Wees ‘n Samgar (3)

2017-11-04
Rigters 3:31 NLV

As Samgar op die feit gefokus het dat hy teen seshonderd Filistyne te staan gaan kom, sou hy heel waarskynlik opgegee het nog voordat hy begin het. Satan sal jou probeer ontmoedig en verslaan deur jou oorweldig te laat voel. Dis dan wanneer jy moet terugslaan en jou doelwit in kleiner stappe moet opbreek. Jy mag dalk nie jou verslawing, angs of anoreksia vir die res van jou lewe oorkom nie, maar met God se hulp kan jy vandag die stryd wen. Moet jou nie oor volgende week of volgende jaar bekommer nie. Kan jy versoeking vir vier-en-twintig uur oorkom? Kan jy die stryd vir een dag wen? Jy weet jy kan. Die Vyand weet dit ook. Neem dit dus een dag op ‘n slag. Ons spandeer heeltemal te veel energie deur op die einste ding te fokus wat ons nie kan beheer nie – die uitkoms. Jy sê, ‘Wat as ek weer in my slegte gewoonte verval? Wat as ek nie my doelgewig bereik of my droomwerk kry nie?’ Jesus het gesê, ‘En los môre se probleme vir die dag van môre. Van probleme het elke dag immers oorgenoeg. Leef vandag voluit vir God!’ (Matteus 6:34 DB). Die manna wat die Israeliete in die wildernis ontvang het, het op ‘n daaglikse basis, nie maandeliks of jaarliks nie, geval. God wou hê dat hulle in volle afhanklikheid van Hom lewe. God se genade, nie jou eie dade nie, is die sleutel tot sukses. Die woord vir jou vandag is: ‘die Here hou nooit op om vir ons om te gee nie. Hy bly getrou. Sy liefde het ons gespaar… ‘n Mens kan altyd op U vertrou. Elke oggend is U maar weer daar…Ek vertrou die Here, want Hy gee vir my lewe’ (Klaagliedere 3:22-24 DB).

Sielskos: Jes 45-48; Joh 7:14-24; Ps 30; Spr 28:25-28