Belydenis van ‘n geheime sondaar (4)

2017-11-20
Psalm 32:5 NLV

Julie Ann Barnhill skryf: ‘As jy moeg is daarvoor om voor te gee dat alles goedgaan, is dit tyd om op te tree. Vir te lank het veral Christenvroue geglo dat hulle die enigstes is wat met skandelike kwessies, pynlike verwyte en geraamtes in die kas sukkel. Wanneer ons teenoor God, onsself en ander oopmaak, ervaar ons verfrissende vryheid en vrede. ‘n Vrou het aan my geskryf: ‘Ek het ‘n aborsie ondergaan toe ek agtien was. Niemand weet daarvan nie. Vir jare lank het ek die datum in my kalender gemerk en oor die kind waarvan niemand geweet het nie en oor die vrou wat die skuld alleen moes dra, gerou. Nou weet ek dat ek nie alleen is nie en vir die eerste keer in my lewe glo ek werklik dat God groter as my geheim is – en dat Hy gewillig is om my te vergewe.’ Geheime het net mag wanneer hulle weggesteek is. Wanneer hulle in die lig van God se liefde openbaar word, verloor hulle hulle mag. Daar is egter sekere dinge wat jy moet oorweeg voordat jy teenoor iemand anders oopmaak: 1) As daardie persoon dinge wat ander vertroulik met hulle gedeel het herhaal, raai wie gaan volgende bespreek word? 2) Wees versigtig vir iemand wat geneig is om ongevraagde raad te gee en dan aanstoot te neem wanneer dit geïgnoreer word. 3) Bly weg van iemand wat jou probeer ‘regmaak’ en vir jou sê om jou nie oor jou geheime te bekommer nie. Kyk liewer uit vir iemand wat: a) verstandig is en weet wanneer om terug te tree en wanneer om vorentoe te beweeg wanneer jy ontsteld is; b) wat openlik oor hulle eie stryd praat; c) wat gou is om te luister en stadig is om te praat; d) wat hulle woord en raad met Skriftuurlik waarhede onderskryf.’

Sielskos: Pred 7-9; Joh 10:22-33; Ps 102:1-11; Spr 30:18-20

Belydenis van ‘n geheime sondaar (3)

2017-11-19
Jesaja 58:12 DB

Leuen nommer twee: God sal jou nie meer gebruik nie. Julie Ann Barnhill gaan voort: ‘Vrouens wil graag hê dat hulle lewens vir iets meer as hulle broekgrootte of kwalifikasies tel. Tog oordeel ons onsself gereeld volgens hierdie oppervlakkige standaarde. Dink aan al die kere wat jy die vrou in die spieël verag het; die kere wat jy die leuen geglo het dat God jou nie as gevolg van jou mislukkings kan gebruik nie. Ek is ‘n lewende bewys dat Hy jou kan gebruik en dit doen. Dawid het gesê, ‘…’Ek bely my opstand teen die Here’. En my sonde en oortredings het U vergewe’ (Psalm 32:5 NLV). Die ergste sondes kan nie ‘n wig tussen jou en Christus se liefde indryf nie, mits jy dit bely en om vergifnis vra. God se waarhede kan die Vyand se bedrog verdryf. Hou vas aan hierdie belofte: ‘…Wanneer dit moeilik gaan, sal Hy vir jou gee wat jy nodig het… Jou nageslag sal die ou bouvalle weer opbou. Hulle sal op die fondamente bou wat al geslagte lank bestaan…’ (Jesaja 58:11-12 DB). Leuen nommer drie: Wanneer mense uitvind wat jy gedoen het, sal hulle jou nooit liefhê, verstaan of vergewe nie. Sommige van die mense wat jy as vriende beskou, sal loop. Dit het met my gebeur. Vriende het my verlaat toe hulle die diepte van my gemors geleer het. Ek het ook een keer ‘n vriendin afgeskryf nadat ek ongemaklike waarhede van haar lewe geleer het. Vriende kom en gaan, maar ‘n ware vriend is soos familie (sien Spreuke 17:17). Ek was nie getrou aan my vriendin nie, maar Jesus is altyd. Hy belowe oor en oor dat Hy ons nooit sal verlaat nie. Selfs ‘…as ons ontrou is – Hy bly getrou, want Hy kan nie aan Homself ontrou word nie’ (2 Timoteus 2:13 NLV).

