Doen wat God vir jou sê (1)

2017-12-11
Genesis 6:22 NLV

Noag se ark was 300 ellemate lank, 50 ellemate breed en 30 ellemate hoog. ‘n Ellemaat is die ekwivalent van 44.45 cm. Dit beteken dat die ark ongeveer die lengte van een en ‘n half rugbyvelde was. Die interne volume van die ark was 43 000 kubieke meter – die ekwivalent van 569 treinwaens. As die gemiddelde dier die grootte van ‘n skaap was, het dit die kapasiteit vir 125 000 diere gehad. Om dit in perspektief te plaas, is daar 2 000 diere van 365 verskillende spesies by die Johannesburgse Nasionale Dieretuin. Dit beteken dat jy sestig nasionale dieretuine in Noag se ark kon inpas. Omdat dit ook die eerste boot was wat ooit gebou is, het dit nie met aanwysings gekom nie. Dit was rugbrekende werk wat bloed, sweet en trane gekos het. Dit het ‘n wonderbaarlike hoeveelheid geloof geneem om die ark te bou. Wie bou ‘n boot in die woestyn? Wie timmer iets vir 120 jaar aanmekaar wat hulle dalk nie eers gaan nodig kry nie? Wie reken hulle hele toekoms op iets wat nog nooit vantevore gebeur het nie? Volgens Joodse tradisie, het Noag nie net eendag die ark begin bou nie. Hy het eers die bome geplant. Nadat hulle volgroeid was, het hy hulle afgekap, in planke gesaag en die boot gebou. Hier is ‘n interessante brokkie inligting: Eers in die negentiende eeu is daar weer ‘n boot van hierdie grootte gebou. Tog word die ark se ontwerp en ratios steeds as die goue reël vir stabiliteit in storms op see gesien. Noag se daad van gehoorsaamheid het letterlik die wêreld verander. Gehoorsaamheid sal jou wêreld ook verander, doen dus wat God vir jou sê.

Sielskos: Gen 44-46; Joh 18:1-24; Ps 105:1-7; Pred 5:13-16