Geestelike groei (1)

2017-11-26
Galasiërs 6:9 NLV

‘n Konstruksiewerker het van die stellasie op die veertigste vloer van ‘n wolkekrabber afgeval. Soos hy verby die venster op die twintigste vloer geval het, het ‘n vrou in die kantoor uitgeroep, ‘Hoe gaan dit met jou?’ Die man het geantwoord, ‘So ver, heel goed!’ Op ‘n ernstiger noot, voel geestelike groei soms of ons twee treë vorentoe en drie treë terug neem. Dit is nie maklik nie, dis hoekom Petrus ons aanmoedig om nie moed te verloor nie. Oor die algemeen, kom jy nie agter dat jy fisies ouer word nie totdat jy ‘n vroeër foto van jouself sien. Dis dieselfde met geestelike groei; dis moeilik om te meet hoe ver jy al gekom het totdat jy terugkyk en sien waar jy was voor Jesus jou lewe omgedraai het. Die Bybel sê, ‘…Dis natuurlik die Here self, Hy wat Gees is, wat ons verander om al hoe meer te lyk en te leef soos Hy dit wil hê’ (2 Korintiërs 2:18 DB). Wanneer jy dus mismoedig is, herinner jouself daaraan dat jy op ‘n geestelike reis is, dat jy ten spyte van jou probleme vordering maak en dat die duiwel altyd op die uitkyk is vir maniere om jou te herinner hoe ver jy nog het om te gaan. Moenie na hom luister nie! Jesus het gesê, ‘…As hy sy mond oopmaak, lieg hy…’ (Johannes 8:44 DB). As jy mismoedig raak en opgee, wen satan. Die Bybel sê, ‘…Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak’ (2 Korintiërs 10:5 NLV). Hou moed: Dit mag dalk nie altyd so lyk nie, maar jy word elke dag meer volwasse en sterker in Christus. Moet dus nie eers daaraan dink om tou op te gooi nie.

Sielskos: Eks 17:1-7; Joh 4:1-42

God het hulle lief – jy moet ook

2017-11-25
Handelinge 10:28 ABA

Uit ‘n Joodse oogpunt, was Kornelius, ‘n nie-Jood, ‘n slegte mens. Hy het die verkeerde kos geëet, met die verkeerde mense omgegaan en trou aan die verkeerde leier, Caesar, gesweer. Hy het nie die Tora aangehaal nie en hy was nie van Abraham afkomstig nie. Hy was onbesny, nie kosjer nie en onrein. Tog het hy vir geestelike voorligting gebid en was hy vrygewig teenoor die armes. Die Bybel sê hy het ‘…ontsag vir Hom gehad…. Hy het baie bydraes vir die armes onder die Joodse volk gegee en hy het deurentyd tot God gebid’ (vers 2 NLV). Tot op hierdie punt was die evangelie net aan die Jode oorgedra. God was egter op die punt om dit te verander. Hy het vir Petrus gebruik, een van die mees godsdienstige bevooroordelende mense wat jy ooit sal ontmoet. In ‘n visioen het God vir Petrus ‘n doek gewys wat uit die hemel neergesak het, vol van kos wat Jode verbied was om te eet. Petrus het geprotesteer, ‘Nooit nie, Here!.. Ek het nog nooit iets wat onrein is, geëet nie’ (vers 14NLV). Omdat Petrus nie dadelik verstaan het nie, is die doek drie maal laat sak. Uiteindelik het ‘n stem uit die hemel gesê, ‘…Wat God rein gemaak het, mag jy nie onrein ag nie’ (vers 15 NLV). Gevolglik het Petrus na Kornelius se huis gegaan en die evangelie daar gaan preek. Voordat hy hulle nog kon uitnooi om die evangelie aan te neem, het die Heilige Gees op almal daar teenwoordig neergekom, wat bevestig het dat dit God se wil was. Op daardie punt het Petrus verklaar, ‘…Maar God het vir my gewys dat ek nie mag sê dat iemand nie aan God gewy is óf dat hy onrein is nie.’ Laat God dit vir jou ook wys!

