seges daarmee behaal. Dit gebeur egter net wanneer jy sê, ‘Here, ek kan nie sien hoe U dit deur my kan doen nie, maar ek vertrou U om dit te doen.’ Dís wanneer Hy betrokke raak!

Sielskos: 1 Kon 17:17-24; Mark 5:21-43; Joh 11:1-45