Inspanning en luiheid

2017-12-08
Spreuke 14:23 NLV

In die boek Spreuke, praat Salomo gereeld van luiaards. ‘n Luiaard is nie ‘n persoon wat sal werk, maar nie ‘n werk kan kry nie; ‘n luiaard is ‘n persoon wat kan werk maar nie wil nie. Daar is ‘n verhaal van ‘n man wat vir hulp by die welsynskantoor aansoek gedoen het. Die welsynswerker het gevra, ‘Hoekom het jy finansiële hulp nodig?’ Hy het geantwoord, ‘Ek het probleme met my oë.’ Die werker het gevra, ‘Wat is die aard van die oogprobleem?’ Die man het geantwoord, ‘Ek kan myself net nie sien dat ek elke dag gaan werk nie.’ Elke luiaard het oogprobleme. Of dit pla hom nie solank iemand anders net die werk doen. President Theodore Roosevelt was reg toe hy gesê het: ‘Moet nie jammer wees vir enige man omdat hy moet werk nie. As hy sy sout werd is, sal hy werk. Ek beny die man wat werk het wat waardevol is om te doen en wat dit goed doen. Die beste prys wat die lewe bied, is by verre die kans om hard te werk aan iets wat betekenisvol is.’ Op ‘n manier het ons die gees van dit wat president Roosevelt bedoel het, verloor. Vra enige werkgewer en hulle sal vir jou sê dat dit moeiliker word om iemand te kry wat sal werk, wat hard sal werk, die werk reg sal doen en die taak sal voltooi. God is nie teen ontspanning gekant nie. ‘n Werker wat uitgerus en verfris is, is ‘n beter werker. Salomo se kontras in Spreuke is tussen inspanning en luiheid. Ouer, een van die beste dinge wat jy vir jou kinders kan doen, is om ‘n sterk werksetiek aan hulle oor te dra en hulle so vir sukses in die lewe voor te berei.

Sielskos: Gen 40-41; Joh 16:16-33; Ps 148:7-14; Pred 5:4-6

Sewe skriftuurlike stappe vir sukses

2017-12-07
2 Kronieke 31:21 DB

Hier is sewe skriftuurlike stappe vir sukses in die lewe: 1) Stel God eerste. Hy wil hê dat jy sukses moet bereik. Werk dus aan jou verhouding met Hom. “Onderwerp jou aan God, dan sal jy vrede hê en sal alles met jou goed gaan” (Job 22:21 NLV). 2) Help ander om suksesvol te word. “Julle moet weet dat die Here goeie dinge sal teruggee vir almal wat goeie dinge doen…” (Efesiërs 6:8 ABA). Moenie net in jouself geïnteresseerd wees nie. 3) Skep ‘n klimaat van vertroue rondom jou. Solank as wat jy woorde van twyfel spreek, sal jy nooit oorwinning ervaar nie. Herinner jouself dat jou “…bekwaamheid kom van God” (2 Korintiërs 3:5 NLV). 4) Bly ingelig. “Dit wil die gelowiges… nog meer kennis gee en vir dié wat reeds insig het, nog meer lewensvaardighede” (Spreuke 1:5 DB). Observeer, lees en groei. 5) Visualiseer hoe jy jou doel bereik. Dink en praat in prentjies van sukses. Moses het dit gedoen. “…Hy het hom glad nie van koers af laat bring nie; dit was byna of hy God by hom kon sien, al is God onsigbaar…” (Hebreërs 11:27 DB). 6) Skryf jou plan neer en skep spertye. Maak ‘n gedetailleerde lys van die nodige aksies en stel kontrole punte vas. Beskerm jou gedagtes en prioritiseer jou tyd. “Moenie jou tyd mors nie. Maak die beste gebruik van elke geleentheid wat jy kry…” (Efesiërs 5:16 DB). 7) Stel realistiese doelwitte. Werk aan een prioriteit op ‘n slag. Baie dinge in die lewe misluk as gevolg van gebroke fokus. Vermy dus afleidings. “Iemand wat twyfel, moenie dink dat die Here vir hom iets sal gee nie” (Jakobus 1:7 ABA). As jy hierdie sewe dinge doen, sal jy sukses in die lewe behaal.

