2017-12-02
Matteus 7:12 DB
Die Bybel sê, ‘…dit sal verskriklik gaan net voor die Here weer kom… Elkeen sal net aan homself dink en niks vir ander omgee nie…’ (2 Timoteus 3:1-2 DB). As jy dit nie glo nie, probeer om ‘n parkeerplek te neem wat ‘n ander motoris wil hê. Of hou die mense wat inkopies doen dop as hulle in die ry probeer indruk om dertig sekondes te spaar. Wat van ‘jou sitplek’ in die kerk; jy weet, die een wat jy al dertig jaar warm maak? Die Bybel sê, ‘…Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se dinge’ (Filippense 2:3-4 NLV). Jesus het gesê, ‘…vra julle elke dag af hoe julle wil hê ander mense teenoor julle moet optree. Gaan tree dan eerste so teenoor hulle op…’ Met ander woorde, oefen om ander mense eerste te stel. Die Nobel pryswenner en mediese sendeling, Albert Schweitzer, het gesê, ‘Die enigstes tussen julle wat waarlik gelukkig sal wees, is diegene wat uitgevind het hoe om te dien.’ As jy motivering nodig het, begin die beste kwaliteite in plaas van die slegtes in mense te soek. Onthou, hulle moet dieselfde met jou doen. As jy regtig sukses in die lewe wil behaal, moet jy ander mense ‘n klein bietjie meer liefhê as wat hulle verdien, soos God jou liefhet. Ons verwag te dikwels van almal anders om die Goue Reël te beoefen, sonder om dit self te doen. Die lofsanger Henry Burton het geskryf: ‘Have you had a kindness shown? Pass it on. ‘Twas not given for thee alone, pass it on. Let it travel down the years, let it wipe another’s tears, till in heaven the deed appears – pass it on.’
Sielskos: Gen 28:1-30:24; Joh 13:1-17; Ps 130; Spr 31:28-31
2017-12-01
Matteus 5:9 NLV
Die motiveringspreker Zig Ziglar vertel van ‘n klein outjie wat deur drie boelies gekonfronteer is, waarvan enigeen van hulle groot genoeg was om hom plat te slaan. Dit was ook duidelik wat hulle in gedagte gehad het. Die klein outjie was egter baie slim. Hy het teruggestaan, ‘n lyn in die stof getrek, nog ‘n paar treë teruggestaan, die grootste boelie reg in die oë gekyk en gesê, ‘Ek daag jou uit om oor hierdie lyn te tree!’ Die boelie het dit gedoen. Toe het die klein outjie geglimlag en gesê, ‘Wonderlik, nou is ons twee aan dieselfde kant!’ Wanneer jy jouself in die middel van konflik bevind, kan jy besluit om een van twee dinge te doen: om ‘n moeilikheidmaker of ‘n vredemaker te wees. Jy kan tot die stres bydra of ‘n oplossing probeer vind. Vredemakers se doel is om ‘n wen-wen situasie te vind. Barnabas, wie se naam ‘Seun van Vertroosting’ beteken, het vir die nuut-bekeerde Saulus van Tarsus in die bres getree. Die leiers van die kerk het deur hom bedreig gevoel, waarvoor jy hulle nie kwalik kan neem nie. Barnabas het egter nie aan Paulus se gewelddadige agtergrond gedink nie; hy het sy waarde vir God oorweeg. Hy het inderwaarheid gedink, ‘As ons hierdie man kan inspan en lei, kan hy die wedloop vir ons wen.’ Hy is reg bewys. Saulus die vervolger het Paulus die apostel geword, maar nie voordat Barnabas sy eie geloofwaardigheid op die spel geplaas het nie (sien Handelinge 9:26-30). Om vrede te maak beteken dat jy risiko’s moet neem. Dit beteken dat jy mense volgens hulle beste kwaliteite en oomblikke moet evalueer. Vredemakers kyk na die groter prentjie en word deur genade, nie deur beuselagtige opinies en tydelike omstandighede, gelei nie. Wees dus ‘n vredemaker.