Sielskos: Deut 9:13-29; Dan 1:3-21; Luk 4:1-13

Belydenis van ‘n geheime sondaar (2)

2017-11-18
Spreuke 28:13 DB

Julie Ann Barnhill gaan voort: ‘Die vader van die leuen (sien Johannes 8:44) wil hê dat ons glo dat daar dinge is wat ons gedoen het wat kan veroorsaak dat God nie meer vir ons lief is nie. By geleentheid het ek al drie van sy gunsteling leuens geglo: Leuen nommer een: Jy is die enigste persoon wat dit al ooit gedoen het. Min dinge kan my op die pad van veroordeling en skuldgevoelens plaas, soos woede. Terwyl ek uiterlik kalm voorgekom het, het ek die verbale en fisiese grense geken waaroor ek agter geslote deure getree het. Ek het dit aan vriende bely, met die hoop dat ek nie die enigste een is nie. Ek is egter met doodse stilte begroet en die vyand het gefluister, ‘Ek het jou gesê niemand anders het al sulke dinge gedoen nie.’ Ek het dit geglo totdat God my teruggetrek het tot die Bybelse waarhede wat ek van kindsbeen af geleer en geglo het. a) As ek my sondes bely, sal Hy my elke keer vergewe. b) As ek Hom toelaat, sal Hy my denkwyses verander en my krag gee om te doen wat reg is. c) Selfs as ek misluk, bly Jesus getrou. Drie jaar later, voor ‘n groot gehoor, het ek vir honderde moeders vertel waar ek was, en hulle verseker dat hulle nie die enigstes was wat al gesê, gedoen of gedink het waaroor hulle tans hulself verwyt het nie. Vrouens het tougestaan om met my daaroor te praat. Ek raak nooit moeg om te hoor dat iemand sê, ‘Dankie dat jy eerlik was!’ nie. Die Here het my gewys dat ek nie die enigste een is wat die dinge doen wat ek gedoen het nie.’ Dit is ware vryheid!

Sielskos: Pred 4-6; Joh 10:11-21; Ps 76; Spr 30:15-17

Belydenis van ‘n geheime sondaar (1)

2017-11-17
Lukas 12:2-3 DB

Die inspirerende spreker en skrywer, Julie Ann Barnhill, skryf: ‘Ek neig om ‘n slinkse sondaar te wees. Die grootste tyd van my lewe het ek dit reggekry om onder die radar te vlieg – om 99.9 persent van sulke dinge weg te steek. As iemand wat kerk toe gegaan het en gelyk het of sy ‘n gelukkige familie bestuur, het ek die aandag op die skadukant van my lewe vermy – teen ‘n groot koste. Leuens oor my bestedingsgewoonte het tot finansiële probleme in my huwelik gelei. Hebsug het vriendskappe en tevredenheid by my gesteel. Die tienerwoede wat my myself laat skend het, het later jare oorgespoel in ontploffings van skellende woede teenoor my kinders. Wanneer alkohol my gedurende periodes van eensaamheid en depressie nadergewink het, het ek gegaan. Miskien dink jy, ‘So, jy het nou ‘n paar geheime van jou lewe vir ons vertel – hulle is niks in vergelyking met myne nie.’ Om te probeer wedywer oor wie die aakligste geheime het, is nie die punt nie; ons moet die waarheid aanneem dat ons nie alleen in ons geheime plekke is nie. Dis nie genoeg om net die waarheid uit te blaker nie. Opregte belydenis lei tot radikale vergifnis wat net deur Christus beskikbaar is. Dit bedek dit wat ons gedoen het, maak nie saak hoe erg dit is nie. Jesus ken ons geheime en dit sal Hom nooit daarvan weerhou om ons lief te hê nie. Dit kan egter ‘n hindernis tussen ons en die lewe sonder skaamte wees wat Hy vir ons begeer. Ons bely ons sondes sodat ons verlossing, redding en die ewige lewe kan ontvang. Ons deel ons geheime met vriende wat ons vertrou, sodat ons die realiteit van goddelike genesing deur vlees-en-bloed verhoudings met diegene wat ons liefhet, mag ken.’

