Doen wat God vir jou sê (3)

2017-12-13
Genesis 6:9 AFR53

Wat het deur Noag se gedagtes gegaan toe God vir hom sê om ‘n boot in die middel van droë land te bou? Niemand het dit al vantevore gedoen nie. Tog sê die Bybel, ‘Noag het presies gemaak soos God hom beveel het’ (vers 22 NLV). Hoe het hy dit gedoen? ‘…Noag het met God gewandel.’ Wanneer mens wandel, loop jy tree vir tree. Die moeilikheid is dat ons wil hê dat God die tweede tree moet openbaar voordat ons die eerste tree in geloof neem. Totdat ons egter die eerste tree neem, sal Hy nie die volgende tree openbaar nie. Indien ons meer daarvan wil hê, moet ons gehoorsaam wees aan die maat van openbaring wat Hy gee . Dis hoekom ons geestelik vasgevang word. Ons wil Christus tot op die punt van waar ons al voorheen was, volg – maar nie verder nie. Ons is bang om iets te doen wat ons nog nooit vantevore gedoen het nie, omdat dit ‘n onbekende gebied is. Ons eis dus nie nuwe gawes, nuwe seëninge en nuwe drome op wat God vir ons wil gee nie. Jy moet verby die vrees van die onbekende druk. Jy moet iets anders doen. ‘n Impala kan drie meter hoog en nege meter ver spring, maar kan tog in ‘n kamp met 1,5 meter hoë mure gevange gehou word. Hoekom? Omdat die impala nie sal spring as hy nie kan sien waar hy gaan land nie. Ons het dieselfde probleem. Ons wil ‘n waarborg hê voor ons ‘n sprong in geloof neem, maar dit haal geloof uit die situasie uit. Ons is geroep om ‘…te leef deur te glo en nie deur te sien nie’ (2 Korintiërs 5:7 NLV). Die woord vir jou vandag is dus: Doen wat God vir jou sê.

Sielskos: Gen 50; Hag 1-2; Joh 19:1-17; Ps 18:1-29; Spr 26:24-27