Geregverdige woede (1)

2017-11-08
Efesiërs 4:26 NLV

Daar is ‘n regte en ‘n verkeerde manier om jou woede te hanteer. Moses het sy woede op die verkeerde manier hanteer en dit het hom die Beloofde Land gekos. Jesus het sy woede op die regte manier hanteer en sodoende diegene wat die armes benadeel het, ontbloot en uit die tempel uit gegooi. Jy moenie net rondloop en oor die probleem kla nie. Jy is veronderstel om iets daaraan te doen. In plaas daarvan dat almal rondom jou op hete kole moet rondloop terwyl jou woede stadig brand, kom by die kern van jou woede uit en druk dit op die regte manier uit. Die pastoor en skrywer, dr Jack Hyles, het geskryf oor sy kind wat ‘n voorgeskrewe boek op skool gekry het – een vol vuil taal en twyfelagtige situasies. Hoe meer dr Hyles die boek ondersoek het, hoe kwater het hy geword. Uiteindelik het hy na die hoof se kantoor gemarsjeer en vriendelik maar ferm gesê, ‘My seun gaan nie hierdie boek lees nie; ‘n ander boek sal aan hom voorgeskryf word om te lees en hy sal nie hiervoor gepenaliseer word nie.’ Die hoof was stomgeslaan en het met dr Hyles probeer stry, ‘Maar…’ Dr Hyles het hom onderbreek en sag maar streng gesê, ‘Geen maars nie. Hy sal nie geforseer word om hierdie boek te lees nie en ‘n ander een sal aan hom voorgeskryf word. Is dit duidelik?’ Die hoof het geantwoord, ‘Nou maar goed, dr Hyles, maar ek verstaan nie waaroor die bohaai gaan nie. Die taal in hierdie boek is nie erger as dit wat op die seunsbadkamer se mure geskryf staan nie.’ Dr Hyles het geglimlag en gesê, ‘Ja, en wanneer dit voorskrewe leeswerk word – sal ek terug wees!’

Sielskos: Jes 58-62; Joh 7:45-53; Ps 115; Spr 29:7-10

Leer om te mediteer

2017-11-07
Psalm 1:2 NLV

Skoenlappers se areas van bestuiwing is groter, maar bye maak meer heuning bymekaar. Dit is omdat die skoenlappers net oor die blomme vlieg, terwyl die by op elke blom land en lank genoeg bly om die nektar te versamel. Dit is die verskil daarin om net jou Bybel in ‘n paar gejaagde minute te lees en om die tyd te neem om oor dit wat jy lees te mediteer. Meditasie is nie iets moeiliks en geheimsinnig wat net deur kundiges en ‘geestelike mense’ beoefen kan word nie. Dit behels eenvoudig dat jy diep en aanhoudend oor ‘n Skrifgedeelte dink, dit memoriseer, dit toelaat om wortel te skiet, totdat dit ‘n lewenskrag is wat elke dag binne in jou werk. Die punt is nie hoe baie jy van die Skrif memoriseer nie, maar wat met jou in die proses daarvan gebeur. Wanneer jy oor God se Woord mediteer, verhelder jou begrip en word jou optrede gekorrigeer. Dit verryk jou denke en rus jou toe deur jou ander gedagtes te laat dink as wat jy sou terwyl jy bevoorbeeld televisie gekyk het of inkopies gedoen het. Die Psalmdigter skryf: ‘Gelukkig is die mense wat…vreugde vind in die gebooie van die Here en sy voorskrifte dag en nag oordink. Hulle is soos bome geplant langs ‘n rivier, wat vrugte dra op die regte tyd. Hulle blare verwelk nie; in alles wat hulle doen, is hulle voorspoedig’ (verse 1-3 NLV). Meditasie oor God se Woord is die geneesmiddel vir morele en geestelike swakheid; vir ‘n lewe met geen fokus nie; vir ‘n gebrek aan intimiteit met God; vir kroniese swak geloof wat veroorsaak dat jy misluk en God se beste verbeur. Maak dus jou Bybel oop, lees dit en bid, ‘Here, wat sê U hiermee vir my?’ Mediteer dan op sy antwoord.