Sielskos: Pred 1-3; Joh 10:1-10; Ps 81; Spr 30:11-14

Voed jou kinders op

2017-11-16
Efesiërs 6:4 NLV

Ons word aanhoudend deur stories waar kinders hulle onderwysers en ander kinders by die skool vermoor, voordat hulle die geweer op hulself draai, geskok. Twee seuns van twaalf en dertien, het ‘n man buite ‘n winkel doodgeslaan net omdat hulle iemand wou sien doodgaan. ‘n Ander seun het ‘n man by ‘n stopstraat doodgeskiet. Toe hy gevra word hoekom hy dit gedoen het, het hy geantwoord, ‘Omdat hy na my gekyk het.’ Wat veroorsaak hierdie gedrag? Maklike toegang tot gewere? Ure wat gespandeer word om na gewelddadige video’s te kyk? Dit mag dalk faktore wees, maar na uitgebreide navorsing het wetenskaplikes bevind dat gewelddadige gedrag dikwels deur mishandeling en verwaarlosing in die vroeë kinderjare veroorsaak word. Wanneer ‘n baba drie of meer dae in ‘n vuil doek spandeer of wanneer kinders gebrand, geslaan of geïgnoreer word, word hulle bloed met streshormone gevul – kortisol en adrenalien, onder andere. Hierdie hormone bombardeer en beskadig die brein van daardie kinders. Vir die res van hulle lewens sal hulle dus nie dink en voel wat ander mense dink en voel nie. Hulle verloor inderwaarheid die kapasiteit om met ander mense wat ly te empatiseer. Dieselfde navorsing het bevind dat babas en jong kinders veral tussen geboorte en die ouderdom van drie jaar verskriklik weerloos is. As hulle families hulle nie beskerm, liefhet en vir hulle sorg nie, sal die samelewing in later jare ‘n afgryslike prys daarvoor betaal. Die Bybel sê dat ons ons kinders moet opvoed. Dit beteken dat ons hulle moet liefhê, beskerm, aanmoedig, komplimenteer en die beste in hulle na vore moet probeer bring.

Sielskos: Rom 15-16; Joh 9:24-41; Ps 50; Spr 30:7-10

Hoekom moet jy kerk toe gaan?

2017-11-15
Efesiërs 5:25 NLV

Daar is ‘n verhaal van ‘n ma wat haar seun een Sondagoggend wakker maak en sê, ‘Staan op – jy is laat vir kerk!’ Hy antwoord, ‘Ek wil nie gaan nie. Ek het nie vriende daar nie, die musiek is aaklig en die preek is vervelig!’ Die ma antwoord, ‘Jy moet gaan – jy is die pastoor!’ Op ‘n ernstiger noot, hoekom moet jy kerk toe gaan? Omdat ‘…Christus liefde aan die kerk bewys het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het. Hy het dit gedoen sodat die kerk aan God kan behoort. Deur die water van die Woord was Hy die kerk skoon sodat Hy haar in alle skoonheid voor Hom kan stel, nie met enige vuilheid of slordigheid nie, maar aan God toegewy en onberispelik’ (verse 25-27 NLV). Die pastoor en president emiritus van Taylor Universiteit, dr Jay Kessler, gee vir ons vyf redes om kerk toe te gaan: 1) Dis die enigste organisasie wat nog kwessies soos redding, dood, oordeel, genade, doelbestemmings, hemel en hel hanteer. 2) Dit voeg waarde en eer aan die menslike lewe toe. Ons lewe in ‘n sekulêre kultuur wat tot ons sin van innerlike waardeloosheid bydra. Die kerk werk hierdie negatiewe boodskap teë deur oor God se liefde en aanvaarding te preek. 3) Dit bied ‘n morele en geestelike kompas. Die kerk staan op die tydlose rots van God se Woord. 4) Dit is waar jy meelewing, genesing en gemeenskap ontvang. Daar werk God se Woord om ons as gelowiges saam te bind, en waarborg dat ons ‘…deur een Gees toegang tot die Vader het’ (Efesiërs 2:18 NLV). 5) Dit motiveer blywende, onselfsugtige, noodsaaklike en moedige pogings, soos sendingsreise, skole, hospitale, sopkombuise, verslawingsentrums en kinderhuise. Hoekom moet jy kerk toe gaan? Omdat Jesus die kerk liefhet – en jy moet ook.

Sielskos: Rom 12-14; Joh 9:13-23; Ps 8; Spr 30:5-6