Sielskos: Gen 37-39; Joh 16:1-15; Ps 148:1-6; Pred 5:1-3

‘Here, wat moet ek doen?’ (4)

2017-12-06
Jesaja 42:16 NLV

Nog ‘n manier hoe God jou sal lei is: Deur jou vrees te konfronteer en ‘n tree in geloof te neem. Voel jy onseker of bang oor God se wil in die situasie? Sy belofte vir jou is: ‘Ek lei blindes op ‘n pad wat vir hulle onbekend is. Ek lei hulle op paaie wat vir hulle onbekend is. Ek maak die donkerte voor hulle helder lig, en die ongelyke plekke maak Ek gelyk. Ek gaan dit alles doen, en hulle nie alleen los nie!’ (vers 16 NLV). Let spesifiek op die woorde: ‘onbekende paaie’… ‘donkerte’… ‘ongelyke plekke’. Wanneer jy God se leiding deur die Skrif gesoek het, wanneer jy na die innerlike aansporing van die Heilige Gees geluister het en wanneer jy na betroubare mense vir wysheid uitgereik het, moet jy ‘n tree in geloof neem en doen wat jy glo God jou geroep het om te doen. Dis een ding om te vra, ‘Here, wat moet ek doen?’ Dis iets heeltemal anders om te vra, ‘Is ek gewillig om dit te doen wanneer U dit duidelik gemaak het?’ Probeer om hierdie twee vrae te antwoord. a) Hoekom is risiko vir jou so moeilik? Wees eerlik. Vir die meeste van ons is risiko en verandering ongemaklik, uitdagend en selfs bedreigend. Dit is hoekom die Bybel sê, ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie’ (Spreuke 3:5 NLV). God sê egter nie, ‘Moenie jou eie insig gebruik nie’; Hy sê, ‘Moenie daarop staatmaak nie. Maak op My staat.’ b) Is jy bereid om ‘n groot verandering in jou lewe te maak – indien dit God se wil is? Jy moet hierdie twee vrae antwoord. Eers wanneer jy hulle korrek antwoord, is jy gereed om vorentoe te beweeg.

Sielskos: Gen 35-36; Joh 15:1-27; Ps 147:12-20; Pred 4:9-12

‘Here, wat moet ek doen?’ (3)

2017-12-05
Spreuke 12:15 NLV

Nog ‘n manier hoe God jou sal lei is: Deur goddelike raad. Moses het dit ervaar. In plaas van om hulp te kry, het hy alles self probeer doen. Op daardie punt het sy skoonpa, Jetro, vir hom gesê, ‘…Jy hanteer die saak nie reg nie’ (Eksodus 18:17 NLV). Toe het hy vir Moses gesê om verantwoordelikheid na bekwame leiers te delegeer, sodat hulle die werkslading met hom kan deel. ‘Moses het sy skoonpa se raad gevolg en gemaak soos sy skoonpa gesê het’ (Eksodus 18:24 NLV). Gevolglik was Moses se probleem opgelos en het Israel die Beloofde Land suksesvol binnegegaan. Partykeer sal God direk met jou praat en aan jou openbaar wat jy moet doen, maar Hy sal baie keer deur verhoudings met jou praat. Hy sal wyse en ervare mense langs jou plaas. Op daardie punt moet jy nederig genoeg wees om na hulle raad te luister. Jy mag dalk goed wees, jy mag dalk selfs beter as die meeste mense wees. Jy sal egter nooit so goed wees as wat jy kan wees sonder ander mense se hulp nie. Jy moet egter versigtig wees na wie jy luister – betroubare beraders en mense wat dieselfde as God wil hê. Sulke mense sal objektief bly, versigtig luister en stadig antwoord. Dikwels sal hulle jou nie ‘n antwoord op dieselfde oomblik gee as wat jy daarvoor vra nie. Hulle wil eers daarop slaap, daaroor bid en daaroor dink. So ‘n persoon is soos om ‘n ekstra paar oë en ore te hê. Hoekom sal jy sonder hulle wil lewe? Wees vandag dus oop teenoor diegene wat God in jou lewe plaas om jou te help lei.

