Geregverdige woede (2)
2017-11-09Jesaja 5:20 NLV
Het jy geweet dat God self ook kwaad word? Die Bybel sê, ‘Die Here was diep teleurgesteld in Salomo en het kwaad geword vir hom. Alhoewel die Here twee keer aan Salomo verskyn het, het hy die Here nie meer liefgehad nie’ (1 Konings 11:9 DB). Verandering begin dikwels met geregverdige woede. Aristotel het een maal gesê, ‘Enigiemand kan kwaad word; dis maklik. Om egter vir die regte persoon kwaad te wees… tot die regte graad… op die regte tyd… vir die regte rede en op die regte manier… is nie maklik nie.’ Dit is egter moontlik! Iemand wat kwaad word is ‘n dwaas, maar ‘n persoon wat nooit kwaad word nie, het ‘n gebrek aan morele moed. Henry Ward Beecher het gesê: “‘n Man wat nie weet hoe om kwaad te wees nie, weet nie hoe om goed te wees nie. ‘n Man wat nie weet hoe om tot in sy siel geskok en verontwaardig te wees oor bose dinge nie, is of ‘n fungus of self boos.” Hier is vier dinge waaroor ons kwaad behoort te word: 1) ‘n Seksbehepte, godslasterlike film en televisie industrie wat die gedagtes van jonk en oud besoedel. 2) Lafhartige politici wat doen wat polities gerieflik is, eerder as wat moreel reg is. 3) Onreg wat aan ander gedoen word oor die kleur van hulle vel of hulle ekonomiese status. 4) Jou kinders wanneer hulle jou openlik uittart. ‘n Woord van waarskuwing egter: ‘…Moenie tot die aand toe kwaad bly [nie]’ (Efesiërs 4:26 NLV). Verduidelik dus die huisreëls duidelik, dwing die reëls konsekwent af, maar maak seker dat jou kinders weet dat jy hulle liefhet en hulle beste belange op die hart dra. Hulle mag dit dalk nie op die oomblik verstaan nie, maar hulle sal dit later waardeer.
Sielskos: Jes 63-66; Joh 8:1-11; Ps 99; Spr 29:11-14