Sielskos: Jes 53-57; Joh 7:33-44; Ps 15; Spr 29:4-6

Vrygewigheid se beloning

2017-11-06
Prediker 11:1 DB

Die Dooie See het sulke hoë mineraalkonsentrasies dat selfs mense wat nie kan swem nie, daarin kan dryf. Die enigste probleem is egter die reuk. Omdat daar geen uitlaatkleppe is nie, word enige vars water daarin vinnig besoedel. Daar is ‘n belangrike Bybelse beginsel hier aan die werk: ‘Mense wat ander iets gun, het self altyd oorvloed. Hulle wat ander se dors les, is self altyd verkwik’ (Spreuke 11:25 NLV). God het nooit beplan dat jy ‘n reservoir sal wees wat net inneem nie, maar wel ‘n rivier van seën wat na ander mense toe sal uitvloei. Die Bybel sê: ‘…Wie suinig saai, sal karig oes; wie ruimhartig saai, sal volop oes. Elkeen moet gee soos hy in sy hart besluit het, nie uit spyt of dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. En God is in staat om aan julle elke gawe in oorvloed te gee, sodat julle in elke opsig altyd van alles genoeg kan hê én ook nog oorvloedig kan wees in elke goeie werk’ (2 Korintiërs 9:6-8 NLV). As jy dus ‘n werk benodig, gaan doen vrywillige werk by die sopkombuis terwyl jy werk soek. As jy bid dat jou besigheid moet uitbrei, stort jou beste in iemand anders se besigheid en vra God om hulle te seën. Salomo skryf: ‘Waag soms ‘n kans met ‘n belegging. Wie weet, dit verras jou dalk nog eendag. Versprei dit net oor ‘n paar plekke, want ‘n mens weet nooit watter teëspoed jou nog in hierdie land kan tref nie’ (Prediker 11:1 DB). Selfs as jy nie nou dadelik ‘n spesifieke behoefte het nie, saai in elk geval ‘n saadjie van goedhartigheid. God weet wat die toekoms inhou en eendag wanneer jy dit die nodigste het, sal dit as ‘n oes na jou toe terugkom.

Sielskos: Jes 49-52; Joh 7:25-32; Ps 123; Spr 29:1-3

‘n Gebed vir selfbeheersing

2017-11-05
1 Tessalonisense 4:3 NLV

Toe God vir Adam en Eva geskep het, het Hy vir hulle gesê, ‘Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde…’ (Genesis 1:28 NLV). Dit help verduidelik hoekom seks een van ons sterkste drange is. Dit kan jou egter ook voortdryf om besluite te neem wat jou lewe opmors en jou verhoudings vernietig. Die Bybel sê: ‘Dit is God se wil… Weerhou julle van seksuele sondes… Tree op soos mense wat aan God behoort en wat sy eer soek. Moenie uit seksuele drange ‘n lewensmaat soek soos die mense wat God nie ken nie’ (1 Tessalonisense 4:3-5 NLV). Hoekom het God dit gesê? Omdat iemand gaan seerkry wanneer daar fisiese intimiteit sonder ware toewyding is. Jy moet luister na wat God oor hierdie kwessie sê. Jy moet nou luister, voor jy jou in situasies bevind waar jy in die versoeking kom om jou karakter in gevaar te stel, want teen daardie tyd is dit reeds te laat. Ons almal baklei met ons seksualiteit, veral in ‘n kultuur waar ‘seks verkoop.’ Seks is ‘n onlosmaakbare deel van ons en skuldgevoelens daaroor het ‘n manier om ons verwyderd van God te laat voel, soos niks anders kan nie. Om jou waardes te bepaal en kernreëls te vestig, het jy nodig om die volgende te bid: ‘Here, ek gaan nie toelaat dat my impulse my dikteer nie, of dat sonde my van U skei nie. Ek kies om by u standaarde te hou, om op u Gees staat te maak om my daagliks krag te gee. Ek bid ook vir krag dat indien ek wel sondig, ek die moed sal hê om vir vergifnis te vra, weer op te staan en nader aan U te beweeg.’ Dit is ‘n gebed wat God sal antwoord!