Sielskos: Gen 32-34; Joh 14:1-31; Ps 147:1-11; Pred 3:5-8

‘Here, wat moet ek doen?’ (2)

2017-12-04
Filippense 2:13 ABA

Nog ‘n manier hoe God jou sal lei, is: Deur die innerlike aansporing van die Heilige Gees. Jy sal nie jou kinders toelaat om in die moeilikheid te kom as jy dit kan keer nie – en God sal ook nie. ‘want dit is God wat in julle harte werk en wat julle lus maak om die dinge te doen wat Hy graag wil hê…’ God sal jou die begeerte gee om sy wil te doen, plus die krag om dit te doen. Jy vra, ‘Maar hoe kan ek God se stem herken?’ Met tyd, deur toetse, deur ervaring en die meeste van alles, deur intimiteit met Hom. Wanneer ‘n geliefde jou bel, het hulle nie nodig om te sê, ‘Hello, dit is jou man of vrou wat praat nie.’ Jy ken hulle stem! Dis noodsaaklik om te leer om die innerlike aansporing van die Heilige Gees te herken, omdat jy die meeste probleme nie self sal kan oplos nie. ‘Die Here bepaal ‘n mens se lewe. Hoe kan ‘n mens verstaan wat met hom gebeur?’ (Spreuke 20:24 NLV). Wanneer alles oor en verby is, sal jy sê, ‘Ek het eerlikwaar nie self hierdie probleem opgelos nie. Dit moes God gewees het.’ Hoe langer jy saam met God wandel, hoe minder sal jy weet hoekom Hy jou lei soos Hy doen, maar jy sal verseker weet dat Hy jou wel lei. Hierdie wete sal jou keer op keer na Hom toe terugtrek om sy leiding te soek. Die apostel Judas het gesê, ‘…Maar nou voel ek verplig om aan julle te skryf en julle aan te spoor om aan te hou stry vir die geloofsbelydenis…’ (Judas vers 3 NLV). Daardie woorde – ‘nou voel ek verplig’ – is niks anders as die innerlike aansporing van die Heilige Gees nie.

Sielskos: Gen 30:25-31:55; Joh 13:18-38; Ps 2; Pred 3:1-4

‘Here, wat moet ek doen?’ (1)

2017-12-03
Psalm 119:105 NLV

Wanneer jy bid, ‘Here, wat moet ek doen?’ kan Hy op verskeie maniere reageer. Kom ons kyk oor die volgende paar dae na ‘n paar daarvan. Hy sal jou deur sy Skrif antwoord. In plaas van om enigeen in die omtrek vir leiding te vra, gaan na God toe. Maak sy Woord jou eerste opsie, eerder as jou laaste uitweg. Die Psalmdigter het geskryf, ‘U woorde is ‘n lamp vir my voete en ‘n lig op my pad.’ Sonder ‘n gereelde daaglikse inname van God se Woord, sal jy in die duister bly oor wat die beste vir jou is en die rigting wat jy moet inslaan. ‘…Wat Ek sê, gebeur altyd. Dit sal nie verder uitgestel word nie…’ (Esegiël 12:25 NLV). As God dit in sy Woord sê, kan jy daarop staatmaak. Daar is bevele in die Skrif, maar God het ons hoofsaaklik beginsels daarin gegee waarvolgens om te lewe. Hierdie beginsels benodig wysheid en oordeelkundigheid. Die Psalmdigter het gesê, ‘Leer my goeie oordeel en kennis, want ek vertrou op u gebooie’ (Psalm 119:66 NLV). Dit beteken nie dat jy ‘n spesifieke vers vir elke besluit en aksie wat jy maak, moet hê nie. Die meeste kere wat jy God vir leiding vra, sal Hy vir jou ‘goeie oordeel en kennis’ gee, wat genoeg is om jou in die regte rigting te stuur. Sal jy soms vrees ervaar? Ja, maar dis dan wanneer jy jou geloof moet gebruik! Jou grootste oomblikke van helderheid rakende God se wil, gebeur dikwels wanneer jy terugkyk, nie vorentoe kyk nie. Dis wanneer jy terugkyk na hoe God jou gelei het, wat jy kan sê, ‘…Nie een woord van al die goeie beloftes wat Hy… gegee het, het onvervuld gebly nie’ (1 Konings 8:56 NLV).

Sielskos: 1 Kon 17:1-7; 1 Kon 18:41-46; Mark 4:35-41