2017-11-14
Hebreërs 13:3 NLV
Die Bybel sê vir ons, ‘Julle moet mekaar steeds met ware Christenliefde liefhê’ (vers 1 NLV). Dan raak dit spesifiek: ‘Moenie hulle wat in die tronk is, vergeet nie. Ly saam met hulle asof julle self daar sit. Deel in die seer van hulle wat mishandel word asof dit met julle eie liggame gebeur.’ Op 18 April 2007, is drie Christene in Turkeye as gevolg van hulle geloof doodgemaak. Necati Aydin was een van hulle. Hy was ‘n vyf-en-dertig jaar oue pastoor in die stad van Malatya, en Max Lucado vertel sy storie: “Teen die tyd wat Necati die kantoor bereik het, het sy twee kollegas reeds besoekers daar verwelkom; vyf jongmanne wat gesê het dat hulle in die Christelike geloof belangstel. Die besoekers het egter meer as net vrae saamgebring. Hulle het ook gewere, broodmesse, toue en handdoeke by hulle gehad. Die aanvallers het hulle wapens uitgeruk en vir Necati beveel om die Islamietiese gebed van bekering te bid: ‘Daar is geen God behalwe Allah nie, en Mohammed is sy profeet.’ Toe Necati weier, het die marteling begin. Vir ‘n folterende uur het die aanvallers die Christene vasgebind, ondervra en stukkend gesny. Uiteindelik, toe die polisie aan die deur hamer, het hulle hulle slagoffers se kele afgesny.Die laaste woord wat uit die kantoor gehoor is, was die uitroep van ‘n onwrikbare Christen: ‘Messias! Messias!’ Sulke stories het ‘n manier om ons tot stilstand te skok. Vanoggend se verkeersknoop is nou nie meer noemenswaardig nie. Sulke stories maak dat ons onsself afvra: ‘Sal ek die opoffering maak? Sal ek tot die Messias uitroep? Sal ek my lewe gee?’ Wanneer ons oor onbenullige dinge kla, wonder mens. Die Bybel sê dat jy vir jou mede-Christene regoor die wêreld moet bid, ‘asof dit met julle eie liggame gebeur.'”
Sielskos: Rom 9:17-11:36; Joh 9:1-12; Ps 23; Spr 30:1-4
2017-11-13
Hebreërs 13:6 NLV
Kom ons kyk na nog twee algemene vrese: 1) Die vrees dat jy nie goed genoeg is nie. Dit gaan nie daaroor dat jy so goed soos ander mense moet wees nie; dit gaan daaroor dat jy jouself moet wees! Hou op om jou met ander mense te vergelyk en spandeer eerder jou tyd om jou Godgegewe sterkpunte te ontdek. Jy is vir ‘n doel gebore en daardie doel mag dalk iets wees wat jy nog nooit teëgekom het nie. 2) Vrees om nie aanvaar te word nie. Dit is een van die grootste redes vir eensaamheid in vandag se samelewing. Jy sal verbaas wees om uit te vind hoeveel mense huis toe gaan na ‘n leë woonstel, ‘n aandete vir een eet, televisie kyk en dan alleen in die bed klim. Selfs wanneer ons deur ‘n skare omring word, voel ons dikwels steeds geïsoleerd. Die waarheid is egter dat dit nie so hoef te wees nie – veral nie as jy deel is van God se verloste familie nie. Die sleutel tot aanvaarding is om uit te reik en ander mense as jou familie te aanvaar. Wanneer jy hulle in jou private wêreld toelaat, sal jy vind dat hulle jou in hulle s’n verwelkom. Kyk vandag na jou lewe. Die persoon wat die meeste daarby sal baat, is jy! Onseker mense kan die moelikste wees om te bereik, omdat hulle desperaat is om dit wat hulle as onvolwaardig en mislukkings sien, weg te steek. As jy die hulp van ‘n professionele berader, dokter of pastoor nodig het, reik uit en kry dit! Jy is dit aan jouself verskuldig! Staan vandag op en sê, ‘Die Here is my hulp; daarom sal ek nie bang wees vir verwerping of dat ek nie goed genoeg is nie.’