Sielskos: Gen 25:19-27:46; Joh 12:37-50; Ps 65; Spr 31:25-27
2017-11-30
2 Konings 4:8 DB
Die Bybel verwys na hierdie vrou as “‘n vooraanstaande vrou.” Dis omdat sy ‘n ‘vooraanstaande’ strategie vir haar lewe gehad het! Sy het ‘n slaapkamer in haar huis vir die profeet Elisa voorberei om te gebruik wanneer hy deur haar dorp gereis het. Gevolglik het sy haar hartswens ontvang: ‘n babaseuntjie. Later jare, toe haar seun skielik gesterf het, het God vir Elisa gebruik om haar seun uit die dood op te wek. Let drie dinge oor hierdie vrou se verhaal op: 1) Sy het ruimte vir God gemaak. 2) Haar droom is vervul. 3) Toe haar droom sterf, het God dit weer lewendig gemaak (sien verse 36-37). Sy het geweier om die opinies van ongelowige mense te aanvaar of om haar situasie met mense wat ongekwalifiseerd is om te help, te bespreek. Wees versigtig teenoor wie jy in ‘n krisis oopmaak! Maak seker dat hulle God ken en dat hulle woorde in lyn met Syne is. Hierdie vrou het geglo dat as God dit begin het, Hy dit kon beëindig. As Hy dit gemaak het, kon Hy dit regmaak. Die Bybel vertel ons dat Elisa homself oor die liggaam van die dooie seun uitgestrek het en hom warm gemaak het. Hierdie seun het egter meer as warmte nodig gehad – hy het lewe nodig gehad. Dus het Elisa weer op hom gaan lê en hy het lewendig geword. Maak nie saak hoe sleg dinge lyk nie, bly bo-op die situasie deur aan te hou om in God te glo. Bid die hele nag as jy moet, maar hou aan om op sy Woord te staan. Jou droom mag dalk nog nie ten volle lewendig wees nie, maar dit word warm. Dinge is aan die verbeter… God is aan die beweeg… die antwoord is op pad!
Sielskos: Gen 24:1-25:18; Joh 12:20-36; Ps 14; Spr 31:22-24
2017-11-29
Spreuke 22:7 NLV
Hier is ‘n idee om uit skuld uit te kom en daaruit te bly. In plaas van om daarna as jou ‘kredietkaart’ te verwys, begin om dit as jou ‘skuldkaart’ te sien. Volgende keer wat jy die lus kry om iets te koop wat jy nie nodig het of kan bekostig nie, sal dit dalk jou lus demp. Daar is ‘n verhaal oor ‘n nutsman wat na ‘n miljoenêr se huis uitgeroep is om die vloere te teël. Die ryk man se vrou het gesê, ‘Wees veral versigtig met die eetkamertafel. Dit gaan terug na Louis XVI se tyd.’ Die nutsman het geantwoord, ‘Dis niks. As ek nie teen volgende Vrydag ‘n betaling maak nie, gaan my hele woonkamer terug na die meubelwinkel toe!’ Daar word gesê dat die gemiddelde mens vandag ‘n kar bestuur wat deur die bank gefinansier is, met petrol wat met ‘n kredietkaart gekoop is, na die winkel om nog ‘n rekening oop te maak, om hulle huis waarop hulle ‘n verband van dertig jaar by die bank uitgeneem het, vol te maak met meubels wat op ‘n paaiementplan gekoop is. Die Bybel keur nie skuld af nie, maar waarsku ons teen die gebruik daarvan. ‘Soos rykes oor armes heers, so is die man wat geld leen. Hy is die slaaf van die man by wie hy leen.’ Dis in orde om vir noodsaaklikhede te leen, maar jy moet altyd vir luukshede betaal. Waar moontlik, betaal kontant of moet dit nie koop nie. ‘Die goddelose leen en betaal nie terug nie…’ (Psalm 37:21 NLV). Dis nie verkeerd om geld te leen nie, maar dit is wel verkeerd om geld te leen en dit nie terug te betaal nie. Die woord vir jou vandag is dus: Leer om binne jou vermoë te lewe.
Sielskos: Gen 20-23; Joh 12:12-19; Ps 146; Spr 31:18-21
2017-11-28
1 Tessalonisense 2:13 NLV
Geestelik gesproke mag jy dalk nog nie so ver gevorderd wees as wat jy graag sou wou wees nie, maar dank God egter dat jy steeds op die pad is. Eens op ‘n tyd was jy ‘n vreemdeling vir God se genade, maar nou is jy lid van God se huis (sien Efesiërs 2:19). Paulus skryf, ‘…julle [het] Sy Woord aangeneem… Dié Woord is aan die werk in julle wat glo.’ Solank as wat jy God se Woord lees en glo, sal dit aanhoudend in jou werk. Jy sal ook vinniger volwasse word as jy leer om te ontspan en begin lewe volgens dit wat God se Woord oor jou sê, nie volgens hoe jy voel nie. Hoe jy jouself sien, affekteer jou geestelike vordering geweldig. Totdat jou konsep van jouself in lyn is met dit wat God in die Skrif oor jou sê, sal jy aanhou om jouself as ongekwalifiseerd en onwaardig te sien – wat jou geestelike groei sal belemmer. Toe God vir Jeremia gesê het dat Hy hom as profeet vir die nasies geroep het, het Jeremia God ingelig dat hy te jonk was, dat hy nie ‘n goeie spreker was nie, dat hy nie genoeg ervaring gehad het nie, ensovoorts. Hoe het God gereageer? ‘Ek ken jou nog voordat jy gevorm is… Voor jou geboorte al het Ek jou gekies en aangestel…’ (Jeremia 1:5 NLV). Hou dus op om jou te bekommer dat jy verwerp sal word wanneer jy nie perfek optree nie. Geniet waar jy nou is en hou op om jou met ander mense te vergelyk. Moenie bekommerd wees as hulle al verder as jy gevorder het nie. Hulle het deur presies dieselfde plekke beweeg om te kom waar hulle vandag is.
Sielskos: Gen 17-19; Joh 12:1-11; Ps 118:19-29; Spr 31:14-17
2017-11-27
1 Korintiërs 13:11 NLV
Mense met ‘n sterk geloof kan jou minderwaardig laat voel as jy jouself met hulle vergelyk. ‘n Bybelonderwyser skryf: ‘Ek het daardie geloofshelde bewonder wie se fleurige getuienisse almal geïnspireer het. Hulle het so veranderd, so seker van hulself, so stabiel voorgekom. Ek het gedink dat God se liefde volgens ‘n merietesisteem uitgedeel word. As ek vandag goed doen, sal Hy my liefhê. As ek misluk, sal Hy nie. Wat ‘n wipwarit! Ek het nie besef dat enigiets wat gebore word, tyd nodig het om te groei en in volwassenheid te ontwikkel nie. Ek het ‘n onmiddellike, kragtige, allesomvattende metamorfose verwag wat my in perfeksie sou transformeer.’ Voel jy dieselfde, asof daar iets verkeerd is met jou omdat jy nooit opmeet nie? Indien dit die geval is, lees die volgende: ‘Toe ek nog klein was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind. Maar noudat ek volwasse is, het ek die dinge van ‘n kind ontgroei.’ Jy begin as ‘n geestelike baba, dan word jy ‘n geestelike kind, dan ‘n geestelike tiener en uiteindelik word jy ‘n geestelike volwassene. Jy ‘arriveer’ egter nooit. Met jou doen-dit-jouself, vinnige geestelikheid sal jy net ander mense met ‘n valse sin van heiligheid probeer beïndruk. Dit sal jou keer om eerlik met God te wees en sal jou laat dink dat jy verder op jou geestelike reis is as wat jy regtig is. Onthou jy toe jy as kind jou ma se hoëhakskoene of jou pa se werkstewels aangetrek het? Maak nie saak hoe graag jy wou nie, jy kon hulle nie maak pas nie. Dit beteken nie daar was iets fout met jou nie; dit het net beteken dat jy op presies die regte plek vir jou ouderdom was.
Sielskos: Gen 13-16; Joh 11:45-57; Ps 118:10-18; Spr 31:10-13