Sielskos: 2 Kon 6:1-7; Matt 14:22-33

Wees ‘n Samgar (3)

2017-11-04
Rigters 3:31 NLV

As Samgar op die feit gefokus het dat hy teen seshonderd Filistyne te staan gaan kom, sou hy heel waarskynlik opgegee het nog voordat hy begin het. Satan sal jou probeer ontmoedig en verslaan deur jou oorweldig te laat voel. Dis dan wanneer jy moet terugslaan en jou doelwit in kleiner stappe moet opbreek. Jy mag dalk nie jou verslawing, angs of anoreksia vir die res van jou lewe oorkom nie, maar met God se hulp kan jy vandag die stryd wen. Moet jou nie oor volgende week of volgende jaar bekommer nie. Kan jy versoeking vir vier-en-twintig uur oorkom? Kan jy die stryd vir een dag wen? Jy weet jy kan. Die Vyand weet dit ook. Neem dit dus een dag op ‘n slag. Ons spandeer heeltemal te veel energie deur op die einste ding te fokus wat ons nie kan beheer nie – die uitkoms. Jy sê, ‘Wat as ek weer in my slegte gewoonte verval? Wat as ek nie my doelgewig bereik of my droomwerk kry nie?’ Jesus het gesê, ‘En los môre se probleme vir die dag van môre. Van probleme het elke dag immers oorgenoeg. Leef vandag voluit vir God!’ (Matteus 6:34 DB). Die manna wat die Israeliete in die wildernis ontvang het, het op ‘n daaglikse basis, nie maandeliks of jaarliks nie, geval. God wou hê dat hulle in volle afhanklikheid van Hom lewe. God se genade, nie jou eie dade nie, is die sleutel tot sukses. Die woord vir jou vandag is: ‘die Here hou nooit op om vir ons om te gee nie. Hy bly getrou. Sy liefde het ons gespaar… ‘n Mens kan altyd op U vertrou. Elke oggend is U maar weer daar…Ek vertrou die Here, want Hy gee vir my lewe’ (Klaagliedere 3:22-24 DB).

Sielskos: Jes 45-48; Joh 7:14-24; Ps 30; Spr 28:25-28

Wees ‘n Samgar (2)

2017-11-03
Rigters 5:6 NLV

Toe Samgar sy drywerstok opgetel het en seshonderd Filistyne verslaan het, het hy besluit dat hy sou veg tot die dood. Dit is die sleutel tot verlossing, of dit nou van die Filistyne, trots, oordeel, pornografie of enige ander hardkoppige probleem in jou lewe is. Jy moet tot die aanval oor gaan. Daar kom ‘n punt wat jy sê, ‘Genoeg is genoeg.’ Jy weet dat jy nie op hierdie pad kan voortgaan nie, omdat dit verhoudingsgewys, fisies of geestelik ‘n doodloopstraat is. Dit mag jou dalk nie doodmaak nie, maar dit sal jou lewend opeet. Jy weet dat jy nie kan aanhou om te doen wat jy altyd gedoen het nie. Nie as jy fiks wil word of jou skuld wil delg nie. Nie as jy die vlam van romanse weer wil aanblaas of jou doelwit wil bereik nie. Nie as jy ‘n goeie nalatenskap wil agterlaat nie. Die goeie nuus is egter dat jy een keuse weg is van ‘n ander lewe. Jy moet egter jou drywerstok optel en daarvoor baklei. Sny jou kredietkaart op. Doen aansoek om weer te studeer. Gaan op ‘n sendingsreis. Maak ‘n afspraak met ‘n berader. William A. Lawrence het geskryf, ‘On the plains of hesitation bleach the bones of countless millions who, at the dawn of victory, sat down to wait, and waiting – died!’ Hou op om uit te stel. Hou op om ‘n perfeksionis te wees. Geestelike groei gaan oor vordering, nie perfeksie nie. Wanneer jy jou doelwitte nastreef, is jou grootste vyand traagheid. Ons het ‘n geneigdheid om aan te hou doen wat ons altyd gedoen het, met die hoop dat dinge op ‘n manier sal verander. Dit sal nie, wees dus ‘n Samgar en neem aksie!

Sielskos: Jes 42-44; Joh 7:1-13; Ps 86; Spr 28:21-24