Sielskos: Rom 7:1-9:16; Joh 8:42-59; Ps 83:9-18; Spr 29:23-27
2017-11-12
Psalm 112:7 NLV
Kom ons kyk na sommige van ons algemeenste vrese en hoe ons hulle kan oorkom. Vrees vir mislukking. Hierdie is die algemeenste vrees en weerhou ons daarvan om enige visie wat God vir ons gegee het, te vervul. As ons egter na die ware gevolge van mislukking kyk, is die kans goed dat jy sal lag oor die mag wat dit het. Nie net kan jy jou foute oorleef nie, hulle help jou om daaruit te leer en verskerp en verbeter jou as persoon. Wat daarvan as jy ‘n fout tydens jou aanbieding maak? Niemand gaan jou skiet nie? Wat daarvan as jy ‘n fout met jou projek of in jou somme maak? Ons almal wil perfek wees, maar die feit is dat ons almal foute het. In realiteit skep ons irrasionele vrees vir mislukking en ons weiering om foute te aanvaar, baie meer probleme in die langtermyn. Wanneer mense weier om die moontlikheid te aanvaar dat hulle ‘n fout kan maak, is hulle dikwels huiwerig om iemand anders toe te laat om hulle werk na te gaan of om die projek waaraan hulle werk te hersien. As gevolg daarvan maak hulle op die ou einde meer slegte besluite en foute, wat op sy beurt hulle bestaande onsekerhede aanspoor. Om te misluk maak nie van jou ‘n mislukking nie. Net wanneer jy tou opgooi, nie daaruit leer nie en weier om op te staan wanneer jy geval het, is jy een. Die Psalmdigter het gesê, ‘Vir slegte tyding is hy nie bang nie: hy is gerus, hy vertrou op die Here.’ Gebruik die gawes wat God jou gegee het, neem ‘n risiko op geloof gebaseer en vertrou Hom vir sukses. As jy dit doen, ‘…sal [jy] dan sukses behaal op jou pad…’ (Josua 1:8 NLV).
Sielskos: 2 Kon 5:1-27; Matt 6:19-34; Hand 5:1-11
2017-11-11
Job 11:18 NLV
Bekende mense regdeur die geskiedenis het as gevolg van hulle fobies, gely. Napoleon het ‘n irrasionele vrees vir katte gehad. Koningin Elizabeth I is deur ‘n abnormale vrees vir blomme geterroriseer (sy het spesifiek rose gevrees). Die biljoenêr Howard Hughes het ‘n patologiese vrees vir kieme gehad. Edgar Allen Poe, Harry Houdini en Adolf Hitler was kloustrofobies. Selfs die vader van psigo-analise, Sigmund Freud, het met ‘n vrees vir skares en publieke plekke (agorafobia) gesukkel. Die moeilikheid is dat baie van ons weier om te erken dat ons enige oorweldigende vrese het en ons sien dit selde as ‘n ernstige probleem. Die feit bly egter staan dat ons vrese ons reis na verandering hinder en tensy ons ons vrese oorkom, sal ons nooit ons Godgegewe potensiaal bereik nie. Miskien sien jy nie die ding wat jou pla as vrees nie. Dit kan ‘n gevoel of situasie wees wat jy gewoonlik vermy of aan ander oorlaat om te hanteer. Wat dit ook al mag wees, die enigste manier om dit te oorkom, om dit te sien vir wat dit is, dit te konfronteer, is om krag by God te kry en ‘n besluit te maak om te verander. Vandag bied God sy krag vir jou aan om dit te doen. Hier is ‘n belofte waarop jy kan staan: ‘Jy sal vol moed wees omdat jy hoop sal hê. Jy sal beskerm wees en rus in veiligheid.’ Hier is nog ‘n belofte vir jou: ‘Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek hou jou vas met my reddende regterhand’ (Jesaja 41:10 NLV).
