Belydenis van ‘n geheime sondaar (3)

2017-11-19
Jesaja 58:12 DB

Leuen nommer twee: God sal jou nie meer gebruik nie. Julie Ann Barnhill gaan voort: ‘Vrouens wil graag hê dat hulle lewens vir iets meer as hulle broekgrootte of kwalifikasies tel. Tog oordeel ons onsself gereeld volgens hierdie oppervlakkige standaarde. Dink aan al die kere wat jy die vrou in die spieël verag het; die kere wat jy die leuen geglo het dat God jou nie as gevolg van jou mislukkings kan gebruik nie. Ek is ‘n lewende bewys dat Hy jou kan gebruik en dit doen. Dawid het gesê, ‘…’Ek bely my opstand teen die Here’. En my sonde en oortredings het U vergewe’ (Psalm 32:5 NLV). Die ergste sondes kan nie ‘n wig tussen jou en Christus se liefde indryf nie, mits jy dit bely en om vergifnis vra. God se waarhede kan die Vyand se bedrog verdryf. Hou vas aan hierdie belofte: ‘…Wanneer dit moeilik gaan, sal Hy vir jou gee wat jy nodig het… Jou nageslag sal die ou bouvalle weer opbou. Hulle sal op die fondamente bou wat al geslagte lank bestaan…’ (Jesaja 58:11-12 DB). Leuen nommer drie: Wanneer mense uitvind wat jy gedoen het, sal hulle jou nooit liefhê, verstaan of vergewe nie. Sommige van die mense wat jy as vriende beskou, sal loop. Dit het met my gebeur. Vriende het my verlaat toe hulle die diepte van my gemors geleer het. Ek het ook een keer ‘n vriendin afgeskryf nadat ek ongemaklike waarhede van haar lewe geleer het. Vriende kom en gaan, maar ‘n ware vriend is soos familie (sien Spreuke 17:17). Ek was nie getrou aan my vriendin nie, maar Jesus is altyd. Hy belowe oor en oor dat Hy ons nooit sal verlaat nie. Selfs ‘…as ons ontrou is – Hy bly getrou, want Hy kan nie aan Homself ontrou word nie’ (2 Timoteus 2:13 NLV).

Sielskos: Deut 9:13-29; Dan 1:3-21; Luk 4:1-13