Vrygewigheid se beloning

2017-11-06
Prediker 11:1 DB

Die Dooie See het sulke hoë mineraalkonsentrasies dat selfs mense wat nie kan swem nie, daarin kan dryf. Die enigste probleem is egter die reuk. Omdat daar geen uitlaatkleppe is nie, word enige vars water daarin vinnig besoedel. Daar is ‘n belangrike Bybelse beginsel hier aan die werk: ‘Mense wat ander iets gun, het self altyd oorvloed. Hulle wat ander se dors les, is self altyd verkwik’ (Spreuke 11:25 NLV). God het nooit beplan dat jy ‘n reservoir sal wees wat net inneem nie, maar wel ‘n rivier van seën wat na ander mense toe sal uitvloei. Die Bybel sê: ‘…Wie suinig saai, sal karig oes; wie ruimhartig saai, sal volop oes. Elkeen moet gee soos hy in sy hart besluit het, nie uit spyt of dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. En God is in staat om aan julle elke gawe in oorvloed te gee, sodat julle in elke opsig altyd van alles genoeg kan hê én ook nog oorvloedig kan wees in elke goeie werk’ (2 Korintiërs 9:6-8 NLV). As jy dus ‘n werk benodig, gaan doen vrywillige werk by die sopkombuis terwyl jy werk soek. As jy bid dat jou besigheid moet uitbrei, stort jou beste in iemand anders se besigheid en vra God om hulle te seën. Salomo skryf: ‘Waag soms ‘n kans met ‘n belegging. Wie weet, dit verras jou dalk nog eendag. Versprei dit net oor ‘n paar plekke, want ‘n mens weet nooit watter teëspoed jou nog in hierdie land kan tref nie’ (Prediker 11:1 DB). Selfs as jy nie nou dadelik ‘n spesifieke behoefte het nie, saai in elk geval ‘n saadjie van goedhartigheid. God weet wat die toekoms inhou en eendag wanneer jy dit die nodigste het, sal dit as ‘n oes na jou toe terugkom.

Sielskos: Jes 49-52; Joh 7:25-32; Ps 123; Spr 29:1-3