Sielskos: Rom 3:21-6:23; Joh 8:31-41; Ps 83:1-8; Spr 29:19-22
2017-11-10
2 Timoteus 3:15 NLV
Daar is ‘n storie oor ‘n vrou wat na haar pastoor gegaan het en gevra het, ‘Hoe vroeg moet ek met die geestelike opleiding van my kind begin?’ Die pastoor het gevra, ‘Hou oud is jou kind?’ Sy het geantwoord, ‘Vyf,’ Die pastoor het gesê, ‘Dame, jy moet aan die werk spring – jy is al vyf jaar te laat!’ Sielkundiges bevestig dat jou kind se kapasiteit en honger vir kennis reeds in hulle babajare begin. Terwyl hulle dus in die luisterstadium is, moet jy in die onderrigstadium wees. Neem elke geleentheid aan om die Bybel vir hulle voor te lees. Gebruik alledaagse ervarings om hulle te leer hoe om beleefd te wees, hoe om te vergewe en hoe om hulle sondes te bely en te berou. Moet nooit God se vermoë onderskat om ‘n geestelike karakter vanaf ‘n baie jong ouderdom by jou kinders te ontwikkel en hulle geestelike waarhede te leer nie. Stel hulle aan Jesus voor terwyl hulle harte nog jonk en teer is. Sommige van die grootste Christene in die geskiedenis is reeds teen ‘n jong ouderdom gered. Jonathan Edwards, wie se bediening New England vir God gewerf het, is teen agt jaar oud gered. Charles Spurgeon, ‘die prins van predikers’, is op die ouderdom van twaalf gered. Matthew Henry, die groot Bybelse kommentator, is op elf gered. Timoteus was vanaf sy sewentiende jaar reeds ‘n apostel. Paulus skryf, ‘Jy is van kindsbeen af onderrig in die Heilige Skrif en dit het jou wysheid gegee om die verlossing te ontvang wat deur geloof in Christus Jesus kom.’ Ja, jou kind kan die basiese waarhede oor verlossing verstaan. Hulle kan Christus ook op ‘n vroeë ouderdom leer ken.
Sielskos: Rom 1:1-3:20; Joh 8:12-30; Ps 133; Spr 29:15-18
2017-11-09
Jesaja 5:20 NLV
Het jy geweet dat God self ook kwaad word? Die Bybel sê, ‘Die Here was diep teleurgesteld in Salomo en het kwaad geword vir hom. Alhoewel die Here twee keer aan Salomo verskyn het, het hy die Here nie meer liefgehad nie’ (1 Konings 11:9 DB). Verandering begin dikwels met geregverdige woede. Aristotel het een maal gesê, ‘Enigiemand kan kwaad word; dis maklik. Om egter vir die regte persoon kwaad te wees… tot die regte graad… op die regte tyd… vir die regte rede en op die regte manier… is nie maklik nie.’ Dit is egter moontlik! Iemand wat kwaad word is ‘n dwaas, maar ‘n persoon wat nooit kwaad word nie, het ‘n gebrek aan morele moed. Henry Ward Beecher het gesê: “‘n Man wat nie weet hoe om kwaad te wees nie, weet nie hoe om goed te wees nie. ‘n Man wat nie weet hoe om tot in sy siel geskok en verontwaardig te wees oor bose dinge nie, is of ‘n fungus of self boos.” Hier is vier dinge waaroor ons kwaad behoort te word: 1) ‘n Seksbehepte, godslasterlike film en televisie industrie wat die gedagtes van jonk en oud besoedel. 2) Lafhartige politici wat doen wat polities gerieflik is, eerder as wat moreel reg is. 3) Onreg wat aan ander gedoen word oor die kleur van hulle vel of hulle ekonomiese status. 4) Jou kinders wanneer hulle jou openlik uittart. ‘n Woord van waarskuwing egter: ‘…Moenie tot die aand toe kwaad bly [nie]’ (Efesiërs 4:26 NLV). Verduidelik dus die huisreëls duidelik, dwing die reëls konsekwent af, maar maak seker dat jou kinders weet dat jy hulle liefhet en hulle beste belange op die hart dra. Hulle mag dit dalk nie op die oomblik verstaan nie, maar hulle sal dit later waardeer.
Sielskos: Jes 63-66; Joh 8:1-11; Ps 99; Spr 29:11-14