Sielskos: Gen 10-12; Joh 11:38-44; Ps 118:1-9; Spr 31:6-9

Beoefen nederigheid

2017-11-24
1 Petrus 5:5 DB

Die Bybel sê: ‘…ken liewer julle plek… Hy is goed vir mense wat tevrede met hulleself is sonder om windmakerig te wees. Plaas julle hele lewe in die hand van God, in totale afhanklikheid van Hom… Neem al die dinge waaroor julle julle bekommer of wat julle omkrap na God toe, want Hy self is die Een wat vir julle sorg’ (verse 5-7 DB). Kom ons kyk na hierdie Skrifgedeelte: 1) ‘Ken liewer julle plek.’ Beteken dit dat jy aan almal anders se wense moet voldoen? Nee; as jy dit doen sal almal dalk van jou hou, maar jy sal nie van jouself hou nie. Wees net wie God jou geroep het om te wees en wees gewillig om ander te dien soos die geleentheid hom voordoen. 2) ‘Hy is goed vir mense wat tevrede met hulleself is sonder om windmakerig te wees’. Nederigheid beteken nie dat jy minder van jouself dink nie; dit gaan daaroor om minder oor jouself te dink en ander mense eerste te plaas. 3) ‘Plaas julle hele lewe in die hand van God, in totale afhanklikheid van Hom.’ Onderwerp jouself dus aan sy dissipline en ervaar sy redding. 4) ‘Neem al die dinge waaroor julle julle bekommer of wat julle omkrap na God toe, want Hy self is die Een wat vir julle sorg.’ Hier spreek Petrus een van ons kern menslike bekommernisse aan; dat as ons nie vir onsself sorg nie, niemand anders dit sal doen nie. As ons egter waarlik glo dat God vir ons omgee, sal ons nie bekommerd daaroor wees om na ons eie belange om te sien nie. Ons sal vry wees om op die behoeftes van ander mense te fokus, vol vertroue dat God geen moeite sal ontsien om aan ons behoeftes te voldoen nie.

Sielskos: Gen 7-9; Joh 11:28-37; Ps 114; Spr 31:1-5

Klein dingetjies maak saak

2017-11-23
Sagaria 4:10 NLV

Toe God vir Gideon oorwinning oor die Midianiete gegee het, het Hy ‘n weermag van slegs driehonderd man gebruik om ‘n vyand wat honderde duisende manne sterk was, te verslaan (sien Rigters 7). Dit het nie gebeur omdat daar nie nog soldate beskikbaar was nie, God wou sy mag in ‘die dag van oënskynlik klein dingetjies’, demonstreer. Jesus kon enige aantal volgelinge gekies het, maar Hy het twaalf mense met die hand uitgekies om die wêreld met die evangelie te bereik. Hy het vyfduisend mense met vyf brode en twee klein vissies gevoed. Hy het God se koninkryk met ‘n mosterdsaadjie – die kleinste wat daar is – maar wat tot ‘n massiewe boom groei, vergelyk. Hy het ook sy koninkryk met suurdeeg wat kwalik merkbaar is, maar wat tog die hele brood deurtrek, vergelyk. Hy het verder gesê, ‘As julle in klein sake getrou is, sal julle ook in groot sake getrou wees…’ (Lukas 16:10 NLV). As jy God dus vra om jou groter in plaas van beter te maak, sal jy dalk teleurgestel word. Al die gebede in die wêreld sal Hom nie oortuig om jou dinge te gee wat jy nie kan hanteer nie. Jou dryfveer om groter te wees kan jou maagsere gee, jou in die nag wakker hou en jou daarvan weerhou om die seëninge te geniet wat God jou reeds gegee het. Beter mag dalk moeiliker wees om te meet en is nie so aanloklik nie, maar die innerlike stabiliteit wat met geleidelike sukses gepaard gaan, is baie meer waardevol en blywend. As jy dus in ‘die dag van oënskynlik klein dingetjies’ is, verbly jouself en wees vol vertroue dat God groter en beter dinge vir jou in gedagte het.

Sielskos: Gen 4-6; Joh 11:17-27; Ps 150; Spr 30:29-33

Gebruik jou gesonde verstand

2017-11-22
Spreuke 3:13 NLV

Die sleutel tot sukses is om die regte ding op die regte tyd te doen. As jy moeg is daarvoor om met konstante stres te lewe, kyk na hierdie vier bronne van stres wat dr Howard Hendricks, ‘n professor in teologie, uitgewys het: 1) Ons sê vir te veel dinge ja. Dr Lewis Sperry Chafer het een maal gesê, ‘Baie van ons geestelike aktiwiteite is selde meer as ‘n goedkoop verdowingsmiddel om die pyn van ‘n leë lewe te verdoof.’ Al ons besige take spreek nie die leegheid in ons kern aan nie. 2) Ons stop nie om ons batterye te herlaai nie. Ons haal pligsgetrou ons dagbeplanners uit en vul die spasies met aktiwiteite. Laat ons egter nie onsself mislei nie; dis nie beplanning wanneer ons net seker maak dat aktwiteite nie oorvleuel nie. Gevolglik is ons ‘n gestresde, humeurige skare wat tussen aktiwiteite wat sleg beplan is en min tot ons geestelike gesondheid voeg, rondbeweeg. 3) Ons geniet nie dit wat ons bereik nie. ‘Begeertes wat vervul word, bring vreugde…’ (Spreuke 13:19 NLV). Omdat ons altyd te veel het om te doen en na die volgende verpligting moet jaag, maak ons dikwels nie die vorige een klaar of neem tyd om terug te staan en ons goeie werk te geniet nie. G’n wonder dat ons bestaan onbenullig voel nie. 4) Ons skuld meer as wat ons kan betaal. Volgende keer wat jy voor ‘n kredietaankope te staan kom – wag! Jy hoef nie noodwendig nee te sê nie. Stel net eers jou sogenaamde ‘behoefte’ aan God voor en sien wat Hy daaroor sê. As jy ernstig daaroor is om jou geestelike lewe te ontwikkel, moet jy jou gesonde verstand gebruik en hierdie vier beginsels aan die werk sit.

Sielskos: Gen 1-3; Joh 11:1-16; Ps 102:18-28; Spr 30:24-28

Belydenis van ‘n geheime sondaar (5)

2017-11-21
1 Samuel 16:7 NLV

Die pastoor en skrywer John MacArthur sê: ‘Jesus se uitleg van die wet is ‘n verwoestende slag vir die leuen dat ‘n mens se beeld alles is. Geheime sondes is veral afskuwelik omdat: 1) God die hart sien. As ons besef dat Hy die enigste toeskouer daarvan is, sal ons minder geneig wees om dit geheim te hou. Dis dwaas om te dink dat jy sonde ongedaan kan maak deur dit privaat te hou. Dis veral dwaas om te dink dat jy beter as ander mense is omdat jy privaat sondig. Dit is die dwaasste om jou sondes weg te steek. ‘Wie sy oortredings verswyg, sal nie voorspoedig wees nie…’ (Spreuke 28:13 NLV). 2) Sondige gedagtes uit dieselfde plek as sondige dade ontstaan. Toe Jesus gesê het dat haat dieselfde gewig as moord dra en dat begeerte die kern van owerspel is, het Hy bedoel dat daar geen verskil in die mate van sonde is nie – dus het ‘n persoon wat begeer geen reg om verhewe bo die persoon wat owerspel pleeg, te voel nie. Die feit dat iemand sulke gedagtes het bewys dat hy of sy in staat is om immorele dade te pleeg en iemand wat sy broer haat, het reeds moord wat in sy hart skuil. 3) Skynheiligheid weggesteekte sonde vererger. Skynheiligheid brand jou gewete en stel die pad oop vir ander sondes wat jou karakter verniel. Wanneer iemand vir jou probeer vertel dat voorkoms alles is, moet dit nie glo nie. Jou geheime lewe is ‘n toets vir jou karakter. As jy wil weet wie jy regtig is, kyk na jou private lewe. Kyk dan in die spieël van God se Woord en laat Hom toe om die gedagtes en bedoelinge van jou hart te openbaar en te korrigeer.’

Sielskos: Pred 10-12; Joh 10:34-42; Ps 102:12-17; Spr